Tevrede HIER IN LONDEN
Grethe en Christiaan Bezuidenhout woon in Chislehurst, Londen en hul dogtertjies is daar in die verre Engeland gebore.
Soms verwys mense grappenderwys na Londen as nog ’n stad in Suid-Afrika. Ek is geneig om daarmee saam te stem. ’n Mens voel maklik tuis hier. Sport, tydsone, kultuur, bakens en ’n gedeelde geskiedenis laat dit voel of jy al voorheen hier was, al is dit die eerste keer dat jy op Heathrow land.
Nadat ons in 2003 klaar gestudeer het, het ek en Christiaan soos baie SuidAfrikaners destyds met ’n werkendevakansie-visum en 20 kg se bagasie na die Verenigde Koninkryk toe gekom. Vir ’n jaar. Of twee. Vandag, 12 jaar later, lyk die prentjie heel anders. Die tweejaarplan het in ’n oogwink 12 jaar geword en ons het twee klein, pragtige dogtertjies ryker geword. Ons praat net Afrikaans met hulle in die huis. Hulle leer Engels by die skool, vriende, TV en in die winkels.
Met ’n baba en kleuter in die huis is elke dag ’n uitdaging! Ek is gelukkig om ’n skoonsus hier naby te hê vir wie my kinders baie lief is en wat graag kom kuier om hand by te sit. Maar daar is geen ouma of oupa of betaalde hulp op wie se knoppie jy hier kan druk nie. Daarom is vriende en familie hier mekaar se ondersteuningsnetwerk. Daarsonder sou ek al lankal my tasse gepak het!
Heelparty Suid-Afrikaanse vriende is al terug SA toe, hoofsaaklik ter wille van die kinders, oupas en oumas, meer sonskyn en die vermoë om hulp in die huis te kan bekostig.
Die demografie van Suid-Afrikaners in Londen het oor 12 jaar ingrypend verander. Aanvanklik was daar meestal 20-jari- ges, maar sedert die werkendevakansievisums verdwyn het, is dit nou meestal dertigplussers met babas en kleuters.
My man verdien ’n enorme pluimpie – ondanks ’n stresvolle werk en lang ure is hy nooit onwillig om te help doeke ruil of kinders bad nie. Huis opruim en wasgoed was hou ons nederig (en besig)! Ek sou graag vir Mieta, ons geliefde huishulp, ’n eenrigting-vliegtuigkaartjie wou koop, besigheidsklas as dit moet, maar sy wou nie eens op ’n roltrap klim nie.
Daar is ook ’n Facebook-groep met die naam “Saffa moms in Great Britain”. Enige vraag waaraan jy kan dink word hier beantwoord, of dit nou raad is oor droëwors vir babas wat tande kry, blomaflewerings in Suid-Afrika vir ’n ouma se verjaardag, hoe om kleuters op mislike reënerige dae besig te hou of die nuutste lugredery of visumreëls. Dis ongelooflik om te sien hoe die Suid-Afrikaanse ma’s mekaar help en raad gee.
Kindersorg is duur. Bitter duur. En as jy dit met die huidige wisselkoers omskakel na Rand is dit genoeg om oor in trane uit te bars. My baba se kleuterskool kos £65 (sowat R1 170) per dag. Aan die ander kant het ons geen mediese uitgawes nie en nie een van die kinders se geboorte het ons ’n sent gekos nie. Die kinders kry ook van drie jaar oud af ’n maandelikse toelae by die staat.
Kinders begin al vroeg skoolgaan. Die skooljaar begin in September en skool is verpligtend vanaf die jaar waarin ’n kind vyf word. Dit beteken dat as jou kind in Augustus verjaar, hy in September net ná sy vierde verjaardag moet begin skoolgaan.
Dit is baie jonk en voel volksvreemd vir ons wat op ses skool toe is. Die skole is oor die algemeen kleiner as waaraan ons in Suid-Afrika gewoond is. Vir elke onderwyser is daar ook ’n TA ( teaching assistant) in elke klas.
In die winter sak die son skuins ná 16:00. Vir skoolgaande kinders is die dag dus kort.
Ek het al kouer gekry in Suid-Afrika aangesien hier verhitting in huise en winkels is. Die wintertemperatuur pla dus nie so erg nie.
’n Groter probleem is die nat weer. Groot binnenshuise speelplekke en verhitte swembaddens help om kinders in die winter besig te hou. Ma’s is oor die algemeen baie betrokke en as daar gegly word by ’n speelplek, gly jy saam!
Skole het ons gedwing om te integreer. Die Britte braai al lekker saam. My man kon selfs al ’n vegetariër oortuig om kaaswors te probeer – hy het drie stukke geëet!
Hulle lag as ons vragte houtskool koop voor dit in die winter uit seisoen is en verstom hulle as ons deur reën, koue of donker steeds ’n verskoning vind om ’n braaivleisvuur aan te steek.
Ons is deel van ’n Suid-Afrikaanse gemeente in Londen en ’n selgroep wat ons al deur hoogtepunte en hartseer hier in die buiteland gedra het. Die gemeente het ’n magdom kinders, iets wat 10 jaar gelede nie bestaan het nie. Daar is ’n voltydse Kids-bediening vir kinders van babas tot tieners.
Ons sal ons kinders eendag graag terug Suid-Afrika toe wil neem, maar Engeland was die afgelope 12 jaar goed vir ons en vir eers is dit huis.