The Lowvelder

Diewe steel hondekos by Barberton se DBV

- Linzetta Calitz

BARBERTON - Die DBV Barberton is 200 kg se hondekos armer na ’n inbraak die afgelope naweek op die perseel.

Die sekretares­se vir dié tak, Marlies Liebenberg, het gesê hulle vermoed dit het laat Sondagmidd­ag of -aand gebeur.

“Daar is altyd iemand aan diens, maar nie voltyds oor naweke nie. Toe ons mense Maandag by die perseel aankom en die Wendy-huis waar die kos gebêre word oopsluit, het hulle agtergekom daar is vier 50 kg-sakke minder.”

Volgens Liebenberg mag hulle geen permanente strukture op die perseel hê nie omdat hulle nie die eienaars daarvan is nie, vandaar die Wendy-huis.

“Die draad aan die agterkant van die perseel is geknip, en ons het ook die spore van ’n bakkie gesien waarmee hulle seker die kos weggery het. Die slot van die Wendy-huis is uitgeskroe­f en toe weer baie los teruggesit.”

Liebenberg het gesê daar was al voorheen inbrake, maar nog nooit een waar daar hondekos gesteel is nie. “Die enigste ‘voordeel’ daaraan is dat dit ten minste na honde toe gaan,” het sy gesê.

Die diefstal is ’n groot terugslag vir ’n klein DBV-tak soos hierdie, en Liebenberg sê enige skenkings van dierekos sal opreg waardeer word.

Newspapers in English

Newspapers from South Africa