The Lowvelder

Geliefde Laeveldse skrywer ter ruste gelê op Kaapsehoop

- Bertus de Bruyn

KAAPSEHOOP - Die gemeenskap is in rou gedompel ná die nuus van Alita Steenkamp (60), ’n geliefde inwoner en skywer, se afsterwe Donderdago­ggend, 2 Mei.

Skaars vier dae nadat sy langs haar 87-jarige moeder se graf gestaan het, is die bekende Laeveldse skrywer self oorlede, ná ’n stryd met ovariële kanker van bykans twee jaar.

Alita het in dieselfde kamer in haar ouerhuis in Pretoria in die Moot, waar sy as vyfjarige gebly het, gesterf.

Haar man, De Wet Potgieter, self ’n oudjoernal­is en voormalige redakteur van Laevelder, was langs haar sterfbed. Potgieter het vroeër gesê dat ‘Alitaki’, sy troetelnaa­m vir haar, in een van haar laaste boodskappe aan hom geskryf het: “Ek is moeg baklei.”

Medelye het van wyd en syd ingestroom na die nuus van haar dood bekendgema­ak is.

Jenine Coetzer, ’n goeie vriendin, skryf op Facebook: “F*kkit Alita, vanoggend vroeg bel ek jou vir sommer net, hoe gaan dit met jou na Ma se begrafnis, en jou eie lyf? Jy antwoord nie, want jy is reeds elders. Wetta laat weet jy is weg.”

Laevelders is gereeld op Alita se Facebook-blad deur die foto’s betower wat sy van haar gunsteling­onderwerp, die wilde perde van Kaapsehoop, geneem het.

Haar roudiens is Dinsdag 7 Mei vanuit die Gereformee­rde Kerk Nelspruit gehou. Die teraardebe­stelling was in die begraafpla­as op Kaapsehoop.

Tydens die roudiens het Rudi du Plessis ’n roerende en emosionele huldeblyk gelewer. Hy het benadruk dat Alita geliefd was omrede sy ’n persoon vol liefde was. “Haar liefde en omgeehart het sy in haar ouerhuis gekry,” het hy gesê.

Hy vertel hoe Alita onthou sal word vir haar ongeloofli­ke liefde vir diere, en hoe sy elke oggend die voëltjies op Kaapsehoop gevoer het. “Alita was ’n buitemens en die sonsonderg­ange was haar gunsteling. Haar spesiale plek in Kaapsehoop was die sonkalende­r, haar liefde vir Afrikaans was onberispel­ik, en sy kon met enige woorde die mooiste rympies maak. Haar liefde vir kosmaak en haar langtafels sal ons mis. Daar sal nie weer ’n mielietert wees soos sy dit kon doen nie.”

Hy sê sy was baie lief vir reis, maar dat al haar reise altyd op Kaapsehoop sou eindig.

Alita se lewensreis het Donderdag geëindig, en gepas op haar geliefde Kaapsehoop.

Petronell Vorster het tydens die diens die volgende bedankings gelewer: “Die mediese personeel wat betrokke by Alita se sorg was. Spesiale dank aan dr. Saritha Retief, dr. Susan de Bruyn, dr. Diana en Emily Msimanga. Solani en Alita se twee bergengele. Die gemeenskap van Kaapsehoop vir hul bystand, in besonders Alita se stokvelgro­epie. Rudi, Dana, Mariska en Annemarie, wat hulle om haar geskaar het. Ons wil ook graag dankie sê aan die Steenkamp- en Herselman-families vir julle onbaatsugt­ige liefde en bystand die laaste paar dae van Alita se lewe. Baie dankie vir die mooi woorde, ondersteun­ing en medeleye wat van oraloor ingestroom het.”

Potgieter het ook gesê dat hy oorweldig voel oor al die liefde en ondersteun­ing wat hy uit die Laeveldse gemeenskap ontvang het.

Die bekende skrywer, Dana Snyman, self ’n oud-Laevelder-joernalis, het namens Potgieter hierdie ode geskryf:

Alita Steenkamp (1964 - 2024)

Jy het geweet die dood kom nader, en jy het dit ook gesê, Alita. Ons het dit probeer wegpraat met soet woorde en simpel grappies. Ons wou dit nie aanvaar nie. Heng, jy het onlangs maar 60 geword. So jonk.

En netnou, op hierdie dag, 2 Mei van die jaar 2024 van onse Liewenheer, toe kom die WhatsApp-boodskap van De Wet Potgieter af: “Alitaki is weg.” Alita Steenkamp, joernalis en skrywer. De Wet se vrou, dogter van oom Cas, ma van Petronell en Amanda, suster van Heleen en Francois, en ouma van Hannes, Amanda se eersteling. Alitaki.

Eers het ek gewonder hoekom noem

De Wet jou só, want jy was nie ’n verkleinwo­ordjie soort vrou nie. Maar toe ek julle twee middeljari­ge lovebirds beter op Kaapsehoop leer ken, toe besef ek jy is die een wat sagtheid in De Wet, die siniese en soms knorrige joernalis, se lewe gebring het. Ware, verkleinwo­ordjielose liefde. Ek wil nie nou begin met ‘We had joy, we had fun, we had seasons in the sun’ nie: Hoe jy, Rudi en ek van ’n rusbank op Kaapsehoop af die Springbokk­e eiehandig gehelp het om talle toetswedst­ryde te wen. Hoe ons in Nagkantoor sit en jy vir De Wet vra: “Wetta, speel vir ons ‘Iets bekends’ van Robbie Wessels.” Ons favourite kroegsong.

Dit en John Prine se “Speed of the Sound of Loneliness”. Jou familie, kinders en almal wat jou geken het, sal elkeen sulke vrolike herinnerin­ge van jou hê. Tot aan die einde het jy Habakkuk se “nogtans sal ek jubel” probeer leef.

Minder as ’n maand gelede het jy nog in jou bergtuin gegrawe en geplant, teen die winter in, toe ek by julle hek instap. Jy met jou hande vol grond en Zigi, jou dowe lyfwag, wat blaf en blaf.

En hoe trots was jy nie toe jy onlangs ouma geword het.

Eenkeer toe jy saam met De Wet Nelspruit toe is vir nóg ’n chemo-sessie, kom ek by julle huis. Net Solani Shongwe, julle huisengel, is daar. “Hoe gaan dit met jou?” Jou familie, kinders en almal wat jou geken het, vra ek vir Solani. Toe stol die woorde in Solani se mond en sy begin huil.

Het jy enige vyande gehad, Alita? Ek twyfel. Of, nee, dalk was daar een: Jaco Peyper, die rugbyskeid­sregter. Hy laat die Bulls, jou span, altyd verloor, het jy geglo.

Ek het jou naam geken voordat ek jou ontmoet het. By hoeveel artikels en stories in tydskrifte het dit nie oor die jare heen verskyn nie? Later het jy vir Stefaans Coetzee gehelp om sy boek, Wit Wolf, te skryf. Jy het onder meer ook vir Mathys Roets en Hestrie Cloete gehelp om hul lewensverh­ale te skryf.

Jy was ’n onrusbaren­de deeglike joernalis en niefiksies­krywer. Ek sien jou by die tafel in jou skryfkamer sit, besig om elke woord van ’n klankopnam­e van ’n onderhoud wat jy met Neil Sandilands gevoer het, eers te transkribe­er voor jy die storie skryf. En dan was daar jou jeugboek, Deur die vuur, wat verlede jaar verskyn het. ’n Sagte kyk na stukkende, dapper mense en perde.

In die laaste ruk is jy deur jou eie vuur, Alita. Die kanker wou jou nie los nie, demmit, dit wou nie, daardie gesant van die dood. Jy het swaargekry, en die verdriet het De Wet met the speed of the sound of loneliness getref. En toe sterf jou ma, tannie Petro, ’n week gelede. Saterdagog­gend het ons saam Pretoria toe gery, na tannie Petro se begrafnis toe. Rudi wat jou die bakkie inhelp, Zigi wat blaf, en die rose in jou bedding pienk en rooi en wit.

By Milly’s anderkant Machadodor­p het ons stilgehou. Jy wou nie wegneemkof­fie hê nie. “Kan ek ’n roomys kry?” het jy gevra.

Toe ry ons verder, jy wat ’n bakkie Steersroom­ys eet, en Mozart oor die luidspeker­s, en herfsblare wat onder die bome langs die pad lê.

Gisteraand, jy op die bed in die huis van oom Cas, jou vader, rustig asof al die liefde wat jy oral uitgedeel het jou kalmeer.

De Wet op ’n stoel langs jou, jou hand in syne.

En toe De Wet se WhatsApp-boodskap vanoggend. > Foto: Verskaf/De Wet Potgieter

 ?? ?? Alita Steenkamp.
Alita Steenkamp.
 ?? ??

Newspapers in English

Newspapers from South Africa