Baba & Kleuter

BABA-BETOTTELD!

-

Ek kla by almal ek word oud, maar ek wil graag my swangerska­p en my tweejarige woelwater ook ’n bietjie skuld gee vir die vergeetagt­igheid en verstrooid­heid wat my tans teister. My studente, kliënte en familie lag as ek die sleutel op die snaaksste plekke neersit of halfpad deur ’n sin vergeet waaroor ek gepraat het.

Met ons eerste was ek geseënd dat die poedingbre­in nie te veel skade veroorsaak het nie, en elke keer as ’n swanger vriendin my vertel van karskade of items wat vir altyd verlore is in hierdie hoogs emosionele, verstandel­ik stadige tyd, het ek verlig gesug dat dit my darem nog gespaar gebly het.

Ongelukkig is dinge dié slag ’n bietjie anders …

Verlede week het ek my beursie en al my bankkaarte verlê (tot in die sak van ’n dief) en net toe ek dink die ongeluksvo­ël het noord gevlieg agter die somer aan, kom skop hy my nes weer eens deurmekaar.

Volgens statistiek is daar minstens 10 persent mense op aarde wat nie van jou sal hou nie – jy kan maak wat jy wil en hulle kan jou eenvoudig nie verdra nie. Al wat jy kan doen is om elke aand op jou knieë te gaan en te bid dat hierdie 10 persent in China woon en nie nabye familie of skoonfamil­ie is nie. Jy moet ook hard bid dat jy nooit in enigeen van dié 10 persent sal vasry terwyl jy aan swangerska­psgeheueve­rlies ly nie.

Duidelik het ek nie hard genoeg gebid nie en gisterogge­nd, vasgevang in my eie chaotiese wêreld, het ek per ongeluk in my aartsvyand vasgery. Dit was ’n piepklein stampie, maar sy was woedend verby en ek het nie geweet wat om te sê nie. Dit was sonder twyfel my skuld en ek het om verskoning gepleit maar haar wraak en woede het oorgeborre­l.

My veg-of-vlug-instink het ingeskop en aangesien ek nog nooit met haar wou baklei nie en nou nog minder wou, het ek gevlug. By die polisiesta­sie het ek begin krampe kry en die dag het net verder uitgerafel. Noodgevall­e was die volgende stilhouple­k en oor my selfoon was die versekerin­g klaar besig om te probeer red wat daar te redde is.

Ek kon nie my man, Hannes, in die hande kry nie en die trane het heeltyd gevloei. Ek moes kliënte angstig probeer rondskuif, studente rustig maak en deur die haat-SMS’e van die arme “slagoffer” sif. Ek was op.

Die krampe het erger geword en ek was oortuig dis die einde. Ek was baie dankbaar dat hierdie wonderwerk langer gehou het as die miskraam net ná Kersfees 2011, waar ons twee seuntjies verloor het, maar hartseer oor wat kon gewees het.

My dokter het spesiaal tyd gemaak om my ná sy vreeslike lang dag te sien en ek en manlief het asem opgehou terwyl hy die sonar doen. Kleinding het doodstil gelê en ons het albei net tranerig begin raak toe ons bondeltjie skielik woel. Nie net kon ons dit duidelik op die monitor sien nie, mamma kon dit ook voel. En om die silwer randjie om die stormagtig­e dag te verf kon ons wonderlike dokter ook vir ons die geslag vertel ...

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa