Nuwe tydelike tuiste vir luiperdwesies
Rolspelers vanuit verskeie oorde werk aan maniere om luiperds te bewaar en hul voortbestaan te verseker. Schutte noem dat Suid-Afrikaanse metodes van dierebeveiliging regoor Afrika begin versprei. > Foto’s: Stefan de Villiers
EMANZANA - Dis nou byna ’n maand sedert twee luiperdwelpies se aankoms by hulle nuwe tydelike tuiste net buite Badplaas.
Ulrich Schutte, wildsbestuurder by dié reservaat, sê hulle het tot dusver goed aangepas.
In samewerking met die Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad (MTPA) monitor hulle die welpies se welstand terwyl daar na moontlikhede vir hul finale blyplek gekyk word.
Laevelder het in Februarie berig oor hierdie klein luiperds toe hulle deur lede van die MTPA se wetstoepassingseenheid in die Acornhoek-omgewing in beslag geneem is. Dit het voorgekom asof ‘n volwasse luiperdwyfie moontlik deur lede van die gemeenskap doodgemaak is en die welpies weggeneem is om verkoop te word.
Hulle nuwe woning voorsien hulle nou met effens meer vryheid met die boma wat ongeveer 40x50 m groot is.
Die sowat sewe maand oue kolkatte gaan volgens Schutte nog omtrent dubbeld so groot word as wat hulle nou is.
En al lyk hulle oulik en wil ‘n mens sommer een ’n kopkrap gee, waarsku hy teen hulle speelse maniertjies en sê hulle kan op hierdie ouderdom reeds heelwat skade aanrig.
Menslike kontak word sover moontlik vermy ter voorbereiding van ’n normale lewe in die natuur. ’n Dubbelheksisteem word gebruik om hulle te voer.
Schutte of ’n gids sal met ’n voertuig buite die klein voedingsarea parkeer, ingaan by een hek, die kos in twee verskillende bakke uitsit, en dan as die persoon weer buite is, die welpies deur die ander hek laat inkom om te eet.
“Die menslike blootstelling gaan al hoe minder word, tot hulle lateraan glad nie ’n mens sien nie. Hulle sal omtrent net die voertuie hoor en ons ruik.”
Die voerproses kan enigiets tussen ’n halfuur en ‘n uur neem. Dis nie net neersit en ry nie. Hulle maak ook ’n kamera binne vas om te monitor wie hoeveel eet.
Maandagoggend het die mannetjie byvoorbeeld die wyfie se kos ook geëet. Wie ook al dan aan diens was moet die volgende persoon daarvan in kennis stel, en met die volgende voersessie sal daar dan seker gemaak word die wyfie kry ook wat sy nodig het.
“Sy is oor die algemeen ‘n bietjie meer skrikkerig as die mannetjie. Dis hoekom ons dophou wat aangaan.
“Hy steel soms haar kos, maar sy moet leer om haarself te verdedig. Dit gaan in die natuur ook gebeur.”
Hulle kry ongeveer ’n kilogram vleis elk op ‘n slag, maar op geen vaste skedule nie en nie noodwendig elke dag nie.
In die natuur is hulle nie verseker van ’n daaglikse maaltyd nie en hulle moet hieraan gewoond raak.
Hoewel die pad vorentoe nog nie haarfyn beplan is nie, skat Schutte dat die welpies minstens tussen vier en ses maande nog by hulle sal spandeer.
Sulke inisiatiewe bly ’n leerkurwe. Hierdie is egter nie Schutte en sy span se eerste ervaring met luiperdrehabilitasie nie. “Ons het in die afgelope drie jaar 11 luiperds ingebring.”
Die omstandighede verskil in elke geval. “Dis alles deel van die herbevolking van hierdie area. Ongelukkig is luiperdstropery nog erg hier.” Inisiatiewe deur verskeie rolspelers is al in plek gestel om stropery te beveg.
Een van die luiperds in die reservaat het reeds kom kennis maak met die welpies, vertel Schutte. “Ons het spore buite die boma gekry van wat ons vermoed een van die wyfies hier is.”
Hy verduidelik dat elke luiperd gewoonlik hul eie gebied het, maar dat die areas wel oorvleuel. “En sou dit nou wees dat daar nog ’n klein stukkie is en daar is genoeg kos en wegkruipplek, sal een van die welpies moontlik daai gebiede probeer beset.”
Dis nou as hulle by die reservaat aanbly. Die besluit sal eers met tyd geneem word.