Parasiete bedreig wilde perde se gesondheid
KAAPSEHOOP - Die wilde perde van die omgewing is so sinoniem met die dorp as wat goud met Pelgrimsrus is.
Ten spyte hiervan bestaan daar ’n bedreiging vir hul vreedsame bestaan.
Een van die grootste gevare is siektes, soos bosluiskoors wat deur dié parasiet oorgedra word. Leon Smith van Kaapsehoop Horse Trails is deel van die span wat met ’n verfbalgeweer die perde dip.
“Die dip is in die balle, wat dan met impak ontplof en deur die vel geabsorbeer word,” het hy verduidelik. Tesame met Christo Germishuys en Mariska Redelinghuys, skiet hulle sporadies na die troppe wat deur die dorp beweeg. “Dit is nie maklik nie, want gewoonlik na die eerste skoot hardloop die hele trop weg.”
’n Veearts van Mbombela, Donnie Engelbrecht van Van Wijkstraat
Dierekliniek, het verlede week deelgeneem aan die dipproses. Hy het ook antibiotika en pynstillers vir ’n merrie ingegee wat met twee rou wonde op haar agterbeen gevind is.
Dit is nie net parasiete wat ’n gevaar vir die perde inhou nie.
Die oopgietgoudmynbou het nie net ’n impak op die omgewing gelaat nie, maar is ook ’n gevaar vir die wilde troppe, aangesien perde steeds van tyd tot tyd in hierdie oop kuile val.
Die teerpad wat in die middel van die tagtigerjare gebou is, het waarskynlik die grootste impak op hul veiligheid gehad, aangesien dit reg deur die middel van hul natuurlike habitat sny. Ten spyte van duidelike padtekens en waarskuwings, word baie perde deur motoriste raak- of doodgery.
Dan is daar ook die doodmaak van die perde vir tradisionele medisyne, of muti.
“Strikwonde en ander beserings moet behandel word, en dit is ’n duur saak,” het Smith bevestig. Weesvullens word dikwels alleen gelaat nadat hulle hul moeders weens dodelike oorsake, soos roofdiere, strikke of padongelukke, verloor het.
Dikwels is die merries self nog baie jonk as hulle vul en dus onervare. Daarom word hulle deur hingste verdryf en agtergelaat. Dit gebeur gewoonlik as ’n vul slegs ’n week of twee oud is en skaars ’n kans op oorlewing het.
Om te kan oorleef moet die mens ingryp, maar dit beteken dat die vullens met die hand grootgemaak word. Dit is egter nie net ’n duur onderneming nie, maar neem ook kosbare tyd in beslag.
Daar word na die Kaapsehoop-perde as “wilde perde” verwys, aangesien hulle in ’n ongetemde toestand woon, maar hul voorouers was wel mak. Hierdie bevolkings het ontstaan as gevolg van perde wat byvoorbeeld uit oorlogskampe in die weermag ontsnap het, of mense wat hulle vry laat gaan het.
Hulle het dekades lank op die Kaapsehoop-platorand rondgeswerf. Dit is ’n nalatenskap van prag; ’n nalatenskap om te bewaar.