MOOSE TEST met die Hilux!
’n Sweedse tydskrif het onlangs die 4x4-gemeenskap aan die gons gehad met ’n dramatiese video van ’n nuwe Toyota Hilux wat byna op sy dak beland in ’n uitswaaitoets. Sou die SuidAfrikaanse model dieselfde doen? WegRy het ’n renbaan en ’n Hilux bespreek en
In Oktober 2016 het die Sweedse tydskrif Teknikens Värld ’n video en artikel versprei waarin hulle ’n uitswaai-, of noodbaanverwisselingstoets, ook genoem die sogenaamde moosetest, met ses bakkies – die Toyota Hilux, Nissan Navara, Ford Ranger, Volkswagen Amarok, Dodge RAM en Isuzu KB – onderneem het.
Waar die ander bakkies die toets met taamlike gemak geslaag het, het die Hilux die uitswaaitoets skouspelagtig gedop: Met die uitswaai teen 60 km/h, het die Hilux gevaarlik op twee wiele begin oorhel en amper omgeslaan.
Die video het soos ’n veldbrand in die Suid-Afrikaanse aanlyngemeenskap versprei. Nie net het dit gelyk asof die splinternuwe Hilux nie vas op die pad is nie, maar dit het allerhande spoke van ’n soortgelyke verleentheid vir Toyota in 2008 opgejaag, toe SuidAfrikaanse Fortuner-bestuur- ders foto’s versprei het van dié Hilux-gebaseerde nutsvoertuig wat omval of rol.
Die Sweedse uitslae
TeknikensVärld se uitswaaitoets, ook bekend as die moosetest – omdat dit verwys na ’n nabootsing van ’n voertuig wat vir ’n denkbeeldige wilde dier moet uitswaai – is ’n weergawe van ’n standaard- internasionale baanverwisselingstoets, die ISO 3888-2-toets. Die tydskrif doen dié toetse al sedert 1948 op allerhande voertuie en sê hulle het duisende agter die blad. ’n Mens kan dus nie hulle bevindinge sommer net ignoreer omdat dit nie in SuidAfrikaanse toestande gedoen is nie.
Volgens die tydskrif se huidige toetsbestuurder, Oskar Krüger, het dit gevoel asof die Hilux “te veel bandgreep in die draaie gehad het”. Nadat hy uitswaai vir ’n denkbeeldige dier in die pad en weer terugswaai na sy baan, skryf hy, het die wiele aan die buitekant “te veel greep op die teer” en lig dié aan die binnekant gevaarlik hoog van die grond af. Dan, sê die bestuurder, moet hy telkens ’n stuurkorreksie maak om al vier wiele weer op die grond te kry.
Toe hulle die dramatiese video opgeneem het, het die bakkie
met 18 duim-wiele gery, maar in hulle artikel sê die tydskrif hulle het in ’n latere toets met 17 duim-bande soortgelyke resultate gekry, alhoewel die wiele glo minder gelig het.
Die Swede kom dus tot die gevolgtrekking: “Iets ernstigs is verkeerd met Toyota se dinamiese veiligheidstelsels, en die resultaat hang af van die bande waarmee die voertuig toegerus is.”
Kenners gee hul mening
Die Suid-Afrikaanse kenners waarmee ons kort ná die vrystelling van die video gepraat het, was nie oortuig nie.
“Dit lyk vir my dié ouens gaan uit hulle pad uit om die Hilux te knock,” het Basil Mann, ’n voormalige renjaer wat nou bestuurskursusse aanbied, aan WegRy gesê.
“As ek kyk na die manier waarop die bestuurder indraai, lyk dit vir my asof hy dit doelbewus te skerp doen. Dit sal enige voertuig onstabiel maak. En wat van banddruk? Hulle maak nie melding daarvan nie.”
Mike Briggs, ’n veelvuldige Suid-Afrikaanse motorsportkampioen, was ook heelwat minder krities oor die resultate as die Sweedse bestuurder. “Hoe meer bakkies soos passasiersmotors ry en bestuur, hoe minder van die bakkieeienskappe bly behoue. Ek vermoed in hierdie geval het die Toyota meer van die eienskappe van ’n bakkie (met ander woorde, hoë grondvryhoogte en ’n hoër swaartepunt) behou... dus is hy geneig om meer bakrol te hê.”
Toyota het natuurlik ook die resultate van die toets bevraagteken. “Toyota het streng veiligheidstandaarde vir al sy produkte en die Hilux voldoen aan daardie standaarde,” het Clynton Yon, senior bestuurder van korporatiewe kommunikasie vir Toyota SA, in ’n verklaring aan WegRy gesê.
Bengt Dalström, hoofbestuurder van openbare betrekkinge vir Toyota Swede, het in ’n verklaring aan Teknikens Värld beklemtoon die Hilux het wel die ISO 3888-2-toets geslaag.
“Soos ons verstaan, het julle die uitswaaitoets volgens julle tydskrif se eie toetsspesifikasies gedoen,” skryf Dalström. Die Hilux is verskeie kere tydens die ontwikkeling van die voertuig volgens die ISO 3888-2-standaard getoets en het dit suksesvol geslaag.
“Verskeie tegniese maatstawwe het ’n invloed op die resultate van so ’n toets,” het Dalström sy kommentaar afgesluit.
