The Lowvelder

Nuusman maak nou sy stem dik vir Laevelder

-

MBOMBELA - Izak du Plessis, die aanbieder en eienaar van Nuuspod, ’n aanlyn kanaal vir nuus en aktualitei­t in Afrikaans, gaan voortaan ’n weeklikse rubriek vir Laevelder skryf.

Du Plessis, wat verlede jaar in Augustus vanuit Pretoria na Mbombela verhuis het, sê hy wil oor sake skryf wat ’n plaaslike inslag het, maar ook die res van die land aan die praat het.

“Talle van die land se groot nuusstorie­s word hier in die Laeveld gebore en kring dan groter uit,” sê hy. “Onderwerpe soos politiek, misdaad, menslike stories en enigiets anders waaroor daar daagliks gegons word, sal weekliks om die beurt in Afrikaans en Engels aan die bod kom.”

Du Plessis het bekendheid verwerf as aanbieder van RSG se nuusprogra­mme Monitor, Spektrum en Kommentaar, vanaf 2012 tot 2020.

Hy is ook die aanbieder van die televisiep­rogram Boereverne­ukers, waarvan twee seisoene op Via uitgesaai is. Die program is gebaseer op een van die boeke, Boereverne­ukers, wat Du Plessis geskryf het.

Dit handel oor Afrikaanse swendelaar­s wat op asemrowend­e maniere ander mense uit hul geld verneuk het.

Du Plessis se ander boek is Ralph Haynes: Godfather van die Wesrand, wat handel oor die verdwyning van dié berugte bendebaas in 2011. Haynes is nog nooit opgespoor nie, en in die boek bespiegel Du Plessis oor wat moontlik met hom kon gebeur het.

Du Plessis het Nuuspod in 2020 begin ná hy by die SAUK weg is. Op die platform doen hy onderhoude met bekendes in die politiek asook ander nuusmakers.

Hy saai ook soggens om 06:00 die gewilde program Stroomop op dié platform uit. Daarop lewer hy op-die-manaf-kommentaar op koerantnuu­s asook ander aanlyn nuus.

Die nuwe rubriek word “ZakTyd” genoem. Dit is ’n verwerking van sy naam en die bekende term in die koerantbed­ryf, “saktyd”.

Newspapers in English

Newspapers from South Africa