The Lowvelder

Vlaag van roof laat boer oorweeg om plaas te verkoop

- Linzetta Calitz

BARBERTON - Asof die diefstal van sy vee nie genoeg is nie, moes ’n boer van dié omgewing nog ’n aanval óók deurmaak.

Tussen 2 September en 18 Oktober, die dag wat Pieter Sofianos op sy plaas, Roselin, aangeval is, is daar op agt onderskeie dae van sy vee gesteel - “En toe vat hulle my,” sê hy.

Van sy varke is gedurende die nag gesteel, terwyl die bokke deur die dag geteiken is. Juis as gevolg van die voortduren­de diefstal was hy die dag van die aanval omstreeks 13:00 op ’n vierwielmo­torfiets by sy bokke om hulle op te pas.

Hy sê iemand het van agter af gekom, hom gewurg en van die fiets af gepluk. Hulle het sy hande en voete vasgebind, en toe sy hande aan sy voete. Daarna het hulle iets oor sy kop getrek.

Hy sê daar was vier aanvallers en hy onhou hulle het pangas gehad.

“’n Mens voel magteloos. Soveel dinge gaan deur ’n mens se kop en alles is deurmekaar. Jy hoop maar vir die beste en vir genade van Bo.”

Die aanvallers het volgehou dat hulle geld soek. Hy het vir hulle gesê hulle moet hom huis toe vat dat hy vir hulle geld kan gee, maar hulle het geweier en gesê hy moet sy vrou, Marietjie, bel sodat sy dit kon bring.

Dit is toe ook wat hy noodgedwon­ge gedoen het. Sy vrou het die opdrag gehoorsaam.

Pieter onthou die dreigement­e. “Ek het baie gepraat, dan het hulle die pangas teen mekaar getik en gesê ek praat te veel, dan het ek maar weer stilgebly.”

Toe sy vrou by hulle aankom, is sy ook vasgebind. Daarna het een aanvaller by hulle gebly terwyl die res na die huis toe is om verder te plunder.

Die hele affêre het net voor 18:00 tot ’n einde gekom. Net so is die rowers op hul pad en die egpaar op hulle s’n nadat die rowers hulle losgemaak het.

Sodra hy kon, het Pieter sy seun gebel. “My seun, hulle het my gevat vandag. Bel die polisie dat hulle kom.”

Volgens ’n provinsial­e polisiewoo­rdvoerder, brig. Selvy Mohlala, is een inhegtenis­name tot dusver gemaak, en Pieter se vuurwapens is ook teruggekry.

Maar selfs in die oggendure net ná die aanval is daar wéér van sy bokke gesteel, en toe weer op 24 Oktober.

Hy is al raadop, en sê op hierdie stadium dink hy dis omtrent beter om eerder die plaas te verkoop.

“Dit hou net aan en aan. Dit voel amper al of ek die welsyn is soos wat ek vir hulle ‘skenk’.”

‘Ek het baie gepraat, dan het hulle die pangas teen mekaar getik en gesê ek praat te veel, dan het ek maar weer stilgebly’

 ?? ?? Van die bokke op Pieter Sofianos se plaas.
Van die bokke op Pieter Sofianos se plaas.

Newspapers in English

Newspapers from South Africa