Laat ’n mens dink
Die verval wat op baie dorpe te sien is, het vroeër begin as wat ’n mens dink, sê Albertus van Wyk. Maar, meen hy, daar ís hoop.
Die platteland is nié die hemel nie, sê Albertus van Wyk
Ek woon die grootste deel van my lewe – die afgelope 26 jaar al – in of naby ’n stad, maar die eerste 18 jaar het ek op die platteland gebly. Soms verlang ek intens na daardie oop ruimte en stilte van die oostelike Hoëveld.
Een slag toe ek so verlang, het ek by ’n Facebook-groep vir inwoners van my eerste tuisdorp aangesluit. Maar ek het die groep spoedig verlaat, want dit was net nog ’n plek in die kuberruim waar mense mekaar op die mees bedenklike manier takel. Jong wit mense, nostalgies oor die dorp soos dit was, het swart mense geblameer vir die agteruitgang. “Alles wat ons opgebou het, het julle net weer afgebreek,” was die trant van die meer gematigde beskuldigings.
Die dorp is skaars 30 km anderkant die laaste uitgestrekte woonbuurte van die verre Oos-rand, “op die ou Durbanpad”, soos mense daar beduie. Dis mieliewêreld en beeswêreld. Op snerpende wintersoggende, op lande met droë geel oesreste en in modderige dongas, staan die stoom op die vel van taai drakensberger- en ngunibeeste. Van die eertydse melkerye met vet holsteinkoeie is weinig oor. Vervoerkoste het hulle gekelder – dis te ver van die stad af.
Skape bespikkel dekades al nie meer die stoppellande nie. Hier noem hulle dit “take aways”: ’n Behendige skaapdief laai binne 20 minute ’n minibus vol karkasse, keelafgesny en uitgebloei.
DIS WAAR DAT DIE DORP agteruitgegaan het, soos baie ander in die ou Transvaal en Vrystaat, veral op maniere wat vir middelklasmense saak maak. Die roostuin voor die polisiestasie en die twee groot palms voor die poskantoor het verdwyn. Die dorp het nie meer ’n Griekse bakkery-en-teekamer nie. In Stasiestraat waar die Indiërwinkels is, is daar nie meer vier lapwinkels en ’n fietswinkel waar jy enigiets van trompies en niespoeier tot Okapi-messe kan koop nie.
Waar daar ’n wilgewoud voor die biblioteek was met ’n fontein en die onver- mydelike sementstandbeeldjie van ’n seun wat staan en piepie, het ’n chaotiese taxistaanplek spontaan ontstaan. Op die uitgetrapte aarde is daar nie meer ’n boom in sig nie. Die biblioteek self is iets van die verlede, en waar die dorpstennisbane was waarop oom Piet en tant Rita Kotzé elke Woensdagmiddag ’n paar potte gespeel het, staan in die rooigras net ’n paar geroeste pale soos ’n ou man se hare.
Op Saterdae is dit ’n besige plek, met mense en taxi’s wat maal buite die drankwinkel en Indiër-kleinhandelaars. Deesdae is dit veel meer Afrika-handelspos as Engelse village. Die teerpaaie is vol slaggate en die swartgebrande oop erwe lê besaai met rommel.
’n Mens moet darem ook eerlik wees en nie alles wat toeka gebeur het, idealiseer nie. Ons is almal soms geneig om te glo die hemel is op die platteland.
Die idee dat alles mooier, natuurliker en heilsamer is buite die stede, is niks nuuts nie. In die Renaissance al is die verteller in die sogenaamde pastorale gedigte gewoonlik ’n skaapwagter onder ’n olyfboom met ’n bladsak vol brood, wyn en kaas, iemand wat die reinheid en heilsame opbrengs van die natuur besing. En gewoonlik ook die reinheid en potensiële opbrengs van die diensmeisies onder die naburige olyfboom.
My tuisdorp was ook nie destyds, voor die agteruitgang, ’n knus en oulike plattelandse enklave waar gegoede stadsmense oor naweke uitspan en makoue laatmiddag pik-pik in die hoofstraat afwaggel onder begeleiding van klingelende melkemmers nie. Dit was ’n stowwerige plaasdorp met ’n koöperasie, ’n lorriestaanplek, ’n eensterhotel vir rondreisende smouse en ’n fabrieksgrootte slagpale wat soms ’n klankie oor die dorp laat hang het. “Hulle brand al weer bloed,” het die mense gesê.
