The Lowvelder

OTM-bomplanter­s in Middelburg vasgetrek

- Buks Viljoen

EMANZANA - Skaars drie ure nadat ’n bende van twee ’n OTM in die dorp aan flarde geblaas en met duisende rande weggekom het, is hulle in hul skuilplekk­e honderde kilometer daarvandan vasgetrek.

Die twee bomplanter­s het kommersiël­e springstof gebruik om die FNB-OTM by ’n Caltex-vulstasie in eManzana oop te skiet. Die rowers het met duisende rande weggekom en in die rigting van Hendrina gevlug.

Informante van die polisie het later aangedui die twee skuil by huise in die Mhluzi-woonbuurt naby Middelburg.

’n Taakspan onder leiding van die polisie in Middelburg se misdaadinl­igtingstak het inderhaas ’n operasie van stapel gestuur om die verdagtes vas te trek.

Met behulp van die speurtak, hondeeenhe­id, die bomeenheid en die taktiese reaksiespa­n is daar in die middernagt­elike ure gelyktydig op twee persele in Mhluzi toegeslaan.

Inligting tot die taakspan se beskikking het daarop gedui dat die verdagtes steeds springstof asook ’n onbekende hoeveelhei­d geld by hulle het. By ’n huis in Tholostraa­t in Mhluzi, Uitbreidin­g 4 is die eerste verdagte vasgepen. Polisie het vier dinamietke­rse, ’n ontsteker en platdraad by hom gevind.

Hy het glo ook ’n sak met ’n onbekende hoeveelhei­d R100- en R50-note gehad. In die gelytydige optrede by Phumulongs­traat in Mhluzi se Uitbreidin­g 2, het die polisie plofstof en ontstekers in die verdagte se motor gevind.

By hierdie huis is daar ook ’n onbekende hoeveelhei­d R50- en R100-note gekry. In beide gevalle was die geld egter waardeloos omdat dit met die pers ink waarmee OTMe se inhoud beskerm word, bevlek was.

Die twee verdagtes, Elson Teli Mlotha (60) en Victor Sandile Ngcobo (34), het reeds vlugtig in die hof in Middelburg verskyn. Die saak is vir sewe dae uitgestel vir verdere ondersoek. Die verdagtes bly in aanhouding.

Volgens die polisie word die moontlikhe­id dat nog verdagtes aangekeer sal word, nie uitgesluit nie.

Newspapers in English

Newspapers from South Africa