Mamma se sterretjie
Vrydagmiddag,17:30: Die Mall
Dis die vooraand van ’n bedrywige naweek in die Evahuishouding. Ek en my oudste seuntjie hardloop teen ’n verwoede vaart die inkopiesentrum binne om die naaste apteek leeg te koop voor ons dalk die aand moet aandurf sonder pyn- en verkouestroop. Almal in die huishouding het ’n dreigende verkoue. Kleinboetie en Ouboet het albei ’n loopneus en dis nie ’n probleem waarmee enigiemand in die nag of oor ’n naweek wil sukkel nie.
Pappa wag geduldig met baba by die huis. Soos die noodlot dit wil hê, loop ons in ’n skare kennisse vas. Ek staan en luister na die opgewonde geselsies, en die laaste woorde wat vassteek is: “Ons gaan ’n hele aand net niks doen nie.”
Sjoe, dit klink salig. Intussen begin die foon lui, die kind word moeilik en ons groet mekaar hartlik. Ek moet spring, want daar is baie takies wat afgehandel moet word voor die volgende dag se ontbyt, markdag en Sondag-middagete. Ek hoor al die Sondagmiddag-voëltjies in die boom kwetter en sing in my verbeelding. Salig. Saterdag: 08:00 tot wie-weet-watter-tyd: markdag
Markdag is vol familie en vrinne (soos ouma sou sê), kennisse, vreemdelinge, potensiële vriende, vettes, maeres, kortes en langes en ook die ingekleurdes (dis nou die vrinne met tatoes). Almal kuier onder die boom in die teetuin. Kinders baljaar en die treintjie word voos gery. Sondagmiddag,15:30: Die Leefarea (daar waar ek die boom se voëltjies kan hoor sing)
So breek my Sondagmiddag uiteindelik aan. Alles het glad verloop en ek is tevrede. Ek sak neer op die vloer langs my 3½ jarige seuntjie (kleinboet vang ’n middagslapie) om te sien waarmee hy hom besig hou. Die alfabettrein-legkaart is die afgelope 24 uur al meer as 1 000 keer gebou. Manlief werskaf iewers op die werf, alles is heerlik rustig.
Ons sit en gesels sommer so lekker-lekker, ek en die mannetjiesmens van my. Ek haal ’n “doorne”(doring) uit sy skoen. Skielik kyk hy my vierkant in die oë: “Hou mamma se arms só, nee, soooo!” Hy tel my arms op en draai aan my pols. Ek moet my arms hoog oplig. Ek lyk soos ’n dominee of wildegans op pad om te storm. My arms word aandagtig bestudeer, en toe kom die vrae.
“Daar is doorne onder mamma se arms,” wys hy met ’n vingertjie. “Mamma moet hulle uittrek.” Ek bloos. “En waar is mamma se sterretjies?” Eers besef ek nie waarvan hy praat nie, maar toe tref dit my hy wil weet of ek nie dalk ook iewers ’n tatoeëermerk wegsteek nie!
Niks gaan ooit ongemerk by ’n 3½-jarige verby nie! Ek verseker hom dat ek nie sterretjies het nie, maar ek vang hom tog later weer besig met my pols, die donkerbruin bokkie-ogies besig om net vir oulaas doodseker te maak dat sy mamma nie tog iewers ’n ou sterretjie het nie!