Die beste plek en grond
Plant aartappels in volson en in grond wat behoorlik met goed verrotte kompos of kraalmis verryk is (bly ver weg van vars kraalmis). Werk Talborne Organics se Bonephos en Vita Fruit and Flower by die grond in om ’n goeie oes te verseker.
’n Groeiseisoen van minstens vier maande is nodig. Jy sal op Kersdag kan weglê aan die aartappelmoere wat jy vroeg in September geplant het, en as jy besluit om die moere eers in Januarie of Februarie te plant, sal jy tot diep in die winter nog kan oes.
Aartappels en tamaties sit glad nie om dieselfde vuur nie. As jy dié “aartsvyande” saam plant, sal jy uiteindelik sit met klein, harde, glasige aartappels en tamaties wat nie behoorlik ryp word nie. Komkommers, boontjies, ertjies en kappertjies is egter gawe bure: die boontjies en ertjies sal genoeg stikstof in die grond bind, terwyl kappertjies met hulle skerp, peperige blare insekte weghou.