WegSleep Kampgids

DIENS JOU WA SELF

-

As jou woonwa, boswoonwa of sleepwa ’n paar maande onder die afdak gestaan het, is daar dalk skielik ’n klomp dinge wat nie meer so lekker werk nie. Dan moet jy kies: Óf jy hoes ’n klomp geld vir ’n diens óf jy doen dit self. ’n Wa wat nie behoorlik onderhou word nie, gaan jou baie uit die sak jaag.

Gelukkig is dit maklik – en relatief goedkoop – om jou eie wa te diens en onderhou: Die geheim is ’n volledige kontrolely­s. As jy volgens so ’n lys werk, is die kanse skraal dat jy iets sal vergeet.

En al diens jy nie self jou wa nie, kan jy die lys gebruik om te kyk of die manne by Haastige Hennie hulle werk behoorlik gedoen het. Hier’s die dinge wat jy moet nagaan.

1 ONDERSTEL EN VERE

Die onderstel dra die bakwerk – trouens, dit dra alles, en daarom moet dit behoorlik deurgekyk word. Moenie net buk en loer nie; gaan lê en bekyk die onderstel ordentlik, want as dít die gees gee, kan jy gestrand raak op plekke waar jy nie gestrand wil wees nie.

Maak dit skoon en glad

Kyk of daar roes is op die onderstel. Maak dit skoon en behandel dit, waar nodig, met ’n leksel onderstelv­erf. Ghries dan die bewegende dele en vervang verslete wassers.

Soek vir krake

Kyk veral by die sweisplekk­e vir krake. En vergeet van bloudraad en kougom; kry ’n deskundige om dit reg te maak.

Het die vere nog ’n huppel in die stap?

Terwyl jy onder die sleepwa lê, kyk sommer na die veerstelse­l. Die een punt van die vere is los en beweeg deur ’n rigiede boogskakel. Dit móét kan beweeg, anders buig dit as jy deur ’n erge knik ry – en dan is jou wa se vering niks beter as ’n kruiwa s’n nie, selfs al werk jou skokbreker­s hóé goed.

Breek die brekers die skok?

Die as van die skokbreker moet ondertoe wys, en 50% daarvan moet sigbaar wees. As daar iewers ’n lekplek is, vervang die skokbreker. Moet eerder nie kanse waag met skokbreker­s nie.

Drade en pype

Baie van jou sleepding se bedrading en waterpype loop onderdeur die wa. Kyk of alles nog ongeskonde is.

Is die as vas?

Sorg dat die U-boute om die as behoorlik vasgedraai is.

2 REMME EN KOPPELINGS

Onthou, as jou sleepwa swaarder as 750 kg weeg (vrag ingesluit), moet hy volgens wet ’n remstelsel hê.

OLIE EN GHRIES

Kyk of die handremste­lsel glad werk

Die handrem het ’n spiraalvee­rtjie binne-in: Maak seker hy is baie goed geolie. Ghries ook die handrem se ratsluitst­uk.

Spuit die wiele mooi skoon en ghries hulle dan.

Haal die wieldromme af en spuit die hele stelsel skoon. ’n Paraffiend­rukspuit werk goed daarvoor. Gaan die remskoene na en vervang dit sou dit nodig wees.

Stel die remme

Die handrem en remme kan nou verstel word.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa