Groot-Win­ter­hoek se groot ge­heim – die bes­te poel ooit!

Sorg dat jy hier­die so­mer in Die Hel-poel swem. Dis een van die mooi­ste, groot­ste rots­poe­le in die land. Dis ver se stap soon­toe, maar dis meest­al af­draan­de, wel soort van...

Weg! - - Front Page - WOOR­DE EN FO­TO’S ESMA MARNEWICK

‘Die Hel-poel? Wat, waar is dit?” won­der jy. Hoe­kom het ek nog nooit daar­van ge­hoor nie?!

Dié rots­poel lê in ’n koel kloof hoog bo in die Groot-Win­ter­hoek­berg ag­ter die dor­pie Por­ter­vil­le. Kaap­se Na­tuur­be­wa­ring sê dit is die groot­ste en diep­ste na­tuur­li­ke rots­poel in die Suid­wes-Kaap. Kyk op Google Earth (GPS S33.08835 E19.087231)– jy sal hom daar sien lê. An­ders as an­der won­der­li­ke plek­ke, ver­klap ek mak­lik dié een se lig­ging, want mense gaan steeds nie daar­heen stroom nie. Hoe­kom nie? Om­dat jy 18 km soon­toe moet stap. Maar haal diep a­sem en sit een voet voor die an­der. Die Hel gaan nê­rens heen nie.

DAG 1: 23 km

“Groot-Win­ter­hoek­be­amp­te kom in,” roep my man, To­bie Marnewick, ’n paar keer oor die ra­dio bui­te die ont­vangs­kan­toor van die Groot-Win­ter­hoek-wil­der­nis­ge­bied. Dis ses­uur die og­gend. Ek en To­bie en drie vrien­de van So­mer­set-Wes, Lou­is Kam­fer, Lie­zel Gouws en A­dri Vis­ser, het so­wat ’n uur ge­le­de van die dor­pie Her­mon af ver­trek en op­ge­kruie teen die steil Das­klip­pas tot bo-op die Groot­Win­ter­hoek­berg.

Maar die sleu­tel van die Rib­bok­hut, ons slaap­plek vir van­aand, is nie in die hout­boks by ont­vangs nie. Uit­ein­de­lik ant­woord ie­mand: “O­kay, ek is nou daar om u te as­sist, oor en uit.”

En­ke­le mi­nu­te la­ter daag die veld­wag­ter Ralph Ti­tus op en gee vir ons die reg­te sleu­tel. Ons bons in die bak­kie af tot by die par­keer­ter­rein waar jy jou naam in die re­gis­ter te­ken. Hier is uit­ge­merk­te paad­jies en stap­hut­te, maar jy mag e­ni­ge plek stap en in die veld oor­nag.

Die stap­roe­te be­gin op ’n twee­spoor­pad wat ver­by die per­so­neel­dor­pie loop. Bui­te een van die hui­se staan een van daai blou plas­tiek­swem­bad­dens. Dis beslis waar al die kin­ders uit­hang – die weer­voor­spel­ling vir die na­week is 31 °C van­dag en 35 °C mô­re.

Ná so­wat ’n kwar­tier se stap vurk ’n spier­wit sand­paad­jie af na links tus­sen die lang gras en berg­rie­te deur tot by ’n strooi­sel groot klip­pe. Kyk mooi, hier’s ’n rots wat nes ’n ta­fel lyk – net die plek om jou kamp­sto­fie staan te maak vir die dag se eer­ste kop­pie kof­fie.

Van hier af klou­ter ons oor groot wit rot­se tot on­der in die val­lei. Die paad­jie kron­kel deur pla­te veld­blom­me, ver­by rots­for­ma­sies en al langs ’n koel klip­krans tot jy die ge­bruis van ’n wa­ter­val hoor – die Groot-K­lip­huis­ri­vier! ’n Wa­ter­val stort soos ’n kom­buis­gor­dyn­tjie oor ’n rots by ’n lang don­ker poel in.

Van hier af bly die paad­jie na aan die ri­vier. Hier’s ver­skeie af­draai­paad­jies na nog ri­vier­poe­le toe, maar ons hou ver­by; ons het net een doel voor oë.

Die paad­jie styg en daal ge­lei­de­lik. Soms stap jy tus­sen koel rie­te, die grond sag en mod­de­rig on­der jou skoe­ne. An­der ke­re stap jy oor har­de klip­pies ter­wyl rots­for­ma­sies rond­om jou ver­rys soos e­nor­me Go­tie­se graf­ste­ne.

Tus­sen­deur is die veld in­der­daad vro­lik. Hier­bo lyk die droog­te­praat­jies oor die ra­di­o­nuus soos ’n duis­te­re sa­me­swe­ring. Die fyn­bos groei we­lig. Jy stap tel­kens deur ’n veld vol pienk hei­de ( E­ri­ca in­fla­ta) of blou­vlei­py­pies ( Mi­crant­hus jun­ceus). Plek-plek sien jy pienk bloed­wor­tels ( Di­la­tris ix­i­oi­des), rooi­klos­sie­hei­de ( E­ri­ca mam­mo­sa) en rooi wat­so­ni­as.

Ons stap ál die­per die ber­ge in, ver­der en ver­der weg van die be­ska­wing af. Die son­be­sies skree ver­woed. Blou, geel en oran­je naal­de­ko­kers sweef bo die wa­ter­op­per­vlak ter­wyl bruin ak­ke­dis­sies en blou­kop­kog­gel­man­ders oor die klip­pe skar­rel.

Ek dink aan die woor­de van F­re­de­rick Ock­huis, ’n be­wa­rings­as­sis­tent wat al am­per 30 jaar in dié wil­der­nis­ge­bied werk: “Dit was eers ’n bos­bou­sta­sie. Ons het des­tyds die he­le re­ser­vaat plát­ge­loop op soek na uit­heem­se goed. Orals waar ek ge­loop het, was dit vir my mooi.”

Die wil­der­nis­ge­bied is van­dag ’n be­lang­ri­ke be­wa­rings­ge­bied vir berg­fyn­bos en wa­ter­op­vangs­ge­bied vir die Stad Kaap­stad.

Ná drie uur kom ons aan by die laag­wa­ter­brug oor die Groot-K­lip­huis­ri­vier. Doer aan die an­der kant van die val­lei sien jy ’n groen dak van ’n hut. Van hier af sluit die voet­paad­jie weer aan by die tweer­spoor­pad. Ons klim ’n hoog­te­tjie uit en weer af na ’n brug oor die K­leinK­lip­huis­ri­vier. On­der die brug lê ’n groot, hel­der poel. Jy sien die ri­vier­klip­pe op die bo­dem. Die vis­se hang soos ’n ba­ba­be­wer­tjie in die wa­ter.

Die pad klim tot bo-op ’n hoog­te­tjie: die hut­te! Op die web­ruim­te word Rib­bok be­skryf as ’n luxu­ry hut. Hier is drie rus­ban­ke, bed­dens met ma­tras­se, ’n kom­buis met ’n was­bak, ’n koue stort en ’n spoel­toi­let (bo­nus!). Die be­leid in dié wil­der­nis­ge­bied is dat stap­pers die hut­te ag­ter­laat soos hul­le dit ge­kry het. ’n Mens kan eg­ter sien hier was lank­laas ie­mand met ’n skoon­maak­drang... In die be­soe­kers­boek is die ge­voe­lens ge­meng: “The flus­hing toi­let ma­kes this a fi­ve-star lo­ca­ti­on on our hi­king i­ti­ne­na­ry,” skryf S.H.C. “The pla­ce was dir­ty, we had mi­ce e­a­ting our food in the midd­le of the nig­ht,” skryf ’n an­der.

Ons gooi die sak­ke van ons rug af. Jy voel lig, as­of jy pas van ’n tram­po­lien af ge­klim het. >

Ons sit­lê op die rus­ban­ke en kou aan bil­tong en jel­lie­lek­kers. Dis maar elf­uur in die og­gend en ons is poot­uit.

Wel­kom in Die Hel

Maar dis voor­waarts, mars, want Die Hel wag. Ons t­rek ons swem­broe­ke aan, pak eet­goed in ons dag­sak­ke en mik weer vir die wit sand­paad­jie. Die paad­jie kron­kel oor klip­pe en deur heup­hoog­te strui­ke en gras­se wat jou be­ne krap.

Die ge­bran­de ge­raam­tes van bo­me staan tus­sen die fyn­bos soos ge­drog­te wat hul­le fut ver­loor het. Ná so­wat ’n uur se stap be­gin daal die paad­jie skie­lik. Jy hoor in die ver­te die ge­wel­di­ge ge­bruis van ’n wa­ter­val in die kloof. Die ge­luid kom ál na­der ter­wyl die paad­jie al hoe stei­ler af kron­kel. Pas­op vir strui­kel!

