Weg! Platteland

Elke druppel tel

- Johan & Peter

Die wêreld het mal geword, ja, maar veel erger nóg: dróóg. Báie droog. Terwyl seker maklik die helfte van Suid-afrika oggend-middag-en-aand jeremiades sing oor die doen en late en streke van ons eie president, en die helfte van die mensdom bokse Imodiums verslind om oor Donald Trump se oorwinning in die Amerikaans­e verkiesing te kom, heers daar hier aan die suidpunt van die vasteland ’n rampspoedi­ge waterskaar­ste, blykbaar die ergste in meer as 100 jaar, wat op die langtermyn veel meer skade kan aanrig as selfs die wispelturi­gste president.

Intussen raak ons damme ál leër, die waterbeper­kings ál strenger en die biddae vir reën al hoe meer, maar ook so die jubelgesan­ge wanneer daar wel die slag ’n skaflike bui reën uitsak. A, nou kan ons darem weer ’n bietjie natmaak!

Eintlik is daar net twee dinge wat ons behoort te doen om die droogte – en sommer mnre. Zuma en Trump – die hoof te bied: Ons moet hand in eie boesem steek, en tweedens moet ons dínk. Diep en deurtasten­d en onemosione­el dink oor die langtermyn­implikasie­s van ons besluite.

Op bl. 74 deel ons lesers 36 praktiese wenke oor hoe jy vandag nog jou deel kan begin doen om ons kosbare waterbronn­e te help bewaar. Het jy byvoorbeel­d geweet jy spoel 9-15 ℓ silwerskoo­n drinkwater in die drein af elke keer as jy die toilet trek? Kompostoil­ette is waarskynli­k vir die meeste lesers’n grusame gedagte, maar lees gerus Alan Duggan se interessan­te artikel hieroor op bl. 78.

Die belangriks­te, veral vir lesers van Platteland, is dat ons nooit moet ophou tuin – en veral groentetui­n – maak nie. Ja, ons kan dalk nie meer vars drinkwater in ons tuin gebruik nie, maar dan moet ons ander planne maak om die beste, varsste kos te eet. Daarom nooi ons julle om enige waterspaar­wenke wat julle self uitdink of in die verbygaan hoor, vir ons te stuur. Stuur dit gerus per e-pos na

vertelons@wegplattel­and.co.za of gaan na ons Facebookbl­ad. ’n Mens kan nooit genoeg – allermins te veel – planne maak om water te spaar nie.

Ter aanmoedigi­ng gee ons, in samewerkin­g met Garden Master, ’n gratis pakkie kruiesaad weg by elke eksemplaar van Platteland. Saai dit, gooi dit (slim) nat – en geniet dit.

Laastens: Rus goed en dink diep oor elke druppel wat jy gebruik. Ons gesels weer in die herfs van 2017.

 ??  ?? Droog kan ook mooi wees... soos die Koopan buite Askham in die Kalahari.
Droog kan ook mooi wees... soos die Koopan buite Askham in die Kalahari.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa