Wenbrief Ek is jou mamma
My engelkind was my vyfde swangerskap. Ná vier miskrame, baie vrugbaarheidsbehandelings, hoop in die Here, kwaad wees vir die Here, weer bid en bid en beloftes maak, was ek uiteindelik swanger. Dié keer het ons dit tot 35 weke gemaak.
Ná ’n noodkeisersnee is ’n perfekte bondeltjie liefde in my arms geplaas en ek het dadelik gesien dat God vir ons ’n seuntjie gegee het wat soos ’n liggie in almal se harte gaan skyn. Ek het gedink ná al die seerkry sal ons pad vorentoe sonder struikelblokke wees.
Karel-Hendrik het albei sy oupas se name gekry. Sterk name, sterk mans, sterk erfenis. Hy het al sy mylpale normaal bereik, en ons was dus glad nie verras toe hy begin woordjies sê nie: “Mamma, Nanna, Dadda, bye-bye.”
Nooit sit ek die tyd opsy om daai soet woordjies te waardeer en te koester nie. Net voor sy tweede verjaardag begin ek onraad vermoed. My kind praat nie meer nie. Hy kan net klankies maak.
Outisme? Natuurlik is dit die logiese gevolgtrekking, maar iets in ons wil net nie saamstem nie. Ons is na sielkundiges, spraakterapeute, arbeidsterapeute, pediaters, neuroloë en alternatiewe terapie soos perdeterapie.
Ons haal Karel-Hendrik (nou 3) uit die kleuterskool, ek pas my lewe aan en doen tuisterapie en musiekterapie.
’n Outisme-diagnose begin ál onwaarskynliker lyk en spraak-apraksie ál waarskynliker. Die brein weet wat dit wil sê, maar sukkel om die nodige bewegings van die mond te beplan sodat die woorde kan uitkom. Dis ’n neurologiese toestand. My kind se intelligente ogies kyk soms hulpeloos na my as hy sukkel om te klank. My hart breek, my hart breek in ’n duisend skerwe vir my mooi kind, maar my kind is sterk. Hy hou aan probeer.
Intussen het die lewe ’n verrassingspakkie afgelewer, in die vorm van ’n boetie, Alexander (1).
Karel-Hendrik is gek oor sy boetie. Ek is bly as ek die liefde tussen hulle sien, maar hartseer as Alexander my oudste verbysteek met sinvolle klankies. Elke mylpaal met Alexander se spraak bring hartseer oor Karel-Hendrik se gesukkel.
Ons doen nou al ses maande lank intensiewe terapie en moes ’n klomp lewensveranderinge maak om dit te bekostig. Maar dis jou kind! Twee weke gelede staan ek in die kombuis en maak elke kombuiskas oop en dan weer toe. Karel-Hendrik soek iets, maar op alles wat ek gee, sê hy “eee”. Ek voel ek wil huil, want kan my kind nie net beter met sy vingertjie wys presies wat hy soek nie? Hy mors my tyd en ek het baie werk! Ek raak tranerig en hy gefrustreerd. Nadat hy sy voetjie so een stamp op die vloer gee sê hy mooi, duidelik en doelbewus vol frustrasie die mooiste woord in die hele wye wêreld: “mamma”!
Ek sak op my knieë neer. Al die werk is vergete, die wêreld kan vergaan. Ek en Karel-Hendrik het mekaar op die kombuisvloer vir die langste tyd vasgehou.
’n Woordjie! Ek is ’n mamma, jou mamma, my kind. Vir my kan dié woordjie wêrelde versit, oorloë wen, presidente vorm, gemeenskappe verander en liggies laat skyn! Dit is die mooiste woord. ’n Woord waarvoor elke mamma tyd opsy moet sit, wat sy moet koester en waarvoor sy dankbaar moet wees.
Sedertdien het hy nog een woordjie bygesit: too, uit Barney se liedjie “Won’t you say you love me too?”. Met elke probeerslag is dit asof hy die Springbokspan gehaal het!
Ons het nog ’n baie lang pad wat voorlê, maar my kind is sterk. Vir eers is ek sy mamma en sy stem.