The Lowvelder

Waar was Zazu vir 14 maande?

- Linzetta Calitz

MBOMBELA - Zazu, die Afrikagrys­papegaai, is veilig tuis na 14 maande, maar waar hy was bly steeds ’n raaisel.

Sy eienaar, Crystle Pachos, vermoed dat iemand hom dalk gevang en gehou het.

Al wat sy vir seker weet is wat die man wat Zazu in sy tuin opgespoor het vir haar kon sê. Dit is bloot dat Zazu in sy tuin in Steiltes beland het. Die man het hom uit sy hond se bek gered en toe na die Nomanigesi­n in Valencia Park geneem.

Die man verkies om anoniem te bly.

Die Nomani’s het Zazu ingeneem en na hom omgesien terwyl hulle probeer vasstel het wie die eienaar was.

As ’n gesin het hulle ook al ’n geliefde voël verloor, en hulle het gevoel dat indien hierdie voël wel aan iemand behoort het, hulle seker verpletter­d moes wees.

Die gesin se dogter het Pachos geskakel en gesê: “Hierdie gaan vreemd klink, maar ek dink ons het vir Zazu gekry.”

“Hy (Zazu) wou ons nie naby hom toelaat nie, maar toe ons sien hoe hy op Pachos reageer het ek gedink hy kan net hare wees.”

Pachos het gesê sy het aanvanklik min hoop gehad, aangesien sy die afgelope jaar deur soveel oomblikke van vals hoop is.

Die soektog na Zazu het reeds in Februarie 2020 begin na hy een middag by die skuifdeur uit agter hadidas aan gevlieg het.

“Hy het altyd mal gegaan as hy die hadidas sien en daardie dag is hy toe agter hulle aan.”

Na hy weg is het hulle dag-in, dag-uit na hom gesoek, in elke boom en elke bos.

Tydens haar soektog het Pachos selfs ’n paar ander mense gehelp om hulle voëls op te spoor, in die hoop dat dit dalk Zazu kon wees. Sy vertel hoe sy selfs eenkeer in trane bo-op iemand se dak uitgebars het nadat dit weer eens nie haar Zazu was nie.

Gedurende die soektog-jaar het sy ook iemand gehelp deur twee van hulle voëls by haar in te neem (een galakaketo­e en een Afrika-grys) en daarna het sy nog ’n ander gryspapega­ai bygekry. Na Zazu se terugkeer het sy dus nou vier voëls in haar huis, maar daar is genoeg plek in haar hart vir elkeen.

’n Mens kon sien Zazu is onlangs deur ’n moeilike tyd, maar na ’n besoek aan die veearts en sy tuiskoms het Pachos gesê hy sterk goed aan.

Sy was baie dankbaar teenoor die gemeenskap wat deurentyd gehelp het waar hulle kon.

“Dis nou een goeie ding van Mbombela: die mense se liefde vir diere.”

 ??  ?? Crystle Pachos wys hoe liefdevol Zazu teenoor haar is.
Crystle Pachos wys hoe liefdevol Zazu teenoor haar is.

Newspapers in English

Newspapers from South Africa