ITALIAANSE ALPE
Die leser Zania Viljoen verken die Mont Blancbergreeks op ’n ferrata- roete wat die adrenalien laat pomp én vir ’n ongelooflike uitsig sorg
Wat vir ’n ding is ’n via ferrata? Soms op reis moet ’n mens net ja sê, al weet jy nie presies waarvoor nie. Só beleef die leser Zania Viljoen ’n avontuur
en van die mooiste uitsigte in die Italiaanse Alpe.
Indien ons vooraf verstaan het presies wat ’n via ferrata is, sou ons seker nie só gewillig saam met twee onbekende Italiaanse studente dié deel van die Alpe ingevaar het nie. Dankie tog vir ons onkunde, want anders het ons ’n wonderlike ervaring misgeloop! Ek en ’n vriendin, Tania de Jongh, het in Julie verlede jaar na die noorde van Italië gereis. Die aanvanklike plan was om die Tour du Mont Blanc te stap – ’n 170 km-sirkelroete rondom dié Mont Blanc-bergreeks deur Italië, Switserland en Frankryk. Maar ons tyd was min en ons was te nuuskierig oor die res van Italië. Op die ou einde het ons ’n paar dae aan die voet van dié berg gekamp en die omgewing en ook die Italiaanse Dolomiete verken.
Op ons eerste dag in Italië daag ek en Tania vroegaand op by die La Sorgente-kampterrein aan die voet van Mont Blanc-spits. Die kampterrein is net buite Courmayeur, een van die talle fraai dorpies in die noordooste van Italië.
Mattia Bottini, ’n student van Milaan, werk hier vir die somervakansie. Hy wys vir ons ’n staanplek naby die ablusieblok.
Ons pols vir Mattia oor lekker dagstappe in die omgewing. Hy beveel aan ons doen óf Mont
Chetif, “an easy hike to the peak, with a view of Mont Blanc,” óf klim na die Refugio Borelli (’n staphut), “more fun because you do ferrata”.
Nonchalant verduidelik hy “ferrata” só: Dis ’n uitgewerkte roete waar jy hier en daar jou harnas aan ’n kabel haak om oor rotse en teen skuinstes op te klim. “Much more fun.”
Hoe dan nou anders? As ’n gesoute Italiaanse bergklimmer vir jou sê “klim dié berg,” wel bobbejaan, dan klim jy daai berg.
Ons mars toe skuins ná agt die volgende oggend met ’n pletterpet en harnas in ons rugsak na die Aiguille Noire de Peuterey, die berg waarteen die Refugio Borelli hang. Klimmers kan hulle eie toerusting gebruik; ons het elk ’n stel by die kampterrein gehuur (€10 p.p.p.d.). Ek neem aan dat die uitstappie saam met ’n gids ’n paar rand werd was, maar Mattia wou sy vriend, Mohammed, toevallig daai dag die berg wys en ons piekel saam.
Die woord ferrata verwys na die roetes wat uitgewerk is teen die ysterklipkranse wat in dié dele van die Alpe voorkom. Ankerpunte is geplant in die rots by die steilste kranse. Permanente ysterkabels word dan deur die ankerpunte geryg. Vir veiligheid haak jy jou harnas aan die kabels en klim voetjie vir voetjie boontoe en ontkoppel weer by die ankerpunt.
Van die kampterrein af volg ons vir ’n entjie ’n voetslaanpad (heel moontlik deel van die Tour du Mont Blanc) en draai dan na regs af op ’n minder uitgetrapte paadjie die bosse in.
Die roete kronkel teen die skuinste op tot by die begin van die via ferrata. Ons sit ons pletterpette op, trek harnasse aan en haak onsself aan die eerste kabel. Ons gidse neem ’n selfoonvideo en vra: “Are you sure you’re ready for this?” Ek sê ewe dapper dat ons twee die ou bergie soos bokkies gaan uithardloop.
Die eerste paar kabels is heel doenbaar: Jy klouter handeviervoet teen die rotse op tot waar die kabel eindig. Ontkoppel jou harnas en stap op ’n relatiewe plat stuk rots tot by die volgende stel kabels. Die plat dele word mettertyd ál minder en die vashaak- en klouterdele langer terwyl die helling al hoe steiler word – tot dit uiteindelik 90º is!
Ek en Tania is geensins geestelik of fisiek voorbereid hiervoor nie – veral nie op die “a little exposed” dele nie, soos ons twee gidse dit ongeërg stel. >
Later kan my senuwees dit nie meer hou nie. Ek vries. Ek hang soos ’n vinknes oor ’n afgrond, met my vinger en tekkiepunte in einaklein gleufies ingewurm. Gaan ek die val na die vorige ankerpunt – êrens 2 m skuins onder my – oorleef, wonder ek. Dankie tog Mattia is ’n uitstekende motiveerder, en praat ons mooi uit die hier-dooi-ek-episodes.
Die uitsig was deurentyd asemrowend, besef ek later toe ek deur die foto’s kyk. Ek sien egter min daarvan met die klim raak.
Plek-plek skuifel ons op ’n smal lysie om die boep van die berg. Soms moet jy ook teen ’n leer uitklim en ander kere weer deur ’n skeur skuur. En deurgaans bid jy.
Maar ons maak dit tot bo die ysterklipkrans en gaan lê met ons gespanne lywe op die warm klipstoep van die Refugio Borelli (2 325 m) en drink die uitsig in. ’n Refugio is ’n eenvoudige oornaghut met min geriewe. Dié refugio is onbeman, want dit lê nie op die hoofroete van die Tour du Mont Blanc nie. Hier is slegs ’n skenkingsblikkie vir die arme drommel wat dit in stand moet hou.
Onder die stof in die kombuisie staan uitgediende kombuisware, ’n paar droë bestanddele en speserye. Mattia omskep my pakkie John West-tuna in ’n risotto saam met olyfolie en fyngemaalde neute. Ons grazie behoorlik vir die eersteklas stapkos. Die afklim is gewis meer uitdagend as die opklim. Oornag het ’n hoogtevrees iewers diep binne my hart ontwaak. Kyk, dis nie soos rotsklim waar die ankerman onder jou jou kan “vang” en afhys as jy jou misreken nie.
Die ankerpunte wat die kabel teen die rotsmuur hou, sit ’n hele entjie uitmekaar. As jy ná die eerste ankerpunt jou greep verloor, kan jy val tot die volgende ankerpunt jou tot stilstand ruk en teen die klipmuur laat bons! Dit klink nou effe dramaties, maar ons het ná die tyd gehoor die roetes na die Mont Blanc-spits is berug vir ongelukke.
Terwyl ons afklim, begin donker wolke bo ons saampak... Gelukkig gedra die wolke hulleself tot net nadat die paadjie weer afplat en ons ons toerusting terug in ons sakke gestop het. Nat ysterklip sou heel moontlik tot trane gelei het.
Op pad het Mattia gespog dat hy die roete (heen en weer) in drie uur kan doen. Ons kom eers die middag vieruur halfnat by die kampterrein ingeslenter – doodmoeg maar trots dat ons die roete (soort van) getem het.
Die afgronde en hoogtes het my onverhoeds betrap en my moed beproef, maar agterna beskou, sal ek dié uitstappie slegs ’n moeilikheidsgraad van drie uit vyf gee. Dit was die tande kners, oë toeknyp en bid werd.
Avontuur. Adrenalien. Én ’n ongelooflike uitsig. Wat ’n onbeplande gelukkie!