KA­LA­HA­RI

Weg! - - News -

Van Wit­sand se brul­len­de dui­ne tot rég­te leeus in die K­gala­ga­di – hier’s jou reis­plan deur die Ka­la­ha­ri

WIT­SAND

WAAR DIE SAND (SOMS) BRUL

Die Wit­sand-na­tuur­re­ser­vaat gáán in jou hart kruip. Dis ’n plek van klein ple­sie­re: Om die vuur sit, in die veld stap, die sand tus­sen jou tone voel.

Be­gin jou va­kan­sie met twee aan­de hier so­dat die Ka­la­ha­ri die stads­ge­woel uit jou ge­moed kan weg­toor (of ein­dig jou roe­te hier om die ge­not uit te rek).

Hier loop nie ge­vaar­li­ke die­re rond nie; dus kan jy e­ni­ge plek in die re­ser­vaat stap. Dis soos om by jou oom-hul­le op die plaas te kui­er.

Google voor die tyd hoe ’n ie­ter­ma­go se spoor lyk, want Wit­sand is een van die bes­te plek­ke in die land om hier­die skaars dier te soek.

Brul­sand is waar­voor die re­ser­vaat be­kend is – dié ver­skyn­sel is meer al­ge­meen in die warm so­mer­maan­de wan­neer die sand droog en warm is en deur die wind aan­ge­blaas word en so­doen­de “brul”. In die win­ter kan jy steeds die wit sand­dui­ne uit­klim, som­mer net vir die uit­sig van bo af.

In­dien jy nie hou van stil­sit nie, kan jy duin­plank­ry – jy huur ’n plank by ont­vangs (R150 per dag). Wit­sand is ook die i­de­a­le plek om dié sport­soort vir die eer­ste keer te pro­beer: Hier’s nie­mand wat vir jou gaan lag wan­neer jy hol­der­ste­bol­der val nie! Jy kan ook ’n berg­fiets huur teen R120 elk per dag, en hier’s ’n swem­bad.

Die rus­kamp se ver­blyf lê wyd: Jy voel nooit op ’n hoop ge­druk nie. Hier is nie ’n re­stau­rant nie; maak dus se­ker jy b­ring al­les saam (die win­kel by ont­vangs ver­koop wel die no­dig­ste én ’n paar praktie­se aan­den­kings soos hoe­de, hem­de en wa­ter­bot­tels).

WEET VOOR JY WAAI

Kos­te Kamp (met krag­punt): R110 p.p. en R80 per kind (3-16 jaar). Ba­sie­se bun­ga­lows: R220 p.p.p.n. (R110 per kind). Luuk­ser klip­muur-en-gras­dak­cha­lets: R1 260 p.n. vir 2 men­se, daar­na R220 p.p. wat by­kom en R110 per kind (slaap­plek vir 6). Dis die geld werd – dit voel as­of jy in ie­mand se bos­veld­huis kui­er. Pen­si­oen­trek­kers kry 40% af­slag in die stil­ler maan­de – doen na­vraag.

Kon­tak 083 234 7573; wit­sand­ka­la­ha­ri.co.za

AUGRABIES

LAAT HY VAL WAAR HY WIL!

Ry tot by Gro­blers­hoop, draai noord op die N10 en swenk saam met die O­ran­je se kar­tels aan U­ping­ton toe. Jy’s nou in die hart­jie van die Groen-Ka­la­ha­ri, waar so­wat 10% van Suid-A­fri­ka se drui­we ver­bou word vir gro­ten­deels soet­wyn, ta­fel­drui­we en ro­syn­tjies.

Volg uit U­ping­ton die N14 wes – jy sal ’n groot to­ring met ’n wit lig aan sy bo­punt op reg­ter­hand ge­waar. Dit lyk soos ’n Bond-boos­wig se hoof­kwar­tier, maar is eint­lik die Khi So­lar One – ’n son­krag­sta­sie waar hek­taar op hek­taar vol spie­ëls son­lig (en hit­te) na die to­ring kaats en wa­ter dan in stoom­krag van 50 me­ga­watt om­ge­ska­kel word. An­ders ge­stel: ge­noeg e­lek­tri­si­teit vir 4 000 huis­hou­dings! Maar moe­nie só hard hier­oor dink dat jy die “Wel­kom in Kei­moes”-bord­jie mis­kyk nie – De Werf-re­stau­rant is net daar op reg­ter­hand.

Die De Werf S­pe­ci­al (R65 vir ei­ers, spek, Ka­la­ha­ri­wors, sam­pi­oe­ne, tamatie en roos­ter­brood) is ’n ste­wi­ge ont­byt, en as jy eers ’n bie­tjie la­ter in die dag hier aan­land, oor­weeg ge­rus die De Werf Dag­wood (van­af R70). En wan­neer laas het jy ’n C­re­me So­da- flo­at ge­drink?

Maak ook ’n draai by die in­lig­tings­ver­trek langs die re­stau­rant waar jy deur boe­ke en al­bums oor die Ka­la­ha­ri kan blaai. Hier leer ’n mens meer oor die ge­skie­de­nis van die streek, die land­bou en ook an­der bly­plek­ke en doen­din­ge wat jy vir jou vól­gen­de Ka­la­ha­ri-be­soek in ge­dag­te kan hou.

Net ver­by De Werf draai jy regs op die N14 na Ka­ka­mas, en skaars 1 km ver­der sal jy op lin­ker­hand een van die laas­te bak­kies­pom­pe sien. Hier in die GroenKa­la­ha­ri het die boe­re reeds in 1882 ’n ag­ter­me­kaar ka­naal­stel­sel aan­ge­lê om wa­ter uit die Oran­je­ri­vier te keer. By­kans el­ke huis het só ’n soort pomp ge­had waar­mee wa­ter uit die ka­naal na ho­ër­lig­gen­de grond ge­skep kon word. Dié slim wa­ter­wie­le is in 1987 tot na­si­o­na­le ge­denk­waar­dig­heid ver­klaar en die re­pli­ka wat hier staan, beeld goed uit hoe die me­ga­nis­me werk.

Nog ’n ki­lo­me­ter ver­der is die Sny­ders-ge­sin se Kei­moes-pad­stal op reg­ter­hand. ’n Mens val by­na op jou rug as jy die ver­skei­den­heid peu­sel­goed sien. Hier’s el­ke neut on­der die son, vrug­terol­le, pak­ke da­dels, gem­mer­stuk­ke, be­skuit...

Nou is dit voet in die hoek na waar die wa­ters raas. In die Augra­bies­wa­ter­val- na­si­o­na­le park stort die Oran­je­ri­vier 56 m na be­ne­de tot in ’n rots­ra­vyn wat soos die Su­ez­ka­naal in die land­skap uit­ge­kerf lê. >

Die rus­kamp is by die wa­ter­val ge­leë, en net­jie­se paad­jies lei jou na ver­skeie uit­kyk­pun­te (met vei­lig­heids­re­lings) stroom­af, reg­oor, en stroom­op van die wa­ter­val. Jy gaan kyk ook nie net een keer nie. Dis ’n ri­tu­eel waar­aan be­soe­kers ver­al vroeg­dag en laat­mid­dag deel­neem: wa­ter­val toe stap. In die mid­del van die dag kan dit baie warm word – wag dus vir wan­neer dit koe­ler is. Jy kan ook saans gaan kyk: Die wa­ter­val word van 7 nm.-9 nm. ver­lig.

Padlangs sien jy das­sies by die gros én veel­kleu­ri­ge Augrabies-pla­tak­ke­dis­se. Moe­nie laas­ge­noem­de vlak kyk nie: Dis ’n skaars rep­tiel wat net van Augrabies langs die Oran­je­ri­vier tot om­trent by Pel­la voor­kom. Gaan lê op jou maag en kyk of jy ’n lek­ker fo­to van een kan kry!

Eint­lik is Augrabies se groot­ste trek­pleis­ter nie die wa­ter­val nie, maar die ra­vyn wat om­trent 15 km stroom­af strek. Gee jou­self min­stens drie uur (die mid­dag as jy aan­kom, of die vol­gen­de og­gend) om rus­tig te ry – met ’n stop om na die Maan­rots en die Swart­ran­te te kyk – na ’n paar van die an­der uit­kyk­pun­te stroom­af. Ara­rat en Oran­je­kom is die naas­te en bes­te. Eg­go­hoek se uit­sig is nie so mooi nie, maar op pad soon­toe is jou kan­se goed om Augrabies se rid­der­li­ke klein klip­sprin­gers te sien.

Soos met die mees­te van ons na­si­o­na­le par­ke se rus­kam­pe kry jy goeie waar­de vir jou geld, selfs al is Augrabies se rus­kamp nou al goed “in­ge­leef”, sal ons maar sê. (In die een­heid waar­in ons oor­nag het, het die bad­ka­mer­verf be­gin af­dop.) Jy kan vir jou­self sorg (die kamp­win­kel het re­de­lik voor­raad in­dien jy ver­geet het om el­ders in­ko­pies te doen) óf by hul­le re­stau­rant eet.

WEET VOOR JY WAAI

Kos­te Park­toe­gang: R44 p.p. en R22 per kind (gra­tis vir Wild Card-hou­ers). Kamp: R250 p.n. per staan­plek vir 2 men­se, daar­na R88 p.p. wat by­kom of R44 per kind (slaap­plek vir 6). C­ha­lets: van­af R1 170 p.n. vir 2 men­se, daar­na R240 p.p. wat by­kom en R130 per kind (slaap­plek vir 4). Ge­sin­skot­hui­se: van­af R1 890 p.n. vir 4 men­se, daar­na R260 p.p. wat by­kom en R130 per kind (slaap­plek vir 6).

Lus vir iets spe­si­aals? Be­spreek die Gor­ge-kot­huis wat uit­kyk oor die ra­vyn – dit is by die Oran­je­komuit­kyk­punt en weg van die hoof­kamp af. Jy het dus saans die plek vir jou­self. Dit kos van­af R1 715 p.n. vir 2 men­se.

Kon­tak 012 428 9111 (be­spre­kings); san­parks.org

RIEMVASMAAK

BAAI IN DIE MAANLIG

Die bes­te pad Riemvasmaak toe is 95 km lank en vat jou met ’n láng draai te­rug deur Ka­ka­mas. Daar is eg­ter ’n mooi­er (en half­pad kor­ter!) pad deur die V­re­des­val­lei. Jy’t nie ’n 4x4 no­dig nie, maar wel ’n ry­ding met ’n bil­li­ke grond­vry­hoog­te: Ry van die Augra­bies­hek af 600 m te­rug tot by die skuins T-aan­slui­ting en draai regs op die R359.

’n Ki­lo­me­ter ver­der vurk die pad weer; hou links aan op die teer en draai dan 14 km ver­der regs vir die V­re­des­val­lei. Jy ry nou deur ’n min­der be­ken­de deel van die Augra­bies­wa­ter­val- na­si­o­na­le park. Draai by die T-aan­slui­ting tus­sen die win­gerd­blok­ke links; kort hier­na kruis jy die Oran­je­ri­vier so­wat 22 km stroom­af van die wa­ter­val; ry dan ver­by die V­re­des­val­lei-ne­der­set­ting en daar­na be­gin die pret!

Hier­die skof deur die ber­ge is een van die mooi­stes op die he­le roe­te, met groot ko­ker­bo­me en selfs ’n piek­niek­plek met ’n wye uit­sig waar jy die kof­fie­fles kan

oop­skroef. Dis plek-plek klip­pe­rig en steil. Vat dit sta­dig, want hier’s nie sel­foon­sein nie en dit kan ure wees voor­dat ’n an­der ry­ding ver­by­kom.

Nes jy voel jy kan nie lan­ger aan die skom­me­len­de kar se stuur­wiel vas­klou nie, ver­skyn Riemvasmaak se kan­toor in jou voor­ruit. Nou’s dit net vir in­te­ken, af­ry in die kloof en dan kan jy jou­self lek­ker in die warm­wa­ter­bron gaan la­we.

Riemvasmaak se swem­plek­ke (bui­ten die bron is hier ook ’n kou­e­wa­ter­swem­gat 100 m in die kloof af ) en kamp­ter­rein lê in die droë loop van die Mo­lo­po­ri­vier met hoë kran­se aan weers­kan­te. Soek vir a­rend­nes­te teen die han­ge ter­wyl jy op jou rug dryf. Dis taam­lik be­skut teen die wind hier in die kloof; jy sal ná aand­e­te weer in die warm wa­ter wil kom sit tot­dat jou vin­ger­pun­te ro­syn­tjie trek, met die maan en die ster­re vir ge­sel­skap.

Die kamp­ter­rein het staan­plek vir drie groe­pe (ses men­se mak­si­mum) en twee spoel­toi­let­te. Hier’s slegs ’n kou­e­wa­ter­bos­stort, maar jy gaan mos swem, wat.

B­ring ver­kies­lik jou eie drink­wa­ter saam. Riemvasmaak het ook ses hut­te, elk­een met ’n dub­bel­bed en twee en­kel­bed­dens, ’n kom­bui­sie, bad­ka­mer (warm stort!) en ’n braai­plek.

WEET VOOR JY WAAI

Kos­te Kamp: R135 p.n. vir 2 men­se, en R25 p.p. wat by­kom (mak­si­mum 6 men­se). Hut: R525 p.n. plus R50 p.p.p.n. (slaap­plek vir 4). (Geen kaart­ge­rie­we nie; b­ring kon­tant saam.)

Kon­tak 073 383 8812; 083 873 7715 (Cla­ris­sa Da­ma­ra, 24 uur); da­ma­ra­cla­ris­sa@gmail.com

Wat nog? Riemvasmaak het 3 stap­roe­tes (6 km, 12 km en 24 km) en jy kan jou berg­fiets saam­bring. Hier’s ook drie 4x4-roe­tes (R150 per voer­tuig per dag, plus R25 p.p.)

KOP­PIE­S­KRAAL­PAN

’N AANDJIE OP ’N AN­DER PLA­NEET

Nog een vin­ni­ge plons en dan moet jy maar aan­stoot – Kop­pie­s­kraal­pan lê ver. Maar eers: ’n lek­ker bord mie­lie­pap by Berg en Dal aan die bui­te­wy­ke van Riemvasmaak.

Dié ou­li­ke re­stau­rant be­hoort aan Norbert Coet­zee, ’n veld­gids van Voet­spo­re- faam, en wan­neer hy nie self hier is nie, staan Ja­ne Louw en Ri­di Ma­pi­ka­na (skoon­sus­ters) aan die stuur van sa­ke. Dis ’n vro­li­ke, in­for­me­le plek­kie, e­tes word in ’n men­gel­moes breek­wa­re be­dien en jy kan van ’n roos­ter­koek en ’n glas melk tot ’n bord groen­boon­tjie­bre­die met slaai en rys be­stel. Maar daai mie­lie­pap... Dis diép lek­ker!

Ter­wyl jy op die stoep sit en smul, ver­tel Ja­ne en Ri­di jou Riemvasmaak se sto­rie: Die Suid-A­fri­kaan­se weer­mag wou die ge­bied in die ja­re 70 ge­bruik vir wa­pen­toet­se en die oor­spronk­li­ke in­wo­ners is toe ver­plaas na Mier na­by A­skham, dor­pe in die Oos-Kaap, as­ook K­ho­rix­as in Na­mi­bië. Se­dert 1994 kon baie van die Riem­vas­ma­kers weer te­rug­ge­keer. Maar die men­se kry swaar – bui­ten die warm­wa­ter­bron is die naas­te werk­ge­leent­he­de op Ka­ka­mas. On­der­steun hul­le ge­rus en koop ook som­mer ’n suur­deeg­brood (R20) voor­dat jy ry.

Van Berg en Dal af ry jy 27 km tot by ’n T-aan­slui­ting waar jy links draai en 15 km ver­der­aan weer links draai. Hou 43 km noord tot by Lut­z­puts waar die pad ’n skerp draai maak en 11 km ver­der die N10 kruis. Van­dag be­gin jy daar­die reg­te Ka­la­ha­ri-ge­voel kry soos wat die land­skap om jou al hoe plat­ter en o­per strek, met dui­ne oor­trek van boes­man­gras en suur­gras en af en toe ’n as­wit sout­pan.

Wees op die uit­kyk vir bak­oor­jak­kal­sies – hier’s báie van hul­le op die paaie! >

GOED OM TE WEET

K­GALA­GA­DI-OOR­GRENS­PARK

Al drie rus­kam­pe het ’n swem­bad, vul­sta­sie, en ’n win­kel met al­les van ys en vleis tot tan­de­pas­ta en sjam­poe. Twee Ri­vie­ren het ook ’n re­stau­rant en ki­osk met weg­neem­e­tes.

Be­spreek nou! Hou in ge­dag­te dat die park ge­wild is: In­dien jy in ’n skool­va­kan­sie wil kom, moet jy min­stens ’n jaar voor­uit be­spreek. Jy kan, soos by an­der San­par­ke, spe­si­fie­ke hui­sies pro­beer be­spreek – die ver­soek moet di­rek aan die rus­kamp ge­rig word.

Waar­mee ry ek? Die park be­veel ’n voer­tuig met ’n goeie grond­vry­hoog­te aan, maar hier is wel toe­ris­te wat met ge­wo­ne se­dans rond­ry.

Kos­te Be­wa­rings­ta­rief: R82 p.p.p.d. en R41 per kind jon­ger as 12. (Gra­tis vir Wild Card-hou­ers.)

Kon­tak 012 428 9111; san­parks.org/k­gala­ga­di

Hou maar net aan so al noord; 22 km an­der­kant Noe­nie­put draai jy regs. T­hi­nus en Lan­da Con­ra­die se plaas, Ink­bo­span, is 67 km ver­der­aan op lin­ker­hand.

Soos die naam sug­ge­reer, is daar op hier­die plaas ’n pan. Die een waar jy eg­ter van­aand kamp op­slaan, is op Kop­pie­s­kraal­pan, die aan­gren­sen­de plaas wat aan Lan­da se ou­ers be­hoort. Dis nog so­wat 25 km van die werf af. T­hi­nus sal voor­af sorg vir ’n put­toi­let en ge­noeg hout. Daar­na is jul­le stok­siel­al­leen op dié vlak­te van 100 km², met geen an­der te­kens van le­we nie.

Gaan stap ’n ent, pak ’n vuur­tjie wan­neer jy te­rug­kom en ge­niet dan die tjoep­ste stil­te wat jy al ooit ge­hoor het. Dis net so goed jul­le sit van­aand saam met die Klein Prin­sie op sy pla­neet – voor­waar ’n er­va­ring wat jy nie gou weer sal te­ë­kom nie.

WEET VOOR JY WAAI

Kos­te Kamp: R100 p.p.p.n. en ’n groot sak ka­meel­do­ring­hout kos R50. Lan­da ver­koop braai­pak­ke (2 tjops en ’n stuk wors) teen R70 p.p.; be­stel voor­af. Na­by Ink­bo­span se werf is ook ’n paar ba­sie­se jag­ters­hui­sies te huur teen R200 p.p.p.n.

Kon­tak 083 564 4613 (Lan­da); kop­pie­s­kraal@gmail.com

KA­LA­HA­RI TRAILS

MAAK MAATS MET ’N MEERKAT

Pak rus­tig in (daar­die ka­meel­do­ring­ko­le van gis­ter­aand is dalk selfs nog warm ge­noeg om ’n brek­fis­vuur­tjie aan die gang te kry) en ge­niet vir ou­laas die niks­heid voor­dat jul­le op Ink­bo­span gaan groet.

Die Con­ra­dies boer met sus­sex-bees­te en ver­skeie skaap­ras­se soos me­at­mas­ter, dor­per en swa­ka­ra.

Koop som­mer hier ’n vlei­sie vir die vol­gen­de paar aan­de se braai, want K­gala­ga­di-in­ko­pies is dúúr. Ont­hou ook om die vo­ri­ge dag reeds met die Con­ra­dies te re­ël in­dien jy ’n draai deur die veld wil ry. Hier loop nog ’n trop­pie na­sa­te van die kamele wat die be­re­de po­li­sie in die ou dae in hier­die dui­ne­veld ge­bruik het op hul­le plaas. T­hi­nus kan jou uit­neem na waar die ou os, Ven­ter, en sy kud­de hou.

Hou noord oor die R31 in die rig­ting van die K­gala­ga­di-oor­grens­park. Ka­la­ha­ri Trails lê ’n ha­ne­tree­tjie af in die pad op lin­ker­hand. Ont­hou om die hek ag­ter jou toe te maak, want die hans gems­bok, Hou­di­ni, glip al­te graag uit.

Die gas­te­huis is glad nie luuks nie, maar het ka­rak­ter soos min. Dit voel as­of jy in ’n lek­ker ou lo­sies­huis tuis­gaan, met tal­le ka­mers van ver­skil­len­de groot­tes, kra­ne wat op ’n koue og­gend al stot­te­rend le­we kry, ’n self­sorg­kom­buis met gas­sto­we en ’n sit­ka­mer vol tyd­skrif­te uit die jaar toet. Nee wat, hier steur nie­mand hul­le aan fie­ter­ja­sies nie: Maak jou­self tuis!

Ka­la­ha­ri Trails is prof. An­ne Ra­sa se wild­re­ser­vaat. Dié we­ten­skap­li­ke is oor­spronk­lik van Wal­lis, maar het – ná ver draaie die wye wê­reld oor – hier in die Ka­la­ha­ri be­land om na­vor­sing oor ’n dwerg­muis­hond­spe­sie te doen. En hier’s sy nog steeds – 20 jaar la­ter!

Sy kan jou a­von­tuur­li­ke sto­ries van haar ja­re in die veld ver­tel, maar dees­dae is die pro­fes­sor meer rond­om die huis waar sy om­sien na die re­ha­bi­li­ta­sie van meer­kat­te wat as troe­tel­die­re aan­ge­hou is en weer in die na­tuur moet leer aan­pas. Een van die meer­kat­ko­lo­nies hou hier op die werf (’n mens kan die ga­te wat hul­le o­ral gra­we, nie mis­kyk nie!) en teen laat­mid­dag sit die prof ge­woon­lik op haar ag­ter­stoep en ge­niet die laas­te son saam met haar kroos ter­wyl sy vir hul­le fyn vlei­sies voer. Stap ge­rus dan oor – dit kos R100 p.p.

Van­aand pak jy weer ’n groot, ge­sel­li­ge ka­meel­do­ring­hout­vuur in die la­pa ag­ter die kom­buis. Luis­ter fyn – wat­ter uil­tjie roep daar?

Kos­te Kamp: R100 p.p.p.n. Dub­bel­ka­mer met ’n ge­deel­de bad­ka­mer: R400 p.n. En sui­te-ge­sins­ka­mer: R600 p.n. (slaap­plek vir 3). Die los­staan­de cha­let is pri­vaat: R1 000 p.n. (slaap­plek vir 4).

Kon­tak 054 511 0900; 072 277 2377; ka­la­ha­ri-trails.co.za

Wat nog? Hier hou nie roof­die­re by Ka­ha­la­ri Trails nie, maar wel ’n hor­de wild­spe­sies en so­wat 200 vo­ël­spe­sies. Die wil­drit­te, na­grit­te en ske­mer­kel­kie­rit­te kos elk R200 p.p. Die be­ge­lei­de dui­ne­toer (R150 p.p.) wat ’n mens te voet saam met ’n veld­gids doen, is ’n er­va­ring soos min: Jy leer hoe ka­meel­do­rings met die noor­de­wind se hulp vir me­kaar fe­ro­moon­bood­skap­pe stuur, wat die gems­bok se eet­ge­woon­tes is, hoe die blou­kop­kog­gel­man­der wys daar’s re­ën op pad, wat­ter sker­pi­oen vroe­ër hier ver­by is en, ja wrag­gies – kyk, hier’ t hy iets ge­vang en ge­vreet. Be­spreek voor­af.

MATA-MATA

K­GALA­GA­DI, HIER KOM ONS!

Va­nog­gend ry jy K­gala­ga­di toe. Die Twee Ri­vie­ren-hek is maar 37 km van hier af, maar jy wil se­ker­lik nog van­dag ’n paar wild­kyk­draaie ry voor­dat die son sak. Wees op die uit­kyk vir ver­sa­mel­vo­ël­nes­te en wit­rugaas­vo­ëls op die boom­top­pe en maak eers ’n draai by die K­gala­ga­di Lod­ge. Hier’s ’n win­kel met ’n bak­ke­ry waar jy vars brood en rol­le­tjies kan koop en an­der in­te­res­san­te goe­te soos blou­wil­de­bees­wors (R60 per pak) en gems­bok­so­sa­ties (R150/kg). Hier’s ook ’n fên­sie re­stau­rant met ’n uit­sig oor Botswa­na as jy lus het vir ghrênd kos en ’n Ka­la­ha­ri­boe­tiek­bier (Puff Ad­der Weiss of Meerkat IPA) voor­dat jul­le die gra­ma­doe­las in­vaar.

Die Twee Ri­vie­ren-hek is ook ’n grens­pos, maar din­ge ver­loop ge­o­lie en dit be­hoort nie lank te vat om in te te­ken en ’n pad­kaart te kry nie.

Die pad na Mata-Mata is een van die hoof­wild­kyk­roe­tes – ry dus sta­dig en laat die kin­ders die­re af­merk.