En dan sien jy die don­ker poel doer on­der. Dis ’n vuur­warm Sa­ter­dag in De­sem­ber en hier’s g’n mens nie. Jy kan dit am­per nie glo nie.

Ons hoor ’n gil doer on­der in die kloof. Dis Lou­is wat in­ge­duik het. Ons klim skuur-skuur af tot by ’n smal rots­ly­sie. Jy skui­fel ’n paar treë soos ’n krap tot op ’n plat rots, wat soos ’n ly­wi­ge se­ment­blad in die loop van die ri­vier lê. Ons klou­ter met be­we­ri­ge be­ne oor die ys­li­ke ron­de rot­se wat die poel op­dam.

Ek klim half­lyf in die ys­koue wa­ter. My a­sem slaan be­hoor­lik weg toe ek in­duik. “Dis, dis, dis... KOUD!” gil Lie­zel.

Ek duik ’n paar keer deur die wa­ter. Dit voel soos ’n skok­be­han­de­ling. Jy voel nuut, vars. Soos wat jy ge­voel het vóór kin­ders, huis­le­nings, kar­paai­e­men­te... ek duik som­mer weer in!

Ons be­gin uit­pak op die warm klip­pe: sto­fies, pak­kies twee­mi­nuut­noe­dels, sa­la­mi, Mel­ro­se­ka­sies, nar­tjie­geur Ga­me... ’n paar vis­se swem na­der, ge­woond aan stap­pers se krie­sel­tjies aas.

Ter­wyl die son warm op jou hoen­der­vleis­vel bak, oor­val ’n moeg­heid jou – ons is im­mers al van 4.45 vm. af aan die gang. Elk­een soek ’n ska­du­wee­kol­le­tjie vir ’n mid­dag­sla­pie. Ek ver­an­der ’n paar keer my lê­plek soos die son oor die kloof skui­we.

Dis hut­toe­gaan­tyd. Ons pak maar traag op. Wan­neer kom ons weer by so ’n mooi plek?

Die pad uit die kloof uit is beslis die smal­le weg. Dis as­of jy ’n heng­se klip­leer be­styg. Maar hou moed: Bin­ne ’n half­uur is jy weer bo. D­rie­kwart boon­toe staan ek stil. My hart gaan te­ke­re soos ’n slag­or­kes op Red Bull. Ons kry ons a­sems te­rug op ’n groot rots en kyk vir ou­laas af na Die Hel-poel.

Ons stap te­rug ter­wyl die son die val­lei ver­laat. My stan­derd vyf-me­neer het al­tyd ge­sê: “Blou is ’n werk­woord, want die ber­ge blou in die ver­te.” En van­dag wérk die ber­ge om ons.

Ná ’n uur se stap plof ons neer op die hut se stoep. Ons drink die aand Ga­me met ’n skeut­jie vod­ka wat ie­mand saam­ge­dra het in ’n heup­fles­sie, en eet pas­ta-en-sous.

La­ter sleep ons die ma­tras­se uit op die stoep en raak aan die slaap ter­wyl die hel­der half­maan teen die he­mel­ruim op­klim.

DAG 2: 13 km

Toe ons op­staan, klink dit soos die gim in ’n ou­te­huis. Oe... Eisj... Ei­na... Al­mal se bo­be­ne is goed stýf van die klim die kloof uit.

Jy kan met die twee­spoor­pad stap van die hut­te af tot by ont­vangs, maar ons wil weer deur die veld stap en volg dus die­self­de roe­te te­rug.

Dis soos om in re­wind te stap. Ons stap op teen die twee­spoor­pad (was dit gis­ter so ’n af­draan­de?!), oor die laag­wa­ter­brug, tus­sen die koel rie­te deur die moe­ras, ver­by rots­for­ma­sies en langs die koel, don­ker ri­vier.

Ver­by naal­de­ko­kers wat dar­tel tus­sen die fyn­bos en blou­kop­kog­gel­man­ders wat kop­knik op die rot­se ter­wyl die son­be­sies skree soos ’n pa­wil­joen ty­dens die kleu­re­sport se af­los­re­sies.

Ná so­wat twee en ’n half uur sien ons die poel met die kom­buis­gor­dyn­tjie­wa­ter­val. Ons skar­rel oor die rot­se en gooi ons rug­sak­ke af op ’n groot, plat rots. Teen die tyd kleef ons hem­de aan ons lyf. Dis warm en hier’s van­dag nie eens ’n bries nie. Jy kan sien hoe die hit­te in lae oor die land­skap lê.

Een, twee, drie, s­pring ek en Lie­zel in die >

poel. Ek duik ’n paar keer tot­dat my he­le lyf déúr­koud is, en my kop weer hel­der.

Ons bak droog op die klip­pe en eet die laas­te van ons pro­vi­and. “Grond­boon­tjie­bot­ter op ’n rys­koe­kie?” bied To­bie aan.

Van hier af styg die paad­jie ge­lei­de­lik uit die val­lei. Ons stap ver­by die koel krans­muur, en deur die veld vol pienk hei­de tot waar die paad­jie tus­sen ’n klomp klip­brok­stuk­ke ver­dwyn.

Ons vat ’n blaas­kans, drink Ga­me en klou­ter dan teen die klip­pe uit tot bo. Doer sien jy die dak­ke van die per­so­neel­dor­pie en die twee­spoor­pad. Ek won­der hoe is dit om hier te bly. “Baie lek­ker,” sê F­re­de­rick la­ter, “ek het fi­san­te en pa­try­sies wat ek el­ke dag voer. Hul­le kom staan so tus­sen my be­ne. Ek weet nie of ek ooit in ’n dorp sal kan bly nie – dis da­rem te woe­lig.”

Van hier af neem ’n pad ons weer af, af, af met die Das­klip­pas tot on­der na die be­ska­wing. Maar vir eers hou ons ’n rib­bok dop wat tus­sen die lang gras wei. Ons stap ver­sig­tig na­der. Hy bok­spring ag­ter ’n rots in. Ek sien la­ter hoe hy by die res van sy trop aan­sluit en ag­ter die rant­jies ver­dwyn.

Die Hel is ver­skil­len­de din­ge vir ver­skil­len­de mense: die dui­wel se huis, die mall op ’n Sa­ter­dag­og­gend, te­ma­par­ty­tjies... Maar Die Hel is ook een van die mooi­ste plek­ke op aar­de vir dié wat aan­hou stap.

WASIE MENSE? Die Hel-poel is een van die min rots­poe­le in die WesKaap waar jou groep die e­nig­ste mense kan wees op ’n warm so­mers­dag. Die re­de? Dis so­wat 18 km se stap soon­toe.

KLIPLANGS. Dis 18 km se stap tot by Die Hel-rots­poel, maar moe­nie skrik nie, die paad­jie is meest­al ge­lyk be­hal­we vir die klim af en uit die kloof (oor­kant­ste blad, bo); Wind en weer het oor die eeue heen ver­skeie rots­for­ma­sies oor die sand­steen­land­skap uit­ge­kerf (on­der, links); Net voor De Tronk stap jy oor ’n brug oor die K­lein-K­lip­huis­ri­vier. Staan sterk; dis nog net ’n kwar­tier se stap tot by die hut (on­der, regs).

LÊ­PLEK. Hier is drie stap­hut­te by De Tronk. Die “luuk­ser” Rib­bok­hut (on­der) het rus­ban­ke, bed­dens met ma­tras­se, ’n spoel­toi­let en ’n koue stort, maar dit kort ’n goeie skoon­maak.

BLOEDWORTEL LAFENISSE. Die laag­wa­ter­brug oor die Groot-K­lip­huis­ri­vier is ’n ga­we rus­plek. La­we jou voe­te in die koel wa­ter en eet ’n stuk dro­ë­wors (oor­kant­ste blad, boon­ste fo­to’s); Jy stap meest­al op ’n sand­paad­jie oor vlak­tes be­strooi met rot­se, maar plek-plek stap jy ge­na­dig­lik deur koel groen ruig­tes (oor­kant­ste blad, fo­to on­der).

SWERWERTJIENAALDEKOKER

BLOUBERGPYPIE

SUI­DE­LI­KE ROTSKOGGELMANDER

LAAS­TE SWEM. Net voor jy weg­draai van die Groot-K­lip­huis­ri­vier af, kom jy by dié rots­poel met ’n k­lein wa­ter­val uit. Vat vir ou­laas ’n duik voor­dat jy uit die val­lei stap.

HALLELUJA! Ná 18 km ein­dig jy op ’n groot rots by een van die groot­ste, diep­ste, mooi­ste (en stil­ste) rots­poe­le in die Wes-Kaap. Wel­ge­daan!

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.