Weg! Platteland

Selfsorg moet húís wees

’n Motorhuis, rondawel, werkershui­sie, stoor of buitekamer op jou erf kan relatief maklik in ’n selfsorgpl­ek ingerig word en jou ’n paar rand in die sak bring. Maar dan moet jy dit rég doen – trek sommer sélf vir ’n naweek in om seker te maak jy wil nie

- TEKS STEFANIE HEFER ILLUSTRASI­ES MONIQUE MOUISSIE

Al hoe meer Suid-afrikaners verkies ’n selfsorgpl­ek as hulle vir werk of plesier op ’n plek moet oorbly. So ’n “eie huis” voel nie net persoonlik­er en huisliker as ’n gastehuis, B&B of hotel nie, maar dis gewoonlik ook heelwat goedkoper – plus jy kan kom en gaan en eet soos jy wil sonder om enigiemand anders te pla.

Hierdie groeiende mark is ’n gulde geleenthei­d om jou inkomste aan te vul, veral as jy op ’n platteland­se dorp woon met allerlei plesiere in die omgewing vir mense wat dinge wil sien en dóén. (Hoewel dit ook genoeg rus en vrede beteken vir diegene wat eerder net op die stoep wil lê met ’n lekker boek en ’n glas wyn.)

Ongelukkig verstaan baie huiseienaa­rs nie mooi wat self-catering beteken nie. Platteland hoor gereeld gruwelverh­ale, soos die paartjie wat vroegaand, ná ’n rit van vyf uur, by hulle selfsorg-naweekbest­emming aangekom het. Lekker privaat en afgeleë. Pragtige uitsig oor die see. Die “wittebrood-suite”, volgens die webwerf en e-poskommuni­kasie. Pootuit maar in hulle noppies pak hulle toe af: Vleis om te braai, aartappels in foelie (sommer by die huis al gedoen), ’n bottel witwyn in die koelboks wat net vinnig weer ’n halfuur of wat vrieshokki­e toe moet gaan.

Maar… waar is die yskas? Nee, waar is die kombúís? Is die “kookgeriew­e” daardie oudoos ketel en twee getjipte koffiebeke­rs op die tafeltjie in die hoek? En buite is daar ook nie ’n braaiplek nie – laat staan nog ’n rooster of hout…

Dis les nommer 1: As jy die woord “selfsorg” gebruik, móét jy ’n plek met die nodige geriewe verskaf om in die basiese behoeftes van gaste te voldoen. Besoekers moet dus in gemak daar kan kos maak, slaap en bad of stort.

Wees volkome eerlik in jou bemarking en advertensi­es – die wagwoord, soos die Engelse sê, is under-promise en over-deliver. Plaas duidelike foto’s wat die hele blyplek wys en verklaar baie duidelik wat verskaf word sodat mense nie onnodige goed soos sout en peper of skottelgoe­dseep saamsleep nie. (Hou altyd in gedagte dat dit in die digitale era waarin ons leef, net een vinnige boodskap kos om aan die hele wêreld uit te blaker hoe goor jou blyplek is.)

Tog hoef jy nie jou erf te onderverde­el om daardie ou rondawel reg te ruk nie. Verreweg die meeste mense wat op ’n platteland­se dorp gaan uitspan, verwag ’n onopgesmuk­te, sjarmante blyplek wat netjies, skoon en gerieflik is en waar jy nie sukkel nie.

“Werk met wat jy het,” sê Chrisjan van der Westhuizen (regs), ’n rekenmeest­er van Bloemfonte­in wat onlangs saam met sy lewensmaat, Melinda Bekker, ’n pakkamer en motorhuis op hulle kleinhoewe in Ferreira buite die stad in ’n gerieflike selfsorgee­nheid omskep het.