Die Auch­ter­lo­nie-piek­niek­plek lê bo-op ’n rant­jie en is ’n ga­we eer­ste stil­hou­plek. Van hier af het jy ’n wye uit­sig oor die droë Au­o­b­ri­vier­bed­ding. Jy kan dus van ver af sien of ’n trop blou­wil­de­bees­te of s­pring­bok­ke op pad is na die ge­lyk­na­mi­ge wa­ter­gat on­der in die ri­vier­loop.

By Auch­ter­lo­nie is ’n o­pe­lug­mu­seum waar jy ’ n i­dee kan kry van hoe die eer­ste boe­re en boor­gat­wag­ters des­tyds ge­le­we het. Hier’s ’ n ou klip­hui­sie, vee­kraal en smids­win­kel. Jy kan net dink hoe bly hier­die men­se moet ge­wees het as hul­le die stof­wol­kie ge­sien het van ’n kui­er­gas wat in die ver­te aan­kom.

Dees­dae kan be­soe­kers on­der hout­dak­kies ’ n wor­sie braai vir mid­dag­e­te en die stil land­skap be­spied. Hier is ook toi­let­te.

Van hier af is dit nog so­wat 80 km tot by Mata-Mata. Jy wil nie te laat by die rus­kamp aan­kom nie: Jy wil im­mers gou Na­mi­bië toe stap na­dat jy af­ge­pak het – ont­hou jou pas­poort. Die Sit­zas-pad­stal is so­wat 200 m van die Mata-Mata-grens­pos af. Hier kry jy al­ler­han­de pad­stal­staat­ma­kers soos bil­tong, dro­ë­wors, koek­sis­ters, be­skuit en in­ge­leg­de vye. Hul­le ver­koop ook lam­s­tjops teen R75-R90 per kg, wat heel­wat goed­ko­per is as die park se pry­se.

Ry laat­mid­dag uit na die Sit­zas-wa­ter­gat (dis nou weer aan die SA kant) so­wat 8 km van die rus­kamp af en par­keer on­der die groot ka­meel­do­ring­boom. Die wa­ter­gat is ’n bie­tjie ver, maar lang­lens­man­ne be­hoort hier­die tyd van die dag ’n paar mooi fo­to’s te kan neem.

Ná jul­le laat­and ge­braai het, kan ’n mens in die skui­ling langs die kamp se wa­ter­gat gaan sit. Hier kom drink dalk ’n ys­li­ke trop gems­bok­ke on­der die sprei­lig­te – dis ver­maak­lik om die ma­je­stu­eu­se bok­ke dop te hou ter­wyl hul­le voet­jie vir voet­jie na­der kom en hul­le mal skrik vir die ge­ring­ste >

GOED OM TE WEET ANT KOERA SE PLAAS­KOM­BUIS

Kos­te R120 p.p. vir mid­dag­e­te. Jy kan ook vroe­ër in die dag hier in­swaai vir ont­byt soos ’ n o­me­let en wors of ’n roos­ter­koek en kof­fie. Kon­tak 083 588 8346 (tan­nie Koera); aunt­koe­ra@gmail.com Wat nog? Jy kan hier kamp teen R150 p.p.p.n. Hier’s spoel­toi­let­te en ’n bui­te­stort waar­voor die wa­ter (na­tuur­lik) in ’n swart­pot ge­kook word.

DI­A­MOND T-KOF­FIE­WIN­KEL

Moe­nie huis toe ry son­der om een van hul­le wilds­vleis­pas­teie (R35) te be­stel nie.

Oop Ma.-Vr. 8 vm.-5 nm.; Sa. tot 1 nm.

Kon­tak 054 511 0025 ge­luid. (Dis net ’n rooi­jak­kals, ou­ens.)

Die Mata-Mata-rus­kamp is klein – hier’s net 20 staan­plek­ke. Be­derf jul­le ge­sin met ’n luuk­se self­sor­ghui­sie teen die ri­vier­oe­wer, dan draf die jak­kal­se som­mer nef­fens jul­le stoep ver­by.

WEET VOOR JY WAAI

Kos­te Kamp: van­af R305 vir 2 men­se, R88 p.p. wat by­kom en R44 per kind (slaap­plek vir 6). Self­sor­ghui­sies: van­af R1 015 p.n. vir 2 men­se tot R2 805 p.n. (ri­vier­uit­sig) vir 4 men­se.

Kon­tak 054 561 0907

NOSSOB

’N DAG VIR LEEUS

Van die re­ser­vaat se bes­te wa­ter­ga­te lê van­dag langs drie kort sir­kel­paad­jies aan die noord­oos­te­li­ke kant van die hoof­pad: Dal­keith, Veer­tien­de en Der­tien­de Boor­gat... Ry sta­dig en draai by elk­een in. Jy sien die wa­ter­gat wat voor jou in die ri­vier­bed­ding lê met die rooi dui­ne in die ver­te.

Op pad ry jy ver­by ka­meel­do­ring­bo­me met groot stuk­ke gras­veld tus­sen­in. Jou kan­se is goed om s­pring­bok­ke, gems­bok­ke of wil­de­bees­te te sien wei en jy’s by­kans ge­waar­borg om ka­meel­per­de hier rond te ge­waar. In 1991 is agt ka­meel­per­de “in­ge­voer” van die E­tosha- na­si­o­na­le park af; dees­dae is hier so­wat 60 ka­meel­per­de in die K­gala­ga­di.

Draai ná die Kam­qua-wa­ter­gat af op die Ho­ër Dui­ne­pad. Bui­ten ’n een­sa­me gems­bok en ’n ver­dwaal­de vol­struis of twee is hier ge­woon­lik nie veel die­re nie. Maar die grond­pad is mooi en lê soos ’n wit lint op die o­ran­je dui­ne. Hier’s jy nou ín die Ka­la­ha­ri-woes­tyn!

Dié pad ver­bind die Au­o­b­ri­vier­pad met die Nos­so­b­ri­vier­pad. So­dra jy op die Nos­so­b­pad is, mik vir die Dik­baard­skolk-piek­niek­plek.

Wees by die piek­niek­plek op die uit­kyk vir rooi­bors­laks­man­ne, klein­glans­spreeus en spek­vre­ters in die ka­meel­do­ring­bo­me ter­wyl jou wor­sie op die ko­le sis. En be­trag die land­skap om jou – ’n trop­pie s­pring­bok­ke sui­ker dalk in die ri­vier­loop ver­by en daai bos­sies wat lyk as­of dit be­weeg, is waar­skyn­lik ’n meer­kat­ko­lo­nie wat rond­snuf­fel vir kos.

Van Dik­baard­skolk af mik jy nog ver­der die ver­ge­tel­heid in. Dink ’n bie­tjie aan die kaart van SuidA­fri­ka en in wat­ter ver­af­ge­leë hoe­kie jul­le nou die Nossob-rus­kamp na­der. On­danks dié rus­kamp se ve­rin-die-wê­reld-fak­tor is dit by­kans heel­jaar vol­be­spreek. Die re­de? Nossob is leeu­wê­reld – tot so ’n ma­te dat die rus­kamp se hek te al­le tye ge­sluit word. Daar­die fo­to’s van ’n spul leeus wat som­mer so in die pad lê? Dit word ge­woon­lik op die paaie rond­om dié kamp ge­neem. So­dra jul­le af­ge­pak het, gaan maak ’n draai by die rus­kamp se skui­ling wat oor die droë Nos­so­b­ri­vier­bed­ding uit­kyk.

Ter­wyl die son sak, moet jy jou ore ge­spits hou: Die ge­brul kan e­ni­ge tyd be­gin!

WEET VOOR JY WAAI

Kos­te Kamp: van­af R305 vir 2 men­se, R88 p.p. wat by­kom en R44 per kind (slaap­plek vir 6). Luuk­se kamp­plek­ke: van­af R600 p.n. vir 2 men­se, R150 p.p. wat by­kom en R75 per kind (slaap­plek vir 6). Self­sor­ghui­sies: van­af R1 065 p.n. vir 2 men­se tot R2 805 p.n. (ri­vier­uit­sig) vir 4 men­se.

Kon­tak 054 561 0903

TWEE RI­VIE­REN

STA­DIG MAAR SE­KER HUISWAARTS

Staan vroeg op en gaan drink ’n og­gend­kof­fie by die skui­ling. Dis so­wat vier en ’n half uur se ry tot by Twee Ri­vie­ren, maar sit min­stens se­we uur op­sy. Wie weet wat

wag by die wa­ter­gat! Vat die Ma­rie se Draai-af­draai – die Ma­rie se Gat-wa­ter­gat lê langs dié 11 km-sir­kel­pad. Leeus en jag­lui­perds word ge­reeld hier­langs ge­waar.

Af­han­gen­de van hoe op­win­dend die wild­kyk langs die pad is, hou stil by die Dik­baard­skolk- of Melk­vlei­piek­niek­plek, nog so­wat 60 km ver­der, en eet jul­le toe­brood­jies on­der die ka­meel­do­ring­bo­me. Wees op die uit­kyk vir gom­poue in die Melk­vlei-om­ge­wing.

Hou die rant­jies aan jou reg­ter­kant dop ter­wyl jy suid ry, ver­al in die om­ge­wing na­by Twee Ri­vie­ren – daar staan dalk ’n leeu of jag­lui­perd wat die droë ri­vier­loop be­spied vir ’n paar niks­ver­moe­den­de spring­bok­kies.

Om­dat dit die mees­te be­soe­kers se eer­ste óf laas­te oor­nag­plek in die re­ser­vaat is, is die kamp­plek ge­woon­lik nog­al be­dry­wig. Die paar self­sor­ghui­sies (no. 1-8) wat heel ag­ter in die hoek van die rus­kamp teen die draad staan, is meer pri­vaat. Die swem­bad is ’n wel­ko­me la­fe­nis­sie ná die lang dag in die mo­tor.

WEET VOOR JY WAAI

Kos­te Kamp (son­der ’n krag­punt): van­af R265 vir 2 men­se (slaap­plek vir 6), en R305 p.n. met ’n krag­punt. Self­sor­ghui­sies: van­af R1 120 p.n. vir 2 men­se.