Daar was dus net een ding om te doen: WegRy het ’n Hilux 2.8 GD-6 4x4 outomaties gereël en self die voertuig se vermoë om vinnig vir iets uit te swaai, volgens dieselfde maatstawwe op die Killarneyrenbaan naby Kaapstad gaan ondersoek. Sónder om vir Toyota te vertel wat ons wou doen.
Van moose- toets na koedoetoets
Omdat dit ’n gestandaardiseerde toets is, kon WegRy die toetsbaan nes die Swede s’n uitlê. Die baan, wat met helderoranje kegels uitgepak word op ’n plat stuk teerpad, is omtrent 40 meter lank. Dit bestaan uit ’n ingangsbaan van 3 meter wyd, gevolg deur ’n skerp uitswaai na regs, ’n uitswaai na links in ’n kort reguit stuk van 11 meter lank en 3 meter wyd, en dan ’n skerp uitswaai na links en weer na regs, in die uitgangsbaan van 3 meter wyd in.
Die doel van die toets is om ’n tipiese situasie na te boots waarin ’n bestuurder vanuit sy baan vir ’n dier of voorwerp uitswaai – in die aankomende verkeer se baan in – en dan weer terugswaai na sy kant van die pad.
Die toets is wel vir Suid-Afrikaanse padregulasies aangepas. Die Swede ry aan die regterkant van die pad en swaai dus na links uit. Maar omdat ons aan die linkerkant ry, is die baan andersom uitgelê (met die eerste uitswaai na regs).
Ons het verder besluit om die toets op die Hilux te fokus. Die ander bakkies in Teknikens Värld se toets het geslaag, maar dit was die Toyota wat soos ’n seer oog uitgestaan het. Ons wou dié resultate ondersoek.
TeknikensVärld het aanvanklik die Hilux met vier passasiers en vrag op die bak getoets. Volgens hulle artikel het die Hilux wat in Swede verkoop word, ’n maksimum vragdravermoë van 1 002 kg en het hulle tydens die toets 830 kg gelaai (vrag en insittendes).
Die tydskrif het egter ná hulle toetse gemeen gewig was nie deurslaggewend vir die uitslag nie. “Dis onwaarskynlik dat vrag die probleem veroorsaak,” het hulle geskryf. “In daai geval sou die vering aan die buitekantste wiele ten volle saamgepers ( bottomedout) het (in die skerp draaie), maar dit het nie.”
Ruben Börjesson, nog een van TeknikensVärld se toetsbestuurders, het geskryf dat die erge bakrol eerder te doen het met die “afwesigheid van antibakrol-stelsels en die bande se greep”.
TeknikensVärld het dus gemeen dat die Hilux selfs sonder ekstra gewig die toets sou druip. Daarom het ons aanvanklik sonder vrag en met
slegs die bestuurder in die kajuit gery om die bakrolstelsels en bandgreep te toets.
Die resultate was veel minder dramaties, maar die video-opname van die toets wat ons op Facebook en Weg.com gepubliseer het, het so ’n hewige reaksie ontlok dat ons ’n week later wéér die Hilux op Killarney-renbaan tussen die kegels deurgedruk het.
Dié keer was dit egter met ’n vol vrag – vier insittendes (330 kg), nege 50 kgsementsakke (450 kg) en ’n volgemaakte 25 liter-waterkan (25 kg). Hierdie gewig het ons binne 5 kg van die Suid- Afrikaanse dubbelkajuit Hilux se maksimum dravermoë van 810 kg gebring. (Ekstra toerustingsoos’nswaarrubbermatopdielaaibak,bakseil enrolstaafhetbetekendatons waarskynlikoordie810kg-perk was.–Jaco)
Verder is die Sweedse toets met 18 sowel as 17 duim-bande gedoen, maar in Suid-Afrika is die Hilux se standaardbande 17 duim-Bridgestone Duelers (265/65R17) en het ons dus daarmee gery.
Ons het ook voor die toets seker gemaak die bande is volgens die vervaardiger se voorgeskrewe banddruk gepomp: 2 bar op al vier die wiele sonder vrag; 2 bar voor en 2,5 bar agter met vrag.
En laastens het ons die toets deurgaans uitgevoer met die elektroniese stabiliteitsbeheer geaktiveer, want dis hoe die bakkie op teer gery word.
Dís hoe jy toets
Die toets word teen verskillende snelhede gedoen, bv. 50 km/h, 60 km/h ensovoorts. Die toetsbestuurder vat ’n aanloop, maar sodra hy die ingangshek teen die voorgeskrewe snelheid bereik, moet hy sy voet van die versneller afhaal.
Die bestuurder mag ook slegs rem indien dit lyk of iets verkeerd gaan.
Hierdie deel van die standaardtoets lei tot heelwat debat omdat sommige mense meen dat ’n bestuurder tog sal rem as hy vir iets in die pad moet uitswaai.
Moderne voertuie se sluitweerremstelsels (ABS) maak dit ook moontlik om te rem terwyl jy uitswaai sonder dat die remme sluit. Maar aangesien dit die standaardprosedure vir die toets is, het ons dit gevolg.
As die voertuig dan uit die toetsbaan gegly of ’n kegel getref het (óf op twee wiele begin ry het) sou hy die toets dop.