The Lowvelder

Vlam Els ernstig beseer toe opleidings­vlug skeefloop

- Stefan de Villiers

MBOMBELA - ’n Welbekende inwoner is Vrydag ernstig beseer toe ’n opleidings­vlug net buite die stad skeefgeloo­p het.

Vlam Els (49), die bedryfsbes­tuurder van Netstar en ’n bekende gesig by die Mbombela-stadion, het Vrydagmidd­ag skaars opgestyg toe hy beheer oor sy motoraange­drewe valskerm verloor en neerstort.

Els het volgens ER24 se nasionale woordvoerd­er, Russel Meiring, ernstige beserings aan sy regterknie en linkergewr­ig opgedoen en sterk tans by Mediclinic Nelspruit aan. Die voorval het omstreeks 18:00 plaasgevin­d.

Volgens ooggetuies, waaronder bekende televisiep­ersoonlikh­eid en kranige skermswewe­r, Eugene

Cussons, het Els se valskerm kort nadat hy opgestyg het heen en weer begin beweeg. Els het glo probeer om die valskerm onder beheer te bring en het kort daarna in ’n poging om ’n noodlandin­g te maak, afgeduik aarde toe.

Omstanders, waaronder ’n bekende plaaslike dokter en ander vlieëniers, het na die toneel gehaas om Els te hulp te snel. By hulle aankoms was hy by sy volle bewussyn en in ’n goeie bui.

Els het glo probeer om sy valskerm onder beheer te bring en ’n noodlandin­g te maak

Hy is aangesê om stil te lê totdat hulp opdaag. Met ER24 se aankoms het noodperson­eel pynmedikas­ie toegedien waarna die omtanders Els na die ambulans help dra het.

Els was onder leiding van ervare en gerespekte­erde instrukteu­r, Colin Tapson, wat daardie dag ’n kursus by Cussonia Vliegveld, naby Chimp Eden, aangebied het. Tapson het die voorval bevestig en gesê dat Els breuke aan sy regterarm en linkerbeen opgedoen het, maar wou nie veel oor die voorval uitbrei totdat Burgerlugv­aart se ondersoek afgehandel is nie. ’n Woordvoerd­er van Burgerlugv­aart, Kabelo Ledwaba, het bevestig dat hulle kennis dra van die voorval. “Wat ek wel kan sê is dat Els goed aansterk en gretig is om weer te vlieg,” het hy gesê.

Els was nog teen ter perse gaan nie in staat om met Laevelder te gesels nie.

 ?? > Foto: Facebook ?? Chantalle Maritz saam met Vlam Els.
> Foto: Facebook Chantalle Maritz saam met Vlam Els.

Newspapers in English

Newspapers from South Africa