Toyota Hilux D/C 2.8 GD6
AFR
Ontspan in die Klein Karoo met ‘n nuwe Toyota Hilux!
Met die bekendstelling van die nuwe Toyota Hilux ‘n tydjie gelede het ons die subtitel “Die taai stryd wat kom...” gebruik.
Die stryd waarna verwys was, het te doen gehad met Ford se Ranger bakkie wat daarin geslaag het om die Hilux se verkope ‘ n paar keer die loef af te steek.
Soos almal weet, het die Hilux in die eerste maand al die bordjies verhang.
Hierdie keer het ons die kans gehad om die nuwe bakkie in die praktyk te beproef; ‘n bekendstelling vir die pers bly maar ‘n kunsmatige besigheid.
Oor die tegniese aspekte, voorkoms en ander fyner veranderinge het ons reeds geskryf; ook die indrukke op verskillende terrein – wat die Hilux met vlieënde vaandels geslaag het.
Dis egter ‘n ander ervaring as ‘n mens vir ‘n paar dae jou eie koers kies en onder “normale” omstandighede met ‘n toetsvoertuig ry.
Die Klein Karoo was nog altyd een van ons geliefde bestemmings om weg te kom vir ‘n naweek.
‘n Soektog en bespreking op die Internet het ons by ‘n gasteplaas in Calitzdorp se wêreld gebring; ‘n huis boop ‘n heuwel met ‘n uitsig op die Karoo aan die een kant en die vrugteboorde en wingerde aan die ander kant. En vir ‘n pensionaris bekostigbaar.
Dit was van die Kaap af teerpad al die pad op die bekende Roete 62 met talle stoppe by die padstalletjies en natuurlik een van die koffieplekke op Barrydale.
Alles lekker asof ons in ‘n luukse Duitse motor ry. Na Oudtshoorn was dit ‘n reis terug in die verlede en het ons die ou sementpad, wat by Calitzdorp se warmbron verbygaan, aangedurf.
Dit het my laat terugdink aan skooldae op Uniondale toe alles nog grondpaaie was en die sementpad by Oudtshoorn die eerste stuk pad was waar jy nie gedurig in stofwolke verstik het nie.
Dié wat nie sementpaaie ken nie, kan gerus ‘n slag daar ‘n draai gaan ry.
As daar nou een ding is wat ‘n motor se suspensie toets, is dit sementpaaie met hulle lasplekke wat aan 'outydse treinritte herinner... waar daar elke sekonde so ‘n tiktik geluid van onder af kom.
Met wederhelfte se rug wat soms probleme gee, was ons huiwerig om hierdie pad te ry.
Maar die hunkering na die verlede was toe sterker as praktiese redes en haar rug het die tik-tik sonder enige probleme verduur.
En dit was die finale toets om die Hilux se vering die groen lig te gee, ondanks motor-joernaliste wat stry of die Toyota die mas teen sy opponente gaan uitkom.
Die veranderinge aan die agterste veerstelsel van die Toyota bakkie het dus die belangrike toets geslaag.
Die nuwe koppelaarstelsel het ook sy meriete getoon en daai dae van “double clutch” is nou vir altyd iets van die verlede.
Van praktiese nut is ook die nuwe grootskerm wat ‘n nuttige trukamera besit; met ‘n groot voertuig soos die Hilux is hierdie item van besondere waarde.
‘n Hele paar jaar gelede het ek en vriend Frans met ‘n 3L Hilux by die Kongorivier gaan draai.
Op die reis het die Hilux se ekonomie verstom met ‘n syfer wat nooit meer as 10L / 100km was nie.
Ook hierdie keer het die 2,8 enjin, wat teoreties harder moet werk, ons dieselfde gunstige verbruik gelewer.
En soos almal weet gaan die prys van diesel net op en op; die verbruiksyfers raak nou amper so belangrik soos ‘n voertuig se aankoopprys.
Die nuwe sesgang- ratkas help baie om die enjintoere laag te hou en brandstofverbruik te verbeter.
Ongelukkig is daar nie van die gebaande weë afgewyk nie en kon ons nie al die 4x4 nuwighede toets nie; dié moet wag tot ‘n volgende geleentheid in die Kalahari, Sederberge of Namib!
Lus vir daai kommervrye vakansie op gruis, teer en sement – al het jy of een van jou passasiers miskien ‘n rugprobleem?
Die Hilux bly ‘n staatmaker!
Vir gemoedsrus is dit goed om te weet dat die nuwe Hilux-modelle ‘n voertuig is waar “alles altyd reg loop” en deur ’n diensplan vir vyf jaar of tot 90,000 kilometer gedek word.
Al loop die Karoo treine nie meer tussen Calitzdorp en Oudtshoorn nie sal hierdie Hilux dit nog vir ‘n geslag of wat kan doen!