Weg!

AGTER DIE SKERMS

-

Vir ons Klassieke Kalahari-roete (sien bl. 34) het die joernalist­e wye draaie in dié uithoek van die land gaan gooi en met meer as net rooiduine, stil nagte onder die sterre en gawe grondpaaie kennis gemaak. Daar moes ook moue opgerol word, vertel Sophia van Taak.

Die nag nadat ek op Koppieskra­alpan gekamp het, ry ek vroegdag aan by die betrokke boere se werf op hulle aangrensen­de plaas, Inkbospan – ’n mens wil darem gaan dankie sê en groet voordat jy weer aanstoot. Daar gekom, roep die boervrou Landa Conradie uit die kombuis toe ek by die voordeur klop: “Kom in, ek is hier agter!” En met “agter” bedoel sy toe agter ’n hoop gemsbokvle­is waarvan haar man, Thinus, net nóg boude en blaaie aandra. ’n Groot groep stappers sou die aand op Inkbospan oornag, en Landa moes eers die berge vleis wegwerk voordat sy vir hulle kon begin kook.

Ek wou eintlik dié dag Rietfontei­n aandoen en ook Hakskeenpa­n langs ry, maar my prioriteit­e het gou verander. Van slag weet ek bra min, maar toe ek aanbied om te help het Thinus blitsig drie messe geslyp en aangegee, en Landa het beduie: “Hierdie vliese, hulle moet af. Daai senings, almal uit – gebruik jou skerppuntm­essie. Nee, nog kleiner blokkies, dié stukke maal ons.”

Só sit ons heeldag en gemsbok werk en koffie drink en dik stukke om die kombuistaf­el en gesels. Hoe lui die gesegde? When in the Kalahari…

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa