Hoe vorder die babakamer?
Met elke week strek en rek my pensie. Ek lyk al meer soos ’n swanger vrou en nie net soos iemand wat die feestyd oordryf het nie. Dis asof sy skielik meer ruimte nodig het en met elke skop en strek van haar armpies en beentjies groei my magie.
Die skoppe is nou baie meer aktief en ek voel dit meer gereeld. Dis ook nou sterk genoeg dat Bruce dit kan voel en die groot opgewonde glimlag wat dit by hom ontlok, is vir my ongelooflik spesiaal. Sy is meestal in die aande bedrywig, veral as ek wil slaap en soms vang ’n harde skop my skoon onkant.
Die skeelhoofpyne kom nog gereeld, maar ek het ’n engel ontdek: Jessie van Nirvana Touch. Sy is ’n masseuse wat gekwalifiseerd is om swangerskapsmassering te doen.
En die beste van als … sy kom na jou toe! Ek hoef dus nie met my pyne en skete in die verkeer te sit en dan ná ’n ontspannende sessie weer die pad aan te durf nie. Nee, ek kan ná die massering sommer rustig op my bank neerval en verder ontspan. Die massering bring groot verligting en help inderdaad met my skeelhoofpyn en laerugpyn.
Ek besluit toe sommer ook om haar te vra om my bene ’n wasbehandeling te gee sodat ek nie meer hoef te sukkel om dubbel te vou om te skeer nie.
Noudat ek ’n bietjie beter voel en nie meer so aanhoudend opgooi soos tot op 20 weke nie, probeer ek by die gimnasium uitkom. As ek die krag het, gaan dit nie sleg nie, maar ek word maar vinnig moeg. Ek is glad nie so fiks soos ek was nie. Ek is nou een van daai mense wat jy sien en wonder of hulle weet hulle moet eintlik sweet om die vetjies te verbrand.
Ek sit en trap nou rustig. Ten minste is ek daar, of hoe? Ek kan net die helfte van die tyd teen die helfte van my gewone intensiteit oefen, want ek word te moeg en lighoofdig. Hoewel dit effens frustrerend is om so gou tam te voel, is dit ook baie terapeuties om die bene ’n bietjie te draai en te voel ek doen iets.
Ons stap ook elke naweek met die honde om die blok en dit is ook goeie oefening. Ek en Chelsea (ons Franse dashond) raak teen halfpad se kant ’n bietjie agter. Gelukkig kan ek haar blameer!
Ouma Ansie (my ma) het begin kóóp – sakke vol. Sy het al die dierbaarste goedjies vir poplap gekry, van handgehekelde rokkies tot die fraaiste denimpakkies, skoentjie, kombersies, O-lief-produkte en ’n pragtige doeksak, om maar net ’n paar te noem. Ma skakel juis nou die dag en vra of dit reg is met ons as sy die stootwaentjie koop. Ma, natuurlik is dit! Toe verras sy ons sommer met die karstoeltjie ook – een wat van geboorte tot kleuter kan pas. Dit was eintlik ’n groot verligting, want daar is deesdae honderde om van te kies en dis nogal oorweldigend. Natuurlik moet dit veilig en gemaklik wees, maar daarna? Kies jy volgens prys, naam, styl … of wat? Dit geld vir alles van doeke en tietiebottels tot die babamonitor. Ma kom toe tot ons redding. Dankie, ma!