Renault Duster
AFR
Skaars twee jaar nadat Renault sy Duster in Suid-afrika bekend gestel het en meer as 8,000 eenhede daarvan verkoop het, het die vervaardiger besluit om die suksesstorie verder momentum te gee met die verandering en verbetering van sy bestaande modelreeks.
Met sy slagspreuk, “it’s time for tough,” gee die Duster ‘n duidelike boodskap aan sy mededingers en sinspeel dit seker ook daarop dat die Duster, te midde van ‘n stram tydperk in die mark, oor die laaste jaar sy aandeel in die B-segment vir veeldoelige nutsvoertuie met 3% vergroot het.
Met sy benoeming as een van die 11 finaliste in die Wesbank / S.A. Gilde vir Motorjoenaliste se kompetisie vir die Motor van die Jaar het die Duster gewys dat hy hom wel deeglik in die plaaslike mark gevestig het en dat dit maar slegs die begin van groter dinge is.
Die eerste Duster modelle was aanvanklik op die Europese mark gerig maar is ook so aangepas dat hy hom wel deeglik by die strawwer plaaslike toestande kon aanpas vir gebruik in die stad asook vir die buitelugentoesias.
Die Duster reeks bly onveranderd met sy twee 4x2 petrolmodelle (Expression en Dynamique) en twee dieselmodelle met dieselfde name; wat in 4x2 en 4x4 modelle beskikbaar is.
Kragvoorsiening by die petrolmodelle kom van ‘n 1.6 enjin wat 77kw lewer; by die dieselmodelle van 1.5 dci enjins met ‘n 80kw kapasiteit. Net soos in die vorige modelle word daar van ‘n vyfgang handratkas by die petrolmodelle en ‘n sesgang eenheid by die twee dieselmodelle gebruik gemaak.
Soos dit maar met statistieke gaan is daar nog altyd ruimte vir ‘n vraagteken hier en daar maar gedurende die toetsrit met die verbeterde Duster was dit baie duidelik dat die vervaardiger se statistieke min ruimte vir twyfel laat! Die Duster se turbo skop vinnig in en top spoed oor die 160km/h word gou bereik. Die versnelling van 0-100km/h, wat as tussen 11,5 en ietsie oor die 12 sekondes aangegee word, kon egter nie met toetsing bevestig word nie. Maar vir die versnellingsvraat is daar mos altyd Renault se Clio Sport omop terug te val.
Die nuwe Duster het veral op die grondpaaie beïndruk wat groot eise aan hierdie puik-waarde-virgeld nutsvoertuig gestel het en wat weereens die veeldoeligheid van die Duster onderstreep het.
Van groot belang is egter dat die 1.5 dci dieselenjins verbeterde brandstofverbruik van 4.8 liter per 100km het - teenoor die 5.5 liter per 100km van die vorige modelle.
Verdere sleutelverbeteringe sluit nou ook in spoedkontrole as standaard kenmerk by al die modelle, ‘n 7-duim aanraakskerm ( met navigasie) en opsionele leersitplekke by die Dynamique. Ander ooglopende veranderinge in die nuwe model sluit ook in deftige materiaal vir die sitplekke en deurpanele, ‘n nuwe ontwerp vir die verkoelingsrooster, asook ewekleurige deurhandvatsels, dakstawe met “Duster” inskripsie en sensors vir truparkering.
Hoewel die herontwerp van die Duster se verkoelings-rooster nie ingrypend verander is nie, is dit meer ‘n geval van ‘n kreatiewe kombinasie met die verbeterde hoofligte wat aan die vooraansig van die voertuig ‘n eenvoudiger dog tawwer voorkoms gee.
Die breë skouers wat oor die wiele vou en so kenmerkend van die Duster is gee hom ‘n ekstra geen-nonsens-voorkoms.
Die diamant- vormige Renault kenteken lyk amper uitdagend en dit pryk nou tussen twee chroompanele in plaas van drie; wat dit meer prominent maak.
Produksie van die Duster is nou ook verskuif vanaf Indië na Pitesti in Roemenië waar die Renault (Dacia) Sandero ook vervaardig word.
Laasgenoemde fabriek verskaf ook Renault modelle aan die Britse mark ( ook regterhandstuur) en die feit dat die aanleg onderdele in voorraad hou het dit vir hierdie fabriek makliker gemaak om in ‘n baie korter tydsbestek die bogenoemde verbeteringe aan die nuwe Duster te bring.
Dit was goed vir die handelsmerk en ook vir Renault se kliënte in Suid-afrika en buurlande, aldus Jeffrey Allison, Produkbestuurder van Renault S.A.
Aktiewe en passiewe veiligheidskenmerke van die Duster-reeks bly hierdie nuwe model behoue en sluit in ABS en elektroniese stabiliteitsbeheer, voor- en kantlugsakke, hoogte-verstelling van die voorste veiligheids-gordels, driepunt agterste veiligheidsgordels en ‘n standaard-grootte spaarwiel. Renault se Duster is ‘n moet om te oorweeg vir die familie wat dit vir gewone stadsvervoer wil gebruik maar ook naweke wil wegbreek na ‘n buitelug uitstappie.
Die gunstige brandstofverbruik is beslis ook “fuel for thought” en daarby gaan enige mededingers sukkel om met die Duster modelle se pryse mee te ding - wat soos volg lyk:
1.6 EXPRESSION 4x2 75kw petrol
N$218,000
1.6 DYNAMIQUE 4x2 75kw petrol
N$244,000
1.5 DCI DYNAMIQUE 4x2 80kw
N$271,680
1.5 DCI DYNAMIQUE 4x4 80kw
N$289,020
Soos met ander Renault modelle kom die Duster met ‘n 5-jaar of 150,000km waarborg asook ‘n 3jaar of 45,000km diensplan met diensintervalle elke 15,000km en ‘n 6-jaar waarborg teen roes.
Renault stof sy Duster behoorlik af!