Oos-Kaap: Kus tot piek
Die gesplete hoef werk amper soos ’n outydse tennisraketskoen waarmee mense op sneeu geloop het. Die oppervlak van die hoef vergroot en versprei só die dier se gewig as dit op iets trap. Só stap sitatungas oor waterplante.
Hulle is skugter, maar hier word ’n klein bietjie geduld beloon. Ek het elke oggend en laatmiddag sitatunga gesien van die kampterrein by Pontoon-kamp af – soms tot agt bymekaar – waar hulle in die oopte langs poele kom wei het.
Poekoe – ’n effens dikker in die dy neef van die lechwe (basterwaterbok) – is algemeen in Zambië se parke, maar nie iets wat ons in SuidAfrika ken nie. Jy sien oorgenoeg van hulle in Kasanka. Jy kyk hulle later sommer aspris mis, nes rooibokke in die Krugerwildtuin.
’n Onaardse geluid maak my een oggend wakker. Half aan die slaap verbeel ek my eers dis my foon wat vibreer – maar hier’s nie sein nie. Ek kyk na my foonskerm vir die tyd: net ná drie.
Daar’s dit weer: ’n diep, vibrerende gebrom. Dan herken ek die geluid – ek het dit die eerste keer in Mosambiek op ’n roei-ekspedisie in die Olifantsrivier gehoor. Dis die roep van ’n visuil! Ek steek my kop by die tent uit en skyn die lig in die jakkals
bessieboom bo my rond. Daar! Skaars 15 m ver, op ’n groot tak, sit die visuil – én hy het ’n vis in sy kloue!
My kamera is in die Fortuner toegesluit; dus neem ek sommer ’n foto met my selfoon. Net ingeval niemand my nie glo nie.
Die visuil is maar een goeie voëlrede om Kasanka op jou lysie te sit. Ek sien ook onder meer die rooipensreier, rooikuifloerie en moeraswaterfiskaal.
Nog ’n ongewone voël wat ek die volgende middag in die kampterrein opspoor, is die breëbek. Dis ’n onopsigtelike voëltjie wat effens na ’n piepklein Australiese kookaburra lyk – met ’n breë bek, ja. En soos met die visuil is dit iets wat jou aandag trek met klank.
Hy maak ’n wirrende klank, amper soos iemand wat met vingers vinnig ’n stapel groot, dik boekblaaie deurblaai: frrp!
Kenners reken hierdie vertoonklank word gemaak deur van die vlerkvere vinnig oor mekaar te vryf. Terselfdertyd hop die breëbek vermakerig op van ’n takkie soos ’n springmielie wanneer hy “roep”.
Miljoene vlermuise teen sonsondergang, ’n visuil vroegoggend bo jou tent, skugter sitatungas wat met jou ontbytkoffie langtoon uit die riete verskyn en, net wanneer jy dink die res van die dag gaan vervelig wees, ’n vreemde bolletjie vere wat “frrp!” hier bo jou kop.
Dít is klassieke Kasanka. Begin solank ’n plan maak... >