Weg! Platteland

Ons en ons diere...

-

Is jy iemand wat maklik gou by die Spar indraf en ’n pakkie vleis koop, maar gewalg voel as iemand hulle “troetelhoe­nder” slag? Vir moderne mense raak dit ál moeiliker om ’n onderskeid te tref tussen plaas- en troeteldie­re. In die veilige kokon wat ons “huis” noem, raak ons só lief vir ons kat of hond (of papegaai of perd of marmot) dat party van ons letterlik naar word as iemand hulle troeteldie­re verwaarloo­s of mishandel – of, behoede ons, eet. Ook as iemand ’n bok of kameelperd of leeu skiet en glimlaggen­d by die karkas poseer. (Ewe ontstellen­d is die groeiende groep mense wat oor dié en ander dinge gal spoeg op sosiale media en meen hulle verander die wêreld.)

Toe Platteland twee jaar gelede gebore is, het ons geweet ons gaan in elke uitgawe ’n artikel oor diere doen, en ná ’n lang bespreking is besluit die diere in die tydskrif gaan altyd “troeteldie­re” – “soos kinders in die huis” – wees.

Nou ja, ons weet die mens het van die vroegste tye af interaksie met diere. Party van hierdie diere het hordes van ons verskeur en ons moes vinnig planne beraam om te oorleef. Uiteindeli­k het ons almal dolgelukki­ge jagtervers­amelaars geword tot die landbou soos ons dit vandag ken, 12 000 jaar gelede ontstaan en party van ons in “boere” verander het.

Of ons dit wil weet of nie: Eens op ’n tyd het mense op ’n daaglikse basis diere nie net gevoer en versorg nie, maar hulle ook self geslag en geëet. Dit was die normale gang van die lewe en allermins die etiese doolhof wat dit vandag geword het.

Lees dus asseblief ons storie op bl. 62 oor ’n jong egpaar wat hulle eie spannetjie hoenders gekry het om hulle van eiers te voorsien, en toe die moeilike besluit geneem het om sélf iets omtrent die ekstra haantjies te doen pleks daarvan om die oë toe te knyp en hulle township toe te stuur net sodat die bloed nie aan hulle eie hande is nie.

Ons hoor graag wat jou mening oor dié sensitiewe saak is.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa