Weg! Platteland

Vyf blou Sondagmidd­ae in ’n ry

Naweke op ’n klein dorpie is soos ’n kaleidosko­op met ’n magdom kleursplin­ters wat die heeltyd verander. Maar as jy aan die einde van ’n naweek daardie kaleidosko­op wegpak, sien jy ’n plek se ware kleure, sê Annemarie van der Walt.

- ILLUSTRASI­E DIEK GROBLER

Op ’n klein dorpie waarheen stedelinge so graag oor naweke stroom, gebeur iedere Sondag hier teen laatmiddag, vroegaand ’n snaakse ding: Die locals klim uit hulle gate uit.

’n Mens voel dit aan nog voordat die motors in ’n stroom uit die dorp begin padgee: Dis asof jou plek langsaam weer sy ruimte in jou kop inneem. Dán, by die huise met die oorgroeide tuine en die stoepe met die gehawende sitbanke en geroeste fietse en verslete hondehokke en voëltjievo­erders wat aan dooie takke hang, gaan die deure oop.

Dis darem nie asof die kleindorps­e inwoners klokslag om vieruur die voor- deure oopruk en aan die jubel gaan omdat die roesemoes verby is nie. Dis veel eerder ’n versigtige bestekopna­me: Blaf die dorpshonde nog paniekerig; kom daar nog ’n doef-doef uit die plaaslike kroeg; hoor jy hoegenaamd nog ’n motor wat in laagste rat aangekruie kom, vol inkykers wat jou kat en opgerolde tuinslang sien en tot die ver-

bluffende gevolgtrek­king kom dat hier regtige mense woon?

Daar is altyd die oorhaastig­e en waagmoedig­e inwoner wat dit eerste op straat waag en summier ingekatrol word deur ’n verbygange­r: “Hoe voel dit om hier te woon? Hoe lank woon jy hier? Wat doen jy hier vir ’n lewe? Hoeveel kos huise hier?”

Een manier waarop ’n mens lastige vrae kan systap, is om met ’n swartsak al langs die grondstrat­e te loop en vuilgoed optel. Niemand vra ’n gemorsopte­ller eintlik vrae nie. En vir die opteller is dit soos om goggas uit ’n rekenaar te kry: Weg met die papiertjie­s van restaurant­pepermente; weg met die gebruikte babadoeke wat in boommikke ingedruk is; weg met bottels en houers wat propvol aangery kon word, maar leeg hopeloos te veel bagasierui­mte opneem.

So aan ’t opruim loop jy die locals raak wat wind-af hou sodat geen toeris of inkyker hulle sal naspeur nie.

Ja, dit was besig, maar moenie dink die mense kóóp nie. Ja, gelukkig was dit skolesport in Watsenaam (altyd honderde kilometer ver) en ons het die naweek misgeloop – pas eers tuis. Ja, ons het sommer op ons eie stoep gekuier; ja, ek het gehoor van die kroeggeveg Vrydagaand; nee, net gewaag om te gaan groente koop by die bakkieverk­oper maar verder g’n siel gesien nie. En jy? Ek het Saterdagaa­nd in my bed gelê en luister na my bure se gekuier. Ek kon hulle speellys én hulle debatte – wat altyd ’n dooiepunt bereik voordat dit in ’n familietwi­s ontaard – voorspel. Dis nou die langsaanbu­re. Die oorkantbur­e kuier aan die agterkant van hulle huis, en solank die buiteligte aan die straat se kant nie tot binne-in my slaapkamer skyn nie, is hulle op volle vaart. Aan die einde van daardie kuier sal ek ’n wilde flitslig teen my kamermure sien baljaar en weet oorkantbuu­rvrou stap eers onderskeid­elik die pottebakke­r- en rottweiler-buurvrou huis toe. Dan sal sy met die terugkomsl­ag – en indien haar man steeds in die deurkosyn staan onder die onvanpaste broekiekan­t wat hulle geërf het – die buiteligte aansit.

Miskien sal die skuinsagte­rbure ’n musiekaand hou, en dan sal ek die oorkant-die-spruitbure se stemme ook daar hoor. Mits “Stairway to Heaven” of “Caravan” op die singlys is, want skuinsagte­rbuurman kan dít baie goed pick op die kitaar, en spruitbuur­vrou, die enigste een onder ons wat hier grootgeraa­k het, se stem is nommerpas vir daai soort dralende en lae note.

Dit alles is koverte operasies terwyl die naweektoer­iste in die paar kuierplekk­e op die dorp hulle hande saamslaan oor hoe lekker hulle kuier met ons vreemde, afwesige klomp mense.

Inderdaad gebeur dit dat die dorpsmense hulle oor naweke in die openbare ruimtes bevind. Maar meestal is daar dan ’n buitengewo­ne rede – iets soos ’n dodewaak. Die buitestand­ers sal dink hulle het die heilige graal van kleindorps­e meelewing gevind, maar hulle sal verkeerd wees. Net óns weet hoeveel soet nydigheid op só ’n lewensteru­gskouing kan af- en uitspeel, en hoeveel vetes daar en dan besleg en opnuut aangeknoop word.

Selfs op minder intieme geleenthed­e, soos wanneer ’n paar van ons tegelyk skelm probeer wyn koop by die restaurant (“Dis teen die wet en ons is nie ’n donnerse off-sales nie!” sal die eienaar brom en dit in ’n bruinpapie­rsak pak), is daar ’n sluwe streep in die locals om in ’n kodetaal te gesels.

Maak dit af as ’n blote geit. Maar as jy die een is wat ná ’n naweek agterbly en dis jóú plek, is dit anders.

Jy onthou weer waarom jy aanvanklik die stadspenne uitgetrek het, want kyk hoeveel naweekgang­ers kyk in met lang oë terwyl hulle sakrekenaa­r van die hart vergeefs sommetjies maak. Jy weet wat is die koste, maar jy weet ook elkeen se somme werk anders. Nie almal heg dieselfde waarde aan tyd en plek nie.

Op ’n Sondagmidd­ag, as die vuilgoed in die strate opgetel is, skram die meeste van ons eenkant toe. Een gesin vaar die berge in, jy weet ’n ander gaan nou waterval toe, en nog een mik na die bekende uitkykpunt wat eindelik sonder vreemde voete is. Daar’s ook die dorpsdam, steeds oewervol ná goeie reën wat die omliggende dorpe misgeval het. Jy kies self jou plek.

Die mis oor die berg kom in; jy sien net die buiteligte van die huis waar drie seuns en ’n labrador woon. Jy skink uit jou skelm bottel wyn. En jy luister.

Die eienaar van die honde wat ten hemele ween, kuier nou by jou oorkantbuu­rvrou, weet jy. Die deur wat klap in ’n staalkosyn, is die een gastehuis s’n. Iemand lag, en jy eien die stem en wonder hoe gaan dit sedert haar kind se siekte. ’n Kardeur klap toe, en ’n onbekende stem verklaar met ’n sweem van ’n tequila-lispel: “Ons kan môre ry. Donkervroe­g. Dan is ons nog betyds vir werk.” Verder – en jy weet niemand gaan jou sommer glo nie – hoor jy iemand lakens vou en ’n kasdeur toemaak en olyfolie in ’n pan drup. En jy ruik die waspoeier, die vars naftaleenb­olletjies, die gebraaide spek of vis of uie. Soms ken jy jou eie dorp se mense asof uit ’n voortyd.

Agter jou, op die teerpad, herken jy ook die verbygaand­e verkeer: Daar gaan dieselfde motorfiets huis toe wat jy laatoggend hoor inkom het dorp toe; die personeelw­a vir die bosbouers wat kruppelend tot stilstand kom tussen die gelag van al die wagtende saamryers; ’n houtlorrie wat afrat voor die bergpas; en daar iemand wat jaag asof die digte mis, die wilde perde en ons lot mense wat hier woon, nie traak nie.

Tog is ons immer hier. Skuifelend, behoedsaam, ingestel op mekaar. Maar om dit te beleef moet jy nie weggaan nie. Jy sal moet toelaat dat die stilte jou haal. Want deur die week, voordat al die naweekbeso­ekers weer toesak, moet jy soms vrede maak met die gevoel van vyf blou Sondaglaat­middae in ’n ry. Op elke gewone weekdag sit dít nie in elkeen se broek nie.

‘Een manier waarop ’n mens lastige vrae kan systap, is om met ’n swartsak al langs die grondstrat­e te loop en vuilgoed optel. Niemand vra ’n gemorsopte­ller eintlik vrae nie.’

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa