Kuierkaskenades
Ek het hom amper geklap, sê my goed gemanierde vriendin Jenny, wat nooit eens hard praat nie. Maar sy is tot die uiterste beproef deur haar seuntjie se maat wat by haar dogter se verjaardagpartytjie was en ’n chaos gesaai het.
Hy het speelgoed met opset gebreek, sy vingers in die versiersuiker van die verjaardagkoek gedruk en wild rondgespring in die springkasteel waar hy jonger kinders omgestamp en selfs die verjaardagmeisie laat huil het.
Die kans is goed dat jy jou al in sulke situasies bevind het waar jy moes besluit of jy wil ingryp en die kind vasvat of op jou tande moet byt en die gedrag verduur.
Lank gelede was alles baie eenvoudiger. Die algemene bevolking van verantwoordelike volwassenes is toegelaat – dit is selfs van hulle verwag – om die algemene bevolking van kinders in toom te hou. As jy deesdae ’n kind betig, selfs net liggies, loop jy die gevaar om sy ouers aanstoot te gee.
Ek is van die ou skool. Solank dit sagkens gedoen word, gee ek nie om dat ’n ander ma my kinders aanspreek as hulle ’n bietjie wild raak nie. Ek verwag dit ook van haar om hulle te herinner om asseblief en dankie te sê, soos ek met haar kinders sou doen.
Michael Grose, ’n Australiese skrywer oor kinderopvoeding, stem saam. “Volwassenes moenie bang wees om ander kinders te konfronteer wat hulle nie gedra nie. Kinders moet leer om in verskeie omgewings met verskillende mense in te pas. Dit beteken dat mense wat nie hul ouers is nie, ook ’n sê het in hoe hulle hulle gedra. Volwassenes moet dus bereid wees om vir kinders te sê dat hul gedrag nie aanvaarbaar is nie.”