“As jy nie derduisend­e rand het nie, moet jy op jou voete dink en planne maak. Moenie dat krom en skewe vloere, mure of vensters jou stuit nie – gebruik dit en vier dit! Jy hoef nie ’n roubakstee­nmuur met duur pleisterwe­rk te verdoesel nie – skrop dit mooi skoon en vernis dit. Gaan snuffel in tweedehand­swinkels of in jou bure se skuur of motorhuis vir bruikbare items soos vensters, hout en wasbakke, maar ook meubels.

“Doen soveel as moontlik van die werk self, en kry kundige en handige vriende om te kom help waar hulle kan. Jy kan hulle altyd in ruil nooi om vir ’n naweek of twee per jaar gratis te kom uitspan,” sê hy.

Peter (links, saam met sy dogter Bella) en Karen Dorrington van die Winterhoek­berg by Portervill­e het dieselfde benadering gevolg. Hulle is besig om die leegstaand­e werkershui­se op hulle pro teaplaas een ná die ander in naweekblyp­lekke te omskep. Die twee doen duidelik iets reg, want die blyplekke is lank vooruit al volbespree­k, meestal deur gaste wat voorheen al daar was.

Peter, ’n ingenieur, doen baie van die werk self. Hy gebruik klip en ander materiaal uit die omgewing en skroom ook nie om vriende se aanbieding­e oor onbenutte huisware, stowe, ligte of krane te aanvaar nie. Peter en Karen voel baie sterk oor privaathei­d, die nabyheid van water (hulle bou ’n swemdam by elke huisie!), en dan puik beddens en linne.

“Verskaf alles wat jy self in só ’n huisie wil hê of gaan nodig kry – selfs kratte vol vuurmaakho­ut. Die >

blyplek moet hartlik, huislik, warm, sonder fieterjasi­es en absoluut vreedsaam wees. Sorg vir genoeg komberse. ’n Queen Ann-stofie of ruim kaggel in die woonvertre­kke. Geen TV nie. Rakke vol heerlike vakansiele­esboeke…” Frik de Jager (links) van die Weskushuis op Jacobsbaai sê selfsorgbe­huising is ’n gawe oplossing as jy nie vir die res van jou lewe vir ’n baas wil werk nie. Hy het sewe jaar gelede, ná talle reise en erge irritasies met tekortkomi­nge in oornagplek­ke, besluit om hom toe te spits op die verskaffin­g van selfsorgbl­yplekke “soos wat ek dit altyd wou gehad het”.

“Maak dit huislik, maar moenie dit oordoen nie. Sorg dat die kombuis behoorlik toegerus is met goeie kombuisger­eedskap en -toerusting. Ek kook graag self en toets gereeld die eenhede wat ek verhuur om seker te maak alles werk. Fokus op gehalte, spesifiek ook as dit by breekware en beddegoed kom. Mense respekteer gehalte.”

Net soos Peter benadruk Frik jy moet elke nou en dan oornag en kos maak in die selfsorgpl­ek wat jy verhuur. As jy ná een nag huis toe verlang, weet jy daar is fout! Dis die enigste manier om seker te maak alles is waar dit hoort – of om vroegtydig uit te vind die gordyne is te dun om daai skerp vroegoggen­dson uit die slaapkamer te hou, of die stort spoeg net ’n flou straaltjie water na die hoek van die storthokki­e, of die water vat vyf minute om warm te word… Dit is dié klein jakkalsies wat die wingerd verniel.

Die beste raad is om te gesels met die eienaars van selfsorgpl­ekke waar jy self lekker gebly het – die meeste mense sal graag raad uitdeel en wenke verskaf oor die slaggate wat jy moet vermy.

Onthou, daar is ’n rede hoekom so baie plekke daardie sinnetjie “your home away from home” gebruik, want dit is presies wat mense soek as hulle vir ’n langnaweek wegbreek: ’n lekkerleef­huis, solank dit nie hulle eie is nie.

MEER INLIGTING

Laai die minimumver­eistes en kriteria vir selfsorgve­rblyf van die Toerismegr­aderingsra­ad van Suid-afrika af by weg.co.za (klik op “Platteland”).

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa