Laat ’n mens dink
Watter lesse leer ons uit die waterkrisis?
Terwyl ons hier skryf, het Kaapstad uiteindelik wakker geskrik en besef die kans is goed dat daar nie genoeg water in die damme sal wees om die munisipale pype aan die gang te hou nie – nie voor die winter se reën val nie. Dis al waaroor mense praat; jy vóél die paniek.
As elkeen hulle waterverbruik tot onder 50 ℓ per dag kan beperk, kan ons “Dag Zero” vermy (teen druktyd 11 Mei). Die kanse dat aanvullende noodvoorraad en vroeë winterreën ons bas gaan red, is skraal. Die toewysing aan die landbousektor uit damme wat die stad se water voorsien, is reeds gesny.
Noodsaaklike waterbesparing hang af van ingrypende gedragsverandering. Gedurende die Australiese droogte van 2000 tot 2010 was die laagste verbruik 129 ℓ per persoon per dag. Meer as die helfte van Kaapstad se inwoners kry dit reg om onder die perk van 50 ℓ te bly. Ons is gefikseer op watermeters, laat net ’n klein stroompie uit die kraan loop, stort net ’n minuut lank met ’n plastiekskottel onder ons voete, en gebruik wasmasjienwater om ons toilette te spoel. Maar die nodige waterbeperkings het hopeloos te laat gekom en nie almal steur hulle daaraan nie.
Binne enkele maande gaan die stad dalk water moet uitdeel by 200 punte – net 25 ℓ per persoon per dag.
DIE GROTER PRENTJIE
Natuurlik blameer mense mekaar oor en weer vir die situasie. In Kaapstad wys die vingers na die regering wat nie voorsiening gemaak het vir die bevolking wat sedert 1995 verdubbel het nie, maar die waarheid is dat daar nie meer groot riviere ís wat opgedam kan word nie. Ons riviere word reeds oorgebruik, misbruik en verswak. Dit sou kortsigtig wees om hulle vermoë verder te skaad om water skoon te hou en besmetting te verwyder, vloede te versag, in riviermondings broeiplek te verskaf, en water reg oor die landskap te verskaf. En wat oppervlakwater betref, is daar geen vinnige of maklike oplossings nie.
Die Stad Kaapstad raam dit sal R15 miljard kos om ontsoutingsaanlegte te bou wat 450 megaliter per dag lewer. Voeg daarby instandhoudingsen energiekoste, en die raad van internasionale kenners om op grondwater te fokus blyk die oplossing te wees.
Die eerste stap om waterdraers te ontgin het meer as ’n dekade gelede begin met navorsing en die insameling van gronddata. Die wiele is aan die rol vir noodgebruik, maar niemand weet hoeveel water onttrek kan word nie. Selfs al is dit genoeg vir die stad se behoeftes, sal massaonttrekking oor die jare sorgvuldig dopgehou moet word om seker te maak die opbrengs is volhoubaar en daar’s geen onverwagte gevolge vir ekostelsels en landskappe wat afhanklik is van grondwater nie.
Selfs met goeie reën gaan erge waterbeperkings vir minstens die volgende twee jaar die nuwe norm wees vir Kapenaars. Die grafieke hieronder wys die stand van damme in die Weskaapse watervoorsieningstelsel. Jaar op jaar het die voorraad ná drie droë jare getuimel (die Theewaterskloofdam verskaf byna die helfte van Kaapstad se water). Indien die droogte gebreek word, sal ons steeds die volgende somer binnegaan met minder water as laasjaar. Dus is te min reën maar een deel van die probleem. In die Somer 2017’ 18uitgawe van Platteland het James Reeler geskryf oor wêreldwye klimaatsverandering. Ons weet dalk nie presies hoe die weer op enige spesifieke plek gaan verander nie, maar ons is doodseker die hoër vlakke van CO in die atmosfeer 2 sál reënvalen temperatuurpatrone verander. Ons weet daar sal selfs feller en meer gereelde vloede en droogtes wees. In ’n wêreld van toenemende onvoorspelbaarheid wat die klimaat betref, is ons streek as dit by water kom, een sonder ’n veiligheidsnet.
Kitsoplossings is daar nie. Ons moet die manier hoe ons leef en water bestuur, fundamenteel verander. Pleks daarvan om die natuur vir nóg water te
vra en die risiko van ’n ramp te hê as dit nie gebeur nie, moet ons fokus op die omgewing en langtermynoplossings.
KYK NA ONS ‘WATERFABRIEKE’
In ’n waterarm streek is natuurgebiede allermins verlore geleenthede vir ontwikkeling; dit is waterfabrieke wat ons kosbaarste hulpbron opvang, berg, skoonmaak en weer vrystel. Ons moet besef as ons ons stelsels verswak, verloor hulle hulle vermoë om ’n buffer te vorm teen veranderinge in die klimaat én om in droë tye grondwater te verskaf. Dít beteken bestaande beleid en wette moet beter toegepas word en die regering moet omgewingsimpakte reguleer wat ekologie-infrastruktuur skaad.
Ons weet as ons wateropvangsgebiede beskerm en natuurlike plantbuffers rondom vleilande en rivierstelsels het, loop water stadiger weg – dus word die water die heeltyd vrygestel pleks daarvan om ná ’n reënbui weg te loop. Rivierbuffers stuit erosie en sedimentvorming, en beperk besmetting van chemiese landboustowwe en besoedeling. Ondanks goeie omgewingsbeleid en -wetgewing hou ons aan om tot reg teenaan rivieroewers te ploeg en plantegroei te verwyder; ons hou aan om vleilande te beskadig. Onvolhoubare landbou-uitbreiding na natuurlike habitatte veroorsaak ook enorme druk op oppervlak- én grondwater. Ons móét besef selfs private grond moet tot voordeel van almal bestuur word.
Indringerbome gebruik groot hoeveelhede water vergeleke met inheemse plantegroei. Die kumulatiewe uitwerking op damme en rivieropvangsgebiede is enorm, veral in droër tye. Die nasionale program Werk vir Water is begin op grond van bewyse dat dit goedkoper en doeltreffender is om water beskikbaar te stel deur indringerbome uit te roei as om damkapasiteit te vergroot. Maar dié program en private grondeienaars se pogings is ’n druppel aan die emmer as ’n mens kyk na die omvang van indringers in ons opvangsgebiede vir damme en waterdraers.
VERMINDER DIE AANVRAAG
Sowat 64% van Suid-afrikaners woon in stadsgebiede. Daarom is goeie stadsbeplanning noodsaaklik – vir lewenskragtigheid, om rampe te trotseer en om op te staan ná omgewingskokke.
Betaal die ware prys van water Waterpryse moet die koste insluit om na die landskap om te sien wat water produseer. Verskillende tariefvlakke (ná ’n basiese toelae) sal sorg vir meer volhoubare verbruikspatrone.
Stuit laedigtheidsontwikkeling Daar is ’n regstreekse verband tussen hulpbronverbruik en die vorm van stede en dorpe. Mense is in die algemeen taaier en gelukkiger in hoëdigtheidstede en -dorpe wat omring word deur oop landbou- en natuurlandskappe. SuidAfrikaners het gewoond geraak aan laedigtheidvoorstede, en nuwe woonontwikkelings sit dié tendens voort. Selfs die regering se behuisingsprogram skep eentonige slaapdorpe. Uitbreiding aan die rand van stedelike gebiede verg nuwe dienste-infrastruktuur – wat die voetspoor vergroot en die koste van behuising opjaag. En dit gaan nie net oor water nie; nuwe ontwikkelings verplaas ook landbougrond en biodiversiteit én verhoog verkeersdruk en uitlaatgasse.
Bou volhoubaar Ons moet nuwe, beter beplande woonbuurte aangryp en bereid wees om nader aan mekaar te leef – in dubbelverdiepinghuise of woonstelle, naby openbare vervoer en die plekke waar ons woon en ontspan. Ons moet oop ruimtes deel. Nuwe woonontwikkelings moet goed
ontwerpte weergawes hê van die waterbesparende infrastruktuur wat ons uitdink om die krisis te bowe te kom – dinge soos reënwatertenks, eie gryswaterherwinning en aparte loodgieterswerk vir toiletbakke. Ons moet ophou om drinkwater vir tuine en toilette te gebruik. Uiteindelik moet ons gemaklik raak om te doen wat die meeste ontwikkelde lande dedades lank al doen: om afvalwater te behandel en weer te gebruik pleks daarvan om dit in die see te laat wegloop.
Versterk ons gemeenskappe Woonbuurte takel reeds self van hulle probleme: Hulle vorm buurtwagte en Whatsapp-groepe. In hierdie krisis moet ons omsien na diegene wat weerloos en sonder die nodige middele is – mense soos gestremdes, bejaardes en diegene sonder vervoer. As die krisis verby is, moet ons ons nuwe hegter gemeenskappe behou en ons stem dik maak in plaaslike besluitneming.
Hierdie krisis is bloot ’n ernstige mikroweergawe van die groter prentjie. Teen Junie 2016 was die droogte só erg dat agt uit die nege provinsies tot rampgebiede verklaar is. Dié situasie moet ’n voorbeeld wees vir die res van die wêreld.
Winston Churchill het gesê: “Never let a good crisis go to waste.” Ons hoop hierdie is ’n geleentheid om te besef klimaatsverandering en plaaslike natuurstelsels beïnvloed ons welstand regstreeks. En mag ons leer om ekologie-infrastruktuur te beskerm – en volhoubare voorraad-engebruikspatrone binne die beperkings van ons hulpbronne tot stand bring.
Dr. Donovan Kirkwood is ’n onafhanklike biodiversiteitspesialis ( ecological.co.za) en Walter Fieuw die stigter van Making of Cities ( makingofcities.org), ’n stads-en-streeksontwikkelingskonsultantgroep.