Weg! Platteland

Platbrood met druiwe en bloukaas

-

Genoeg vir 4 Bereidings­tyd 30 minute Gaarmaakty­d 20 minute

Hierdie maklike platbrood sal goed werk met drankies as jou boekklub byvoorbeel­d vergader. As jy nie van bloukaas hou nie, sal amper enige kaas – of selfs stukkies van verskeie kase, soos raclette, gruyère, camembert en feta – lekker wees.

Jy benodig

• 2 koppies (500 ml) broodmeel

• 10 g kitsgis

• 1 eetlepel (15 ml) soutvlokki­es

• 1 koppie (250 ml) louwarm water

• 3 eetlepels (45 ml) olyfolie

• 1 koppie (250 ml) druiwekorr­els

• 1 rooiui of 2-3 salotte,

in papierdun skyfies gesny

• 100 g romerige bloukaas

• 1 pak (80 g) roketblare

Só maak jy

Meng die meel, gis en 1 teelepel (5 ml) van die soutvlokki­es. Voeg die louwarm water en 1 eetlepel olyfolie by, meng alles deeglik saam en knie dit dan vir 10 minute. Sit plastiek oor en laat die deeg vir 2 uur op ’n warm plek rys tot dit in volume verdubbel het. Knie die deeg af. Nou kan jy dit in die yskas los sodat dit stadig oornag weer kan rys – dit sorg vir ’n ryker geur. (Onthou net om dit ’n uur of twee voordat jy dit wil bak, uit die yskas te haal.)

Verhit die oond tot 200 ºc. Rol die deeg met ’n koekroller so groot as moontlik uit of rek en trek dit met jou vingers. Sit die deegvel op ’n oondplaat en rek dit verder uit. Druk met jou vingers holtes in die deeg. Druk die druiwekorr­els orals in die deeg in. Sprinkel die uie bo-oor, gevolg deur die bloukaas. Sprinkel die res van die soutvlokki­es en die olyfolie bo-oor. Gooi ’n skoon vadoek oor en laat die deeg vir 30 minute rys. Sit die platbrood in die oond en bak dit vir 15-20 minute. Sprinkel die roketblare bo-oor en sit dit warm voor.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa