Ontmoet die sterre by die Innibos Buitelug Familiefees
MBOMBELA - Wie is die bekende kykNET-ster of Pumas-rugbyspeler saam met wie jy die graagste ’n selfie sal wil neem?
Kom kuier saam by Innibos se Buitelug Familiefees by Kwanyoni Lodge aan die einde van dié maand, want dit beloof om ’n behoorlike naweek propvol stergeleenthede te wees.
Verskeie bekende kykNETakteurs gaan nie net hul slag met koekversiering teen die Laevelders op die proef stel nie, maar sal ook tyd maak om allerlei geselsies met hul ondersteuners aan te knoop.
Nykie Pretorius, die aster wat met Francois Jacobs se hart in die nuutste Op my Eish!-reeks weggeloop het, gaan ook daar wees om Saterdag se Boerboel Bene Kompetisie te beoordeel. En is jy een van dié wat nog net daarvan gedroom het om die Curriebeker op tuisbodem vas te hou? Wikkel dan fees toe vir dié kans en ook om van die Pumasbrekers te ontmoet.
Van die Pumas-spelers sal ook meer vertel oor onder meer wat agter die skerms en in die binnekringe gebeur wanneer Blouwillem Theron, bekende en geliefde rubriekskrywer en storieverteller, hulle as ’t ware gaan laat place, drop en score oor alles en wat nog in die Laeveldse rugbywêreld. Meld Saterdag, 1 Oktober, om 17:00 op die Absakuierstoep by Kwanyoni aan.
Teen daardie tyd sal ’n lafenis net die ding op die spyskaart wees, want deur die dag is daar talle aktiwiteite waarmee jy jou vaardighede op ’n prettige manier kan toets: Leer hoe om jou eie braaiwors te maak saam met Bergendal Slaghuis, ’n mooi tafel te dek saam met
Nitali Re-invented Decor of ’n kunsvlieghengelvliegie te knoop. Jy kan ook jou eie skemerkelkie kom roer of skud in die Belgravia Gin Boma, of die kinders aanmoedig wanneer hulle teen die Pumas toutrek!
Deurentyd sal daar verskeie doendinge vir die kleingoed by die kindertent wees, van ballon- tot waterpret, terwyl ’n verskeidenheid stalletjies uiteenlopende produkte en kos te koop sal aanbied.
Die Buitelug Familiefees skop reeds op Vrydag, 30 September, om 15:00 af. Op Saterdag open die hekke by Kwanyoni Lodge om 10:00.
Albei aande is daar ’n musiekkonsert met topkunstenaars. Vrydagaand is dit 0260 Duo, Reën, Jan Jan Jan, Bernice West en Ricus Nel op die verhoog, en Saterdagaand is dit Coenie Naudé se beurt, gevolg deur Droomsindroom, Refentse, Irene-Louise van Wyk, Snotkop en Soul Taxi.
Vir al dié pret en musiek betaal feesgangers R100 vir Vrydag en R150 vir Saterdag. Pensioenarisse betaal albei dae slegs R50, en voorskoolse- en laerskoolkinders kry gratis toegang. Kaartjies moet vooraf by Quicket gekoop word. Gaan na https://qkt.io/fwSXEL vir die Vrydagkaartjies en https://qkt. io/4gBTsD vir Saterdag se kaartjies. Vind die volledige program by www.innibos.co.za.