Kon­tak 054 561 2000

VANZYLSRUS

EEN LAAS­TE KA­LA­HA­RI-‘CLAS­SIC’

Die Sa­me­vloei­ing-wa­ter­gat is so­wat 5 km van die rus­kamp af. Neem vroeg­og­gend stel­ling in met ’n kof­fie en wag vir ’n rooi­jak­kals of ’n vaal­bos­kat wat ná die nag se jag sy dors kom les.

En selfs al flad­der hier net ’n paar tor­tel­dui­we en kel­kie­wy­ne rond, ge­niet ’n mens die een­voud van dié plek waar die­re nog die oorhand het.

Pomp jou ban­de voor­dat jy by die re­ser­vaat uit­ry en hou dan reg­uit ver­by Ka­la­ha­ri Trails (baai, Hou­di­ni!) tot by An­dries­va­le se groot krui­sing. Draai hier links op die R31, en voor jy nog in vier­de rat is, sal Ant Koera se Plaas­kom­buis op reg­ter­hand ver­skyn. Nou’s jy in vir ’n groot be­derf!

Tan­nie Koera S­teen­kamp mág maar kook, en hier by haar veld­re­stau­rant ge­beur al­les op die vuur. Om vir mid­dag­e­te aan te sit moet jy voor­af be­spreek (en ’n groep van min­stens drie men­se wees). Ter­wyl al­mal in die kook­skerm aan ’n roos­ter­koek sit en peu­sel, to­wer die tan­nie die lek­ker­ste maal­tyd uit die swart­pot­te op: wild- of skaap­vleis, groen­te, stamp­mie­lies of rys... jy gaan jou vin­gers af­lek!

Gooi brand­stof in op A­skham. Draf dan gou by die Di­a­mond T-kof­fie­win­kel aan die on­der­punt van A­skham se hoof­straat in vir ’n vin­ni­ge kof­fie en ’n sny melk­tert of koek (as jy hoe­ge­naamd nog ’n gaat­jie het!).

Vanzylsrus is nog ’n goeie 150 km se grond­pad ver. Maar nes jy be­gin moe­de­loos raak, ge­waar jy die pad­te­ken in die lang gras: Ont­span, dit is Vanzylsrus.

Draai by die stop­straat links en daar’s hy: hier­die uit­hoe­kie van ons land se oa­se.

Die Vanzylsrus-ho­tel is le­gen­da­ries: Teen die kroeg­mu­re is ge­raam­de ar­ti­kels oor die ge­skie­de­nis van dié dor­pie, die groot gees­te wat hier deur is, die rug­by­span­ne en ook die ver­haal van At­tie en Di­na Lub­be wat in die ja­re ses­tig die be­skeie Gems­bok-ho­tel hier be­gin het. Jy sal waar­skyn­lik ook ’n jag­groep of vier in die kroeg aan­tref.

Hier’s ook ’n soort Hall of Fa­me waar be­soe­kers boodskappe op brons­plaat­jies laat – men­se soos Giel Coet­zee (“V­re­den­burg se Bul”), An­sa en P­hil­lip van der Mer­we (“Lek­ker my lam, lek­ker!”) en ene Ri­aan en Gys wat hul­le kui­er­tjie op­ge­som het as “Nie hier vir ’n lang tyd, hier vir ’n goeie tyd”.

Dees­dae is die ho­tel El­bie en Pe­tro Jon­ker s’n en hul­le het die plek só keu­rig en ge­sel­lig in­ge­rig dat jy waar­skyn­lik reeds van­aand al be­gin uit­werk wan­neer jul­le weer hier kan kom draai. Maar moe­nie vrees nie – die Ka­la­ha­ri gaan nê­rens heen nie. Be­stel die spring­bok­fi­let met ’n room­sou­sie, groen­bo­ne, ka­pok­aar­tap­pels en soet­pa­tats (R130), gee daai jo­li­ge jag­ters hul­le sin en drink saam ’n bier­tjie, en ge­niet die Ka­ha­la­ri se groot hart vir ou­laas.

WEET VOOR JY WAAI

Waar? O­li­vier­straat 27. Kos­te ’n Dub­bel­ka­mer (met ’n mooi ver­sier­de en sui­te-bad­ka­mer – Pe­tro se ma, Le­nie, is die mo­sa­ïek­kuns­te­naar): R590 p.n. (R750 vir een per­soon). Ge­sins­ka­mer: R2 000 vir 2 per­so­ne, of R490 p.p. vir 3 of meer men­se. (slaap­plek vir 4). Ont­byt in­ge­sluit by al die pry­se.

Kon­tak 053 781 0201; van­zyls­rus­ho­tel.com

WIT­SAND

AUGRABIES

KLIPSPRINGER

RIEMVASMAAK SE WARMWATERSWEMGAT

INK­BO­SPAN SE WIT KAMELE

RIEMVASMAAK IN DIE MOLOPORIVIERLOOP

JA­NE EN RI­DI, BERG-EN-DAL

MEER KAT­TE EN SPOORSNY, KA­LA­HA­RI TRAILS

AUCH­TER­LO­NIE-PIEK­NIEK­PLEK

NOSSOB-MAANHAAR

TWEE RI­VIE­REN

VANZYLSRUS-HO­TEL

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.