AGTER DIE SKERMS
Vir dié uitgawe skryf Martinette Louw, ’n teksredakteur by ons sustertydskrif go!, oor vyf lekker blyplekke in die Kalahari (bl. 90). Maar enkele dae voor haar vertrek, sien sy donderwolke in die lug...
Reën het altyd die grootste sê in die Kalahari. Dis soos krieket: Jou kanse om die laaste paaltjie te sien val raak skraler as die wolke begin saampak, en daar is nie veel wat jy daaraan kan doen nie.
Ek het ’n lang lys saamgestel van blyplekke waar ek graag wou inloer, maar in die week voor my vertrek het die weervoorspelling duidelik gewys die Kalahari het ander planne gemaak: Daar was gróót reën op pad.
Dis ’n sonde om te kla oor reën in die Kalahari – veral in ’n droogte – maar dié groentjiefotograaf se moed was in haar skoene. Foto’s neem is moeilik genoeg, maar foto’s neem as dit die hele tyd stortreën? Onmoontlik.
Ek was skaars deur Upington toe tref die eerste druppels my voorruit. By tye het dit só gesous dat ek net-net die pad kon sien, en die grondpad tussen Askham en Vanzylsrus was ’n glybaan. My planne om by die Vanzylsrus-hotel oor te slaap het uitgereën en ek moes omdraai.
Maar om in die Kalahari te wees wanneer die hemel se sluise ooptrek, is ’n voorreg, het ek vinnig geleer. Die driedorings langs die pad het wit geblom en die veld was vol rooi fluweelmyte, duisendpote en witgatwitjies. Droë rivierlope het skielik water gehad en die boeregemeenskap was merkbaar verlig en dankbaar – soms reën dit sesse al is jy nie op die veld nie.