Maak kop skoon in die Kruger
Ons het onlangs die Lonely Bull-rugsakroete in die Krugerwildtuin gestap. Ons besoek die park gereeld en ’n mens raak gewoond daaraan om lang afstande te ry en net by die groter diere stil te hou.
Dis heelwat moeiliker om diere te voet te soek. Die diere hoor en ruik jou lank voordat jy hulle sien. Jy sien wel baie spore, jy hoor hulle rondom jou stamp en hardloop, soms ruik jy hulle selfs. Maar hulle verdwyn gou weer.
Ons het wel fantastiese oomblikke gehad: ’n olifant wat rustig wei, ’n buffel wat sorg vir ’n interessante veldtie, renosters wat naby ons tente drink en ’n paar seekoeie wat ons dophou soos wat ons nader aan die waterrand kom.
Ons het ook kleiner diere gesien: wawielspinnekoppe, sprinkane, miskruiers, boompaddas... En die voëls sing serenades in elke boom! Jy kamp in droë rivierbeddings en luister in die aande na die veldwagters se stories terwyl leeus iewers brul. Die volgende oggend sien jy olifantspore wat digby jou kampplek verbyloop én ’n perfekte luiperdspoor by ’n watergat. Ons kon selfs in die Letabarivier swem!
’n Mens besef opnuut hoe min jy nodig het om te oorleef, en hoe kwistig die mens as ’n spesie is.
INGE MARAIS, Centurion
Lees ook ons storie oor die drie dae lange Mathikithi-wildernisstaproete in die Krugerwildtuin op bl. 32. – Red.