Baba & Kleuter

Voel jy al die baba skop?

-

Met Hannah (2) het die nuuskierig­heid ons teen die mure uitgedryf. Ons moes eenvoudig weet! Ons het sommer van vroeg af na almal se goedbedoel­de menings begin luister. Is ek meer lus vir soet of sout, word my vel beter of slegter, dra ek vorentoe of agtertoe? (As dit daarvan afgehang het, het ek ’n tweeling verwag, want ek het oraloor ronder geword.)

Genadiglik was die wagtyd met Hannah nie te lank nie; sy het elke keer pragtig gelê en ons dokter kon op 12 weke voorspel dat daar ’n prinsessie op pad is.

Ons het al voor ons troue op name vir ons spruite besluit en lugkastele gebou rondom ons seuntjie en dogtertjie, oftewel Noah en Hannah. Ek het gedink die geslag van die tweede een, sou ons ooit so geseënd wees, sal my baie meer pla as dié van die eerste. Snaaks genoeg was ons albei rustig en het net saam gebid vir ’n gesonde bondeltjie.

Hierdie keer is die vrese van klop die hartjie by elke sonar groter as die behoefte om te weet wat tussen die beentjies aangaan. Ek het nog geen beweging gevoel nie, of liewer, ek dink nie so nie. Dis eintlik baie soos abstrakte kuns. Ek kan sê ek verstaan of sien wat die skilder bedoel, maar in my agterkop dink ek: “Wat? Regtig?” Net so is daar af en toe die gevoel van ’n vasgevangd­e skoenlappe­r, maar ek kan nie met sekerheid sê of dit nie dalk net my laaste ete is of spiere wat styf is weens ousus se wilde manewales bo-op en bo-oor my nie. Of was dit dalk klein voetjies wat bal skop?

In my eerste trimester het ’n verdwaalde toets gesê ek het Duitse masels – onverklaar­baar aangesien ek geen simptome gehad het nie. My immer geduldige en optimistie­se dokter het my verseker dat dit baie vroeg was en nie ’n uitwerking op die baba behoort te hê nie, maar dit, saam met my krapperige geskiedeni­s en ander faktore, het van my ’n emosionele stresbol gemaak.

Mettertyd kom daar egter ’n bietjie rustigheid.

Die oggend van my 16 weke-ondersoek het vriende en kliënte begin raai wat sou gebeur en die ondersteun­ing van almal het ons self opgewonde en nuuskierig gemaak oor die groot onthulling.

Sussie was by met die ondersoek en het gebabbel en geraas toe sy alles op die monitor sien. Die dokter het skaars ons klein pikkewyn raakgesien, of sy of hy draai om, vou die beentjies oormekaar en lê as of hy/sy betaal word. Die arme dokter het alles probeer; selfs ’n interne sonar, maar ons wonderwerk­ie was skaam en teruggetro­kke.

Ons kan net hoop dat die beskeie houding tot in die tienerjare gaan voortduur ...

Ons het dus steeds geen idee of dit ’n meneertjie of dametjie gaan wees nie. Ons is egter net verlig dat alles goed lyk en dat daar ’n sterk hartjie klop.

Ons wonder so stilweg of dit sussa se geraas is wat hom of haar selfbewus en versigtig maak. Kan dit wees dat sy al klaar haar kleinboet of -sus begin manipuleer? Gelukkig is daar altyd plek in ons hart vir albei.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa