Baba & Kleuter

Australië

-

Augustus 2012. Dit was toe alles begin het. Min het ons geweet dat so ’n klein gedagte – om te emigreer – so ’n groot invloed op ons lewe sou hê.

Ons kinders, Zian en Krizel, was nog klein. In daardie stadium het ons gevoel dat Suid-Afrika nie meer ’n veilige land is om hulle in groot te maak nie. Ons was seker daar wag vir hulle ’n blink toekoms elders.

Ná ambagstoet­se, Engels-toetse en vele mislukte aansoeke om werk het manlief Hardus uiteindeli­k ’n werkgeleen­theid in Perth, Australië, gekry.

Dinge het vinnig begin gebeur. Om al ons huisraad te verkoop was glad nie 'n maklike taak nie, veral nie as ’n mens se klein dogtertjie huil en sê: “Dis mamma s’n!” wanneer hulle die meubels by die deur uitdra nie.

Die laaste drie weke het ons by familie gebly en gegroet. Dit was moeilik, want aan die een kant is jy opgewonde oor die nuwe hoofstuk in jou lewe en aan die ander kant besef jy hoe moeilik dit gaan wees om so ver van jou geliefdes te wees en boonop spesiale geleenthed­e mis te loop.

Op 31 Maart 2013 het ons met ons hele lewe in vyf tasse en vier handbagasi­esakke op die lughawe gestaan.

Ná 'n nege uur lange vlug was ons veilig in ons nuwe land. Alles was vreemd – die winkels, die kos, die alledaagse dinge.

Goed wat ’n mens as vanselfspr­ekend aanvaar het, was skielik ’n uitdaging. Ons rande het dollars geword – dit was omtrent iets om aan gewoond te raak.

Zian moes skool toe omdat kinders hier in Australië baie vroeg met skool begin. Ons moes dus ’n skool gaan soek en ek was bang ons kies dalk nie die regte skool nie. Ons wou net die beste vir ons kinders hê en het gevrees dat hulle nie sou aanpas nie. Ek het egter vinnig geleer dat kinders baie makliker as volwassene­s aanpas.

Vir ’n Afrikaanse boerseuntj­ie wat skielik na ’n Engelse skool moes gaan, het Zian ons so verbaas. Die skole hier gee baie ondersteun­ing en hulp aan kinders wie se huistaal nie Engels is nie. Zian is nou in "Year 1" en Krizel in "Kindy".

Hulle het sommer vinnig maatjies gemaak.

Soms voel dit of ons met vakansie is, want hier is so baie om te sien en te doen. Die kinders geniet dit baie, veral omdat daar om elke hoek en draai ’n park is. Dit gee hulle meer vryheid om te speel sonder dat ek bang hoef te wees want ek weet hulle is veilig.

Australië is baie gesinsgeor­iënteerd en doen baie vir kinders. Daar is gereeld gratis feeste, gesigverf- en handwerkge­leenthede en alles waarvan kinders kan droom.

Australië het ons geleer om rustig te word, die lewe te geniet en nie deur die lewe te jaag nie. Dit is baie veilig hier – jy loer nie heeldag oor jou skouer nie. En dis heel normaal as jy dalk jou venster of deur oop vergeet.

Ons het by 'n Afrikaanse kerk aangesluit en vinnig Afrikaanse vriende gemaak, wat later soos ’n mens se familie word. Hulle ondersteun ons en ons vir hulle, want ons almal weet dit is soms maar moeilik om te emigreer.

Die verlange na vriende en familie in Suid-Afrika word soms erg en sal altyd daar wees, maar ons verruil ons nuwe land vir niks. As die verlange te kwaai word, gaan maak ons maar ’n draai by die Suid-Afrikaanse winkels en koop lekker mieliepap, of ons hou ’n braai met egte boerewors (nie ’n barbie soos die Aussies doen nie) en maak ook ons eie biltong.

In die jaar en amper agt maande wat ons al hier is, praat ons slegs Afrikaans in die huis, maar dit is verstommen­d om te hoor hoe ons ses- en vier-jarige al ’n Aussie-aksent het.

Emigrasie is beslis nie maklik nie. Ons het al baie trane gestort, maar danksy ’n wonderlike man, baie ondersteun­ing, gebed en geloof was dit die beste besluit ooit. Ons is waarlik geseën.

 ??  ?? Krizel (4), Die gesin op ’n roei-uitstappie. Van links is Zian (6), Karin (30) en Hardus (32).
Krizel (4), Die gesin op ’n roei-uitstappie. Van links is Zian (6), Karin (30) en Hardus (32).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa