The Lowvelder

Twee boesemvrie­nde in grubotsing buite Lydenburg

- Marius Bakkes

LYDENBURG - ’n Plaaslike matrieklee­rder, nog steeds besig met sy eindeksame­n, is Saterdag oorlede en sy boesemvrie­nd erg beseer toe die Mitsubishi Triton waarin hulle onderweg was sowat 10 km buite die dorp op die Badfontein-pad na bewering teen ’n vragmotor gebots het.

Dit is nog onseker presies hoe die ongeluk gebeur het, maar daar is aanduiding­s dat die bakkie van agter teen die vragmotor vasgery het. Volgens berigte het die Mitsubishi Triton aan die oorledene behoort.

Hy is die 19-jarige Franco Crafford, ’n matrieklee­rder aan die Lydenburg Leersentru­m. Die beseerde, Divan Hamman (19), is reeds met sy N2-studies besig. Beide die mans is van Lydenburg.

Diegene wat hulle ken het hul vriendskap soos ’n kettie en klip beskryf.

Die ongeluk was Saterdag oor die middaguur. Netcare 911 sowel as Thaba Chweu se nooddienst­e was kort na die voorval op die toneel. Die aanduiding is dat Crafford met impak op slag oorlede is.

Sy ma, Nettie, het net gesê dit is ondenkbaar om jou seun in die fleur van sy lewe so aan die dood af te staan.

Volgens ooggetuies op die toneel met wie die koerant gepraat het, was die bakkie ’n wrak, maar die vragmotor het min skade opgedoen.

“Barnard Vervoer wil ons innige simpatie aan beide families bied,” het Liezel Barnard van Barnard Vervoer, eienaars van die vragmotor betrokke in die ongeluk, aan Laevelder gesê.

Die beseerde Hamman is eers na die hospitaal op Lydenburg geneem, vanwaar hy per helikopter na die Milpark Hospitaal in Johannesbu­rg afgevoer is.

Sy pa, Dawie, het gesê Netcare 911 het hulle deurentyd bygestaan. “Ons het ná die tyd gehoor van die senior personeel was nie die naweek aan diens nie, maar hulle was binne minute op die toneel. Hulle het my kind bygestaan totdat die helikopter opgedaag het. Tydens die helikopter­vlug het die Netcare 911-personeel die hele tyd my vrou, Erika, oor Divan se toestand per SMS op hoogte gehou.

“Divan se linkerbeen het uit die heuppotjie gehaak. Sy regterbobe­en is gebreek en sy skedel is gekraak. Hy het geen inwendige beserings nie, en klaarblykl­ik geen bloeding op die brein nie. Sy longe is weens die impak gekneus. Die spesialist­e het ons gerusgeste­l dat pasiënte goed op behandelin­g vir hierdie beserings reageer. Divan is steeds onder mediese sedasie, sodat hy kan rus. Hy het kopwonde en ’n groot skeurwond wat Dinsdag deur ’n plastieses­nykundespe­sialis geopereer is. Ons glo daar mag bykomende operasies in die toekoms plaasvind. Maar ek en Erika is vol hoop en het berusting dat hy onder die beste mediese sorg verkeer,” het Dawie gesê.

’n Dankbare Dawie het sy dank teenoor al die nooddienst­e en spesifiek Netcare 911 uitgespree­k, asook past. André Hanekom, wat die gesin bygestaan het. Hanekom was ook op die ongeluksto­neel.

“Ons familie glo dat ons in geloof saam met die gemeenskap en dorp in gebed hierdeur sal kom. Dankie ook aan Paul Jacobs, Divan se oupa, wat deurentyd by sy kleinseun gestaan het terwyl hy op die toneel behandel is,” het hy verder gesê.

Die Craffords en Hammans was ook sedert die ongeluk in kontak, en kon hulle simpatie met mekaar deel.

Uit die aard van sy toestand is Divan nog nie bewus van sy vriend se dood nie.

Sersant Cave Dilebo, ’n woordvoerd­er van die Lydenburg SAPD, het gesê die polisie is tans besig om die omstandigh­ede wat tot die ongeluk gelei het, te ondersoek.

 ?? ?? Die Mitsubishi Triton het op sy sy te lande gekom. Thaba Chweu se nooddienst­e het die toneel afgesper.
Die Mitsubishi Triton het op sy sy te lande gekom. Thaba Chweu se nooddienst­e het die toneel afgesper.
 ?? > Foto: Verskaf ?? Wyle Franco Crafford en Divan Hamman, wat steeds in ’n koma is.
> Foto: Verskaf Wyle Franco Crafford en Divan Hamman, wat steeds in ’n koma is.
 ?? ?? Die Mitsubishi Triton.
Die Mitsubishi Triton.

Newspapers in English

Newspapers from South Africa