ZAMBIË
Kasanka is een van Zambië se minder bekende parke. Maar tussen Oktober en Desember speel ’n oeroue natuurskouspel hier af – kom kyk hoe lyk die grootste eskader vlermuise in Afrika!
Teen Oktober elke jaar hou enorme swerms vlermuise ’n indaba in die Kasanka- nasionale park. Toast Coetzer het gaan kyk
Jy hoor hulle nog voordat jy hulle sien, en wanneer jy hulle sien, is dit onmoontlik om weg te kyk. Ek staan sowat 5 m bo die grond op ’n houtstellasie. Die geruis begin tussen die digte moerasvybome wat die rivieroewer byna verdring. Tussen die bome – hierdie soort woud word ’n mushituwoud genoem – vlieg groot vlermuise. Vir eers net honderde, en hulle vlieg net kort entjies, asof hulle litte losmaak. Maar terwyl die son sak en die tropiese hitte in die mushitu wegsypel, is dit asof hulle meer energiek raak. Hulle begin saamswerm en mekaar opsweep. Die geraas raak harder: ’n Kombinasie van klappende vlerke en fluisterende vlermuistonge. Gou word dit ’n skellerige gepittel, dan ’n ruisende gekwetter. ’n See van vlerke wat vorm aanneem.
Al meer vlermuise tuimel uit die bome, wat lyk asof ’n trop olifante met ekstralang slurpe hulle stukkend geklap het. Dis die gewig van honderde vlermuise wat in elke boom hang wat die takke laat breek. En dis al (ten minste) dekades wat hordes geel vrugtevlermuise van regoor Sentraal-Afrika se reënwoude (sommige van so ver as Kameroen) hier in Kasanka saamtrek.
Hulle kom vir die oorvloed veldvrugte wat van middel Oktober hier te vinde is, en teen middel Desember verkas hulle weer. Dan haal Kasanka se mushitu weer asem.
Hoeveel vlermuise is hier? Enigiets van 5 tot 15 miljoen, reken kenners. Dit klink onwaarskynlik totdat jy self hier op een van die houtstellasies staan, want voor jou oë begin die lug dig raak. Dit begin by die bome teen die horison en later kom fladder hulle nader aan jou verby soos wat die swerms kragte snoer.
Hoe verder jy kyk – bring ’n verkyker – hoe meer vlermuise sien jy. Daardie grys laag wat lyk soos die dag se laaste asem op die horison: dis nie rook nie, dis vlermuise.
Dís hoe miljoene lyk.
Hoe sien jy hulle?
Dis maklik om hier vlermuise te sien. Toeriste word in groepies verdeel en stap saam met ’n gids na afsonderlike houtstellasies. Sodoende sorg hulle dat jou ervaring nie ’n vertrapping is nie. Jy het ook genoeg plek op die stellasie vir jou kameratoerusting.
Teen sonsondergang verlaat die vlermuise hulle slaapbome, digte swerms vorm en dan – net voordat dit donker word – vlieg hulle in een groot swerm na hulle weiveld vir die nag. As daar ’n Bybelse vlermuisplaag was, sou dit só gelyk het.
Soggens is dit anders. Dis nog donker wanneer jy jou op die uitkykstellasie tussen al die ander toeriste staanmaak. Terwyl dit lig word, begin jy die vlermuise sien, dikgevreet ná ’n nag se gefuif tussen Kasanka se wildevrugteboorde. Hulle vlieg in kleiner swerms terug na die slaapbome, eskader op eskader. Die son se eerste strale skyn deur hulle hoekige vlerke. Jy kry ’n gevoel van die leeragtigheid van daai dun, elastiese vlerke.
As jy deur jou verkyker of kamera se zoemlens kyk, kry jy ’n amperse waardering vir die vlermuise se intelligente hondegesiggies: sommige lyk pure worshond, ander miniatuurDobermann. Jy wil later sommer een aanneem.
Roofvoëls hang vir kwaadgeld rond om die kolonie: arende (selfs visarende) en aasvoëls wag vir ’n swak of beseerde vlermuis wat grond toe val en slaan dan toe.
Hier is ook ’n uitkykpunt wat jy sonder ’n gids kan besoek. Dit is ’n entjie weg van die slaapstrook langs die rivier, en dus minder sensitief vir mense se bewegings. Sonsondergang is die beste tyd. Pak jou koelboksie, kry jou sit op ’n boomstomp (of gaan lê op jou rug, want hulle gaan óór jou vlieg) en wag dat die vertoning begin.
En wat skuil nog hier?
Die jaarlikse vlermuismigrasie het Kasanka in natuurliefhebberkringe beroemd gemaak (jy’ t dit dalk al op TV ook gesien, want die BBC se Planet Earth- ouens was al hier), maar wat van die res van die jaar?
Kasanka (sowat 400 km²) is ’n park wat jy meer as een keer kan besoek – die park het verskeie wildkykpaaie wat jy op jou eie kan ry. Kom jy buite vlermuisseisoen, is die plek byna verlate. Dan kan jy jou verlekker in die park se ander spesiale dinge. En nee, dis nie olifante (hier’s min) of leeus (geen) nie.
Min boksoorte in Afrika is meer eienaardig as die sitatunga, ook soms genoem die waterkoedoe. Hulle lyk eintlik meer na ’n bosbok en is soortgelyk in grootte. Maar dis by die hoewe waar die sitatunga hom van enigiets anders onderskei. Hulle is lank (tot 18 cm), dun en gesplete. Hierdie aanpassing maak die sitatunga meester van sy habitat: moeras, vleiland en rietbos. >