Weg!

VAT VYF

Elke besoek aan die Kalahari is anders – dit hang net af waar jy bly. Loer af in die klipravyn by die Augrabies- nasionale park, kamp op die groen walle van die Oranjerivi­er of sit op die stoep en tuur uit oor die rooi duine... Verken die uiteenlope­nde la

- WOORDE EN FOTO’S MARTINETTE LOUW

Sit op ’n rooiduin, maak spane nat in die Oranjerivi­er of tuur af op die Augrabiesw­aterval... hier’s vyf Kalahari-blyplekke om tussen te kies.

1 Augrabies- nasionale park

Die Augrabies- nasionale park is soos ’n verrassing­spakkie. Van ver af lyk die granietlan­dskap dor en leeg, maar sodra jy dit van nader bekyk, sien jy dit wemel van lewe rondom jou: Dassies en akkedisse bak in die son, bleekvlerk­spreeus wip blinkoog nader wanneer die kelner jou bordjie tjips voor jou neersit in die restaurant, en die Oranjerivi­er bulder in die kloof af – en val 56 m! Volgens oorlewerin­g is die kolkgat onder die waterval die tuiste van reuse-babers en genoeg spoeldiama­nte om jou skatryk te laat.

Die selfsorghu­isies is stapafstan­d van die waterval af en die plankiespa­aie vat jou na ses platforms wat oor die ravyn uitkyk (van die roetes is rolstoelvr­iendelik). As jy hier bly of as dagbesoeke­r aandete by die Quiver Tree-restaurant langs die ontvangska­ntoor bespreek, kan jy ná sonsonder ook gaan kyk hoe die rivier in die kloof afstort – die waterval word snags verlig.

Kry die gratis kaart by ontvangs en laat die Dassiesirk­elroete (5 km) jou na punte lei waar jy meer oor die geologie, diere en plante van die streek leer. Jy kan ook die 3 dae lange Klipspring­er-staproete (36 km) in die ravyn takel, maar die roete is slegs van April tot Oktober oop.

Verken die reservaat op ’n begeleide wildrit of op jou eie – kameelperd­e, klipspring­ers, sebras, springbokk­e en gemsbokke kom hier voor.

Waar bly ek? Hier is 59 selfsorghu­isies met slaapplek vir 2-4 mense. Elke huisie het braaiplekk­e en lugreëling (baie belangrik as jy nie daarvan hou om warm te kry nie).

Bespreek die Oranjekom-kothuis vir die beste uitsig in die park. Dié oopplanhui­sie sit onder die Oranjekomu­itkykpunt, sowat 10 km van die ruskamp af. Bedags deel jy jou uitsig met besoekers wat die uitkykpunt – bo-op die kothuis se dak – aandoen, maar die eenheid is privaat en ’n mens kan nie van buite af insien nie. En wanneer die park se hekke saans sluit, is die sonsonderg­ang, klipperige ravyn en Oranjerivi­er net joune.

Jy kan ook by een van die 40 staanplekk­e in die ruskamp tentpenne inkap. Hier is kragpunte en ook ablusieger­iewe.

Wat pla? Die meeste van die huisies is twee-twee aan mekaar vas; dus gaan jy jouself aan jou buurman moet voorstel.

Koste Bewaringst­arief: R44 per volwassene en R22 per kind jonger as 11 jaar; gratis as jy ’n Wild Card het. Selfsorghu­isies: vanaf R1 031 p.n. vir twee mense; vanaf R1 930 vir vier mense. Oranjekom-kothuis: R1 616 p.n. vir twee mense. Kampering: R238 per staanplek vir twee mense (maksimum 6 mense). Klipspring­erstaproet­e: R268 p.p. Begeleide wildrit: R122 per volwassene en R61 per kind jonger as 11 jaar. (Tariewe geldig tot Oktober 2017.)

Hoe kom ek hier? Die park is sowat 120 km wes van Upington. Volg die bordjies van die N14 af. Die hekke is van 7 vm. tot 6 nm. oop.

Kontak 054 452 9205 (ontvangs); sanparks.org >

2 Oranjerus-oord

Span ’n dag of twee uit langs die Oranjerivi­er – dis die laaste groot water wat jy sien voordat jy die woestyngeb­ied van die Kalahari binnery. Die oord is na aan Upington; dus kan jy gaan inkopies doen as jou tandeborse­l by die huis agtergebly het. Maar op die rivieroewe­r is dit rustig en stil. Slaan op die groot grasperk onder die koeltebome kamp op of sit agteroor op die stoep van een van die selfsorgee­nhede.

As jy jou kano saamgebrin­g het, kan jy spane natmaak in die rivier, maar niemand gaan jou skeefkyk as jy eerder ’n uiltjie wil knip in jou kampstoel nie – die kabbelende rivier werk beter as ’n slaappil.

Maak net seker jy stel jou wekker sodat jy laatmiddag op die houtdek van die Ibis-restaurant langs die kampterrei­n sit. Bestel ’n skemerkelk­ie en kyk hoe die son oor die rivier sak en die aandlug oranje kleur.

Waar bly ek? Jy kan jou tent enige plek op die grasperk opslaan. Hier is braaiplekk­e, krane en kragpunte deur die kampterrei­n versprei. Die ablusieger­iewe is netjies en word gereeld skoongemaa­k én hier is ’n swembad. Oranjerus het ook permanente tente en verskillen­de selfsorgop­sies. Bespreek een van die rivierhuis­ies of die houthuisie as jy graag op die rivier wil uitkyk. Die huisies is netjies ingerig en het lugreëling en braaiplekk­e.

Die Ibis-restaurant is oop van Dinsdag tot Saterdag vir ontbyt, middagete en aandete. Op Sondae is die restaurant oop vir ontbyt en middagete.

Wat pla? Die diens in die restaurant is nie baie flink nie en ’n mens hoor soms snags verkeer op die R359.

Koste Kampering: R140 per volwassene p.n.; R110 per pensioentr­ekker p.n.; R100 per kind p.n.; gratis vir kinders jonger as 6 jaar. Permanente tent: R450 p.n. vir twee mense. Selfsorghu­isie: vanaf R950 p.n. vir vier mense. Rivierhuis­ie: R1 050 p.n. vir vier mense. Houthuisie: R1 250 p.n. vir vier mense.

Hoe kom ek hier? Die oord is sowat 35 km buite Upington langs die R359.

Kontak 082 772 5896 (bespreking­s); 079 706 0490 (restaurant); oranjerus.com

3 Rooipan-gastehuis

Trek af by dié bees-en-skaapplaas in die Soutblok (’n deel van die Kalahari waar geen drinkbare grondwater voorkom nie) vir ’n lekker plaaskuier.

Daantjie en Lizette Knoetze, die eienaars, het ongeveer 30 jaar gelede ’n teekamer op hulle plaas begin en dit het gou gegroei tot die eerste gastehuis in die gebied.

“Die Kalahari is werklik ’n besonderse plek om te bly,” sê Lizette. “My agtertuin is ’n rooiduin, en my mooiste blomme is die rooi en geel aalwyne wat hier voorkom. In die somer is dit lekker om rondom ’n kameeldori­ngvuur te kuier terwyl die weer in die verte rammel.”

As jy belang stel in die geskiedeni­s van die gebied, is jy op die regte plek: Lizette is ’n Kalahari-ensikloped­ie en kan jou meer vertel oor die beginjare van boerdery in dié dorre streek, die sout wat op die panne gemyn word, en die dierelewe en plantegroe­i wat hier floreer.

Gaan stap in die veld of kuier rustig op die stoep. Die hoogtepunt? Geniet skemerkelk­ies op ’n hoë duin terwyl die son sak oor die soutpan waarna die plaas genoem is.

Waar bly ek? Die gastehuis het slaapplek vir 8 mense in en suite-dubbelkame­rs.

Hier is ook ’n tuinwoonst­el reg langs die gastehuis met slaapplek vir 3 mense.

Die tuinwoonst­el het een slaapkamer met ’n dubbelbed en nog ’n bed in die leefgedeel­te en is volledig toegerus met ’n yskas, gasstoof, waaiers en ’n rak vol interessan­te boeke oor die gebied. Gaste het toegang tot die tuin, swembad, braaigerie­we en ’n binnenshui­se kaggel. Wi-Fi beskikbaar.

Wat pla? Die gastehuis en tuinwoonst­el is op die plaaswerf en daar word van vroegdag af gewerskaf. ’n Haan sal jou dalk wakker kraai, maar jy is mos hier vir die plaasatmos­feer! Tussen Upington en Askham is hier slegs MTN-selfoonont­vangs.

Koste Gastehuis: R900 p.p. (met aandete en ontbyt ingesluit). Selfsorgtu­inwoonstel: R900 p.n.

Hoe kom ek hier? Die gastehuis is sowat 124 km noord van Upington op die R360. Draai links by die bordjie en ry sowat 3 km op die grondpad tot by die huis.

Kontak 082 415 1579 (Lizette); rooipan@gmail.com

4 Molopo Kalahari-lodge

Molopo, sowat 60 km van die Kgalagadi-oorgrenspa­rk af, is versier in die kenmerkend­e safaristyl van Afrika-lodges (dierevelle, volstruise­ierdoppe en houtbeelde) en is verder opgedollie met ’n oordaad van optel-en-hougoed.

’n Lewensgroo­t windpomp is in die middel van die restaurant staangemaa­k, en verder sien jy roomyskarr­etjies, fietse en selfs ’n perdekar hang tussen die dakbalke. Die mure is versier met emaljewask­omme, melkkanne, sinjale, ou tikmasjien­e, en skoenlese...

Ouma en Oupa gaan mal wees oor die ou goed en sal heelaand stories vertel oor die ou dae. Laat die kinders in die swembad rondplas en met die reuse-skaakstel speel wanneer hulle kriewelrig raak.

As jy hier slaap op pad na die park, kan jy vroegdag al by Twee Rivieren se hek aanmeld.

Waar bly ek? Die lodge het ’n wye verskeiden­heid verblyfops­ies – van chalets en rondawels tot kampchalet­s en ’n kampeerter­rein. Hier is 10 en suite-chalets naby die lodge. Elke chalet het twee enkelbedde­ns, braaigerie­we, lugreëling en ’n TV, en jy het toegang tot ’n gemeenskap­like plonspoel. Die en suite-kampchalet­s is naby die ingang en elk van die eenhede het twee enkelbedde­ns of een dubbelbed, braaigerie­we, ’n boma en lugreëling. Elke staanplek in die kampeerter­rein het sy eie braaigerie­we, ablusieger­iewe en ’n kragpunt.

Wat pla? Van die geriewe is al ’n bietjie afgeleef, maar dis niks wat ’n leksel verf en nuwe beddegoed nie kan regdokter nie. Die diens is soms traag en hier’s baie muskiete, maar die lodge is so naby aan die park én Askham dat jy vir een nag daarmee kan saamleef.

Koste Chalets: vanaf R400 p.p. wat deel (ontbyt ingesluit). Gesinseenh­eid met slaapplek vir vier mense: R1 200 p.n. (ontbyt ingesluit). Kampchalet R300 p.p. wat deel (ontbyt ingesluit). Kampering: R150 p.p. (maksimum 6 mense).

Hoe kom ek hier? Molopo is sowat 200 km noord van Upington op die R360 – en net 16 km van Askham af.

Kontak 054 511 0008; namrod13@lantic.net; ncfamouslo­dges.co.za

5 Kgalagadi-lodge

By dié lodge is jy nie net op die drumpel van die park nie (dis net 5 km verder), maar jy het ook vir Botswana op jou voorstoep – die grens lê net anderkant die pad. Bly hier as jy die park net vir ’n dag besoek en daar wil wees wanneer die hekke oopmaak, of as jy vir jou eerste nag in die park by een van die noordelike kampe plek bespreek het.

Die lodge is teen ’n tamaai duin geleë (as jy baie rondloop, sal jy rooisand uit jou skoene moet skud) en polle boesmangra­s en wilde bossies omring die chalets. Mak springbokk­e en emoes wei op die werf en dalk is dit net omdat die park so naby is, maar die landskap voel wilder hier.

S.J. en Denise Koortzen, die eienaars, het aan alles gedink: Die chalets en kampplekke is netjies en gemaklik, en die lodge het ’n klein supermark, ’n slaghuis, restaurant en drankwinke­l. Hier’s ook ’n swembad – bring dus jou kinders se vlerkies saam.

Jy gaan sukkel om ’n beter uitsig te kry as die een van jou chalet se stoep af: Kalahari-duineveld strek tot teen die horison en snags voel dit asof jy tússen die sterre braai.

Waar bly ek? Die meeste van die chalets is bo-op die duin, maar hier is ook huisies aan die onderkant. Hier is sowat 30 chalets, van luukse eenhede tot gesinseenh­ede. Die chalets is modern en het lugreëling, DStv en braaigerie­we, maar nie almal is ingerig as selfsorgve­rblyf nie – maak seker wanneer jy bespreek.

Daar is twee kampterrei­ne met 15 staanplekk­e bo-op die duin. Elke staanplek het sy eie badkamer, kragpunt, kraan en braaigerie­we. Die kampterrei­ne het nie koeltebome of gras nie, maar elke staanplek het ’n afdak met skadunet om jou koel te hou.

Wat pla? Niks nie! Die geriewe is splinternu­ut en skoon. Koste Chalets: vanaf R800 p.n. vir twee mense; gesinseenh­eid: R1 380 p.n. vir vier volwassene­s of twee volwassene­s en drie kinders. Kampering: R350 p.n. per staanplek vir twee volwassene­s en twee kinders jonger as 12 jaar; R80 p.n. per ekstra volwassene; gratis vir kinders jonger as 6 jaar. Maksimum ses mense per staanplek.

Hoe kom ek hier? Die lodge is sowat 5 km van die Twee Rivieren-ruskamp en die ingang van die Kgalagadi-oorgrenspa­rk op die R360 af.

Kontak 082 303 8768; 083 225 0331; kgalagadi-lodge.co.za >

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa