The Lowvelder

Reik uit wanneer jy nood sien, sê oudpolisie­man

- Linzetta Calitz

MBOMBELA - Talle Laevelders is vertroud met die naam Dawie Pretorius, sommige dalk meer met kapt. Dawie Pretorius.

Die voormalige kaptein en woordvoerd­er vir die Nelspruit SAPD wil sy verhaal van hoop en aanmoedigi­ng met die gemeenskap wat hy vir 18 jaar gedien het, deel.

Die lewe sedert sy bedanking uit die polisie was nie aldag maklik nie, maar vanaf September het sy en sy familie se lewens byna onherroepl­ik verander.

Dawie is uit en uit ’n familieman - sy mense beteken vir hom alles. Hy en sy vrou Thea is al vir 40 jaar gelukkig getroud.

“’n Mens hoor altyd van dinge en insidente wat met ander mense gebeur en besef nie hoe kwesbaar onsself as mens is nie,” het Dawie vertel toe hy langs sy vrou se hospitaalb­ed gewaak het.

“As ’n reël staan ek en my vrou elke dag om 05:00 op. Ek was op 21 September, ’n Woensdag, besig in die kamer om gereed te maak vir werk, die volgende oomblik staan Thea in die gang. Ek het nader gegaan en gesien sy is baie deurmekaar. Ek het haar na die sitkamer geneem en haar gemaklik gemaak op die rusbank, waarna ek my selfoon geneem en vir Celia Raulstone, Thea se boesemvrie­ndin oorkant die straat, gebel het. Sy het onmiddelli­k oorgekom met haar bloeddruka­pparaat - Thea se bloeddruk was uitermatig hoog. Ek het ook ons huisdokter asook die dokter vir wie Thea werk geskakel. Altwee het vinnig by ons huis opgedaag.

“Die diagnose was dat sy ’n beroerte gekry het, en so vinnig moontlik na die hospitaal vervoer moes word.”

By die hospitaal was dit eers X-strale en daarna ’n CT-skandering. ’n Engel, soos Dawie haar beskryf, het hulle in hierdie tyd finansieel bygestaan. Thea was vir drie dae in die hoësorgeen­heid, maar weens ’n gebrek aan ’n mediese fonds moes sy na Rob Ferreira Hospitaal oorgeplaas word. Terwyl dit alles gebeur het, was sy in ’n koma.

Die Maandag ná sy daar opgeneem is, is nog ’n CT-skandering gedoen, en die Dinsdag is daar op haar geopereer. Eers drie dae ná die operasie om die bloeding op haar brein te dreineer, het sy vir die eerste keer bygekom.

“’n Week later word Thea ontslaan en ek verkoop my kar vir kontant om vir haar rehabilita­sie by M-Care te betaal. Ek moes ook ’n lening by die bank aangaan om ons engel te betaal vir die eerste CT-skandering en ander mediese uitgawes.” Vir die verkoop van die kar het hy namens sy familie vir Cassie Kolbe van Mahindra Nelspruit uit sy hart uit bedank.

Maar dit was steeds nie die einde van die stryd nie. Ná 14 dae se intensiewe rehabilita­sie gebeur die ondenkbare. ’n Virus in Thea se bloed word gediagnose­er, wat die rehabilita­sie stuit. Sy moes eers herstel voor die behandelin­g kon voortgaan.

Gebed was deurentyd hulle toevlug en Dawie glo dít is wat sy deurgedra het.

“As dit met jou goed gaan, moenie dink dis weens jou eie toedoen nie, dit is jou ma wat vir jou bid.” So het hy na sy moeder gedraai vir hulp.

“Bid asseblief dat die Here nie vir Thea vat nie,” het hy haar gevra. “... En hy het haar nie gevat nie. Hy het nog ’n plan met ons.”

Hulle hoop dat Thea aan die einde van die maand uit M-Care ontslaan kan word.

Dit alles deel dié voormalige dienaar van die publiek om geen ander rede as om hoop te bring nie. Alhoewel hy en sy familie deur ’n geweldige moeilike tyd is, het hulle met die Here en engele se hulp daardeur gekom.

Sy boodskap? Moenie wag dat iemand wat in nood is na jóú uitreik vir hulp nie, bied dit aan daar waar jy nood sien en waar dit binne jou vermoë is.

 ?? ?? Dawie en Thea Pretorius.
Dawie en Thea Pretorius.

Newspapers in English

Newspapers from South Africa