Ons het al die vryhede en avonture van kleindorpse kinders gehad. Ek en my maters het ná skool die dorp op ons fietse ingevaar en eers teen sononder huis gekry. Elke huis was op ’n erf van ’n halwe akker, en op elke erf was ’n vrugteboord. Ons het duiwe geskiet met ’n kettie en mekaar se oë amper uitgegooi met kleilat. Ons het kaalgat in damme geswem, ghieliemientjies in afgesnyde Cokebottels in die Blesbokspruit gevang en teen lewensgevaarlike foefieslaaids afgeneuk. En ja, ons het perskes, appelkose en catawba-druiwe by die pastorie gesteel en in kussingslope gestop, wat in my geval nie sin gemaak het nie, want my pa was die dominee.
AS ’N MENS DIE GESKIEDENIS lees, besef jy ondanks die korrupsie en onbeholpenheid van die ANC se dorpsrade en munisipaliteite kan hulle nie alleen die blaam kry vir die agteruitgang nie. Toe ek in die jare sewentig ’n kind was, was daar by die dertig groot boere in my pa se gemeente. Maar hulle het een ná die ander uitgeboer soos boerdery wêreldwyd minder winsgewend geraak het. Ek onthou goed hoe die Isuzu- en Hiluxbakkies in die verwoestende droogte van 1983 en die jare daarna voor die kroeg van die hotel in die hoofstraat gestaan het. As ons verbyry in ons Volkswagen Kewer, sou my ma gedemp vir my pa sê: “Andries se bakkie. Hy ook nou...”
Teen 1994 was minder as die helfte van daardie dertig boere oor. En toe, in 1996, onder die leiding van Derek Hanekom, destydse minister van landbou en grondsake, en die landbouekonoom prof. Eckart Kassier, is al die
bemarkingsrade afgeskaf – die Mielieraad, die Koringraad, die Vleisraad, die Suiwelraad en nog ’n paar ander. Wat dit beteken het, was dat boere nie meer beskerm is nie, dat die staat nie meer vasgestelde pryse vir hulle produkte gewaarborg het nie, en dat hulle hulle eie kopers moes gaan soek. Hulle moes in die ope mark meeding.
In 2007, toe my pa aftree, was daar net ses groot boere in sy gemeente oor.
Op baie dorpe was dit dieselfde: Namate plaaswerkers van mislukte plase af getrek en boere hulle plaaswerkers verminder het om te oorleef, het die plakkerskampe aan die buitewyke van die townships gegroei. Kleinhandelaars, klerewinkels, vulstasies en koöperasies het toegemaak. Munisipaliteite se inkomste het erg gekrimp. Niks hiervan het enigiets te doen gehad met die onbeholpenheid van swart stadsrade nie.
EK IS BAIE LIEF VIR DIE MENSE van die platteland. Ek sal egter nooit kan teruggaan na die plek waar ek vandaan kom nie. Dit maak my nie hartseer nie, want ek het deur die jare leer verstaan dat ek grootgeword het in die ideaal om ’n stukkie van Europa hier op die Afrikaveld te vestig: selfversorgende boerderygemeenskappe met elke 30 km of wat ’n dorp met ’n klein regering, ’n landdros, ’n polisiestasie, skole en kerke. Dit was nooit realisties nie. Veral nie vir die duisende kommunale swart boere wat in 1913 hulle grond verloor het nie. Boonop boer ons in Suidafrika op ’n halfwoestyn, en baie kenners reken ons moes nooit mielies, sorghum, sonneblom en koring hier geplant het nie.
Ek is nie terneergedruk oor die platteland nie, al is daar baie armoede en ellende. Oor naweke en in vakansies vat ons gesin die pad met ons toegeruste ou kampeerbakkie, meestal sonder ’n plan. Ek sien baie nuwe swart boere wat met Isuzus rondry. Ek sien nuwe besighede wat deur boervroue begin is – donsfabrieke, padstalle en konfytbedrywe. Ek sien baie mense wat geld maak uit toerisme. Soms kry jy nog ’n netjiese munisipale woonwapark, soms slaap jy in ’n grot wat ’n boer mooigemaak het en soms slaap jy in ’n idilliese wildtuin.
Daar is baie om oor bedruk te wees in die platteland, maar ek sien ’n nuwe soort gemeenskap ontstaan wat die korrupsie en onbeholpenheid sal oorleef. Waar die mense met gesonde verstand uit alle gemeenskappe mekaar vind.
‘Ek is nie terneergedruk oor die platteland nie, al is daar baie armoede en ellende. Ek sien baie nuwe swart boere wat met Isuzus rondry. Ek sien nuwe besighede wat deur boervroue begin is.’