SUANNÉ NOLTE (14)
Canon EOS 1100D 75-300 mm-lens
Suanné het die meeste stemme op die Junior Lensmeesterwebblad gekry en wen die Leserskeuseprys.
Dit was laatmiddag in die Krugerwildtuin naby die Onder- Sabie-ruskamp en die hekke sou binnekort toemaak. Op pad terug na die Krokodilbrughek het Suanné en haar gesin ’n luiperd in ’n boom gesien wat ’n bok vreet. Die Noltes kon nie ’n plek kry van waar hulle die aksie mooi kon sien nie en het dus voortgery.
“’n Entjie in die pad af het hierdie jong luiperd skielik uit die bos getree, sowat 2 m van ons kar af – en ons was die enigste motor in die omtrek,” sê Suanné.
“Ons was almal opgewonde en ek moes oor Ouma leun om van die foto’s te neem. Vroeër die week het my pa my geleer om met die handverstelmodus foto’s te neem en dís hoe ek die een geneem het.”
Suanné het haar eerste langlenskamera twee jaar gelede by haar pa, Dawie, gekry, wat haar ook geleer het hoe om dit te gebruik. Sy is versot daarop om foto’s te neem en passievol oor fotografie – iets wat duidelik sigbaar is in hierdie klassieke natuurleweportret.