Baba & Kleuter

Eerste dae in hospitaal

Dit voel dalk nie so nie, maar in die eerste paar dae van jou baba se lewe is sy amper besiger as jy!

-

Soms fokus ons as nuwe ouers só op die groot kraamdag dat ons skoon van die paar dae daarna vergeet. Dinge daar in die hospitaal kan bedrywiger wees as wat jy jou ooit kon voorstel. Die meeste hospitale volg ná baba se geboorte gelukkig min of meer dieselfde prosedures as standaardp­raktyk.

Onthou net, as daar lewensbedr­eigende komplikasi­es voor, tydens of ná die geboorte vir jou of jou baba was, word daar natuurlik ’n heeltemal nuwe rigting ingeslaan as wat ons hieronder beskryf.

Eerste asemteug

Jou baba se asemhaling­refleks werk voluit minute ná ’n vaginale geboorte of keisersnee. In die baarmoeder het sy haar kos en suurstof van die plasenta via die naelstring gekry, maar nou moet sy self begin asemhaal, al is die naelstring nog nie afgebind nie. Die meeste moderne hospitale suig nie meer babas se neusies en keeltjies met ’n pypie skoon nie, hulle vee net die mondjie en neusie af sodra baba self gemaklik kan asemhaal.

Ná daardie eerste asemteug verander jou kleinding se velkleur van bloupers na rooi omdat suurstof vir die eerste keer van haar longetjies na die res van haar lyfie vloei en sy onafhankli­k begin funksionee­r.

Sodra sy rustig is en in haar nuwe omgewing gestabilis­eer het, verander haar velkleur na ’n gesonde pienk.

Naelstring se doel gedien

Direk ná die geboorte sal die dokter of vroedvrou jul babatjie op ma se bors neerlê met die naelstring nog aan die plasenta vas. Baba sal nat, effens verkreukel en opgekrul lê en belangrike vel-tot-velkontak maak met die mamma wat haar so lank in haar eie lyf beskerm en versorg het.

Pa sal die geleenthei­d kry om die naelstring te knip. Hy kan dié spesiale takie verrig terwyl baba op jou bors lê. Jul baba se naelstring word 2,5 cm van haar lyfie met ’n naelklem en 5 cm verder met ’n ander spesiale klem afgebind. As julle baba se stamselle wil bewaar, sal die dokter dit onttrek voor die naelstring geknip word. Lees gerus die artikel op bl. 42.

Pa of die dokter knip die naelstring dan tussen die twee klemme af. Die stukkie naelstring sal binne sewe tot 14 dae uitdroog en afval. Moenie daaraan trek of peuter nie. Hou die plekkie net skoon en droog tot dit genees het. Klad dit sagkens droog ná badtyd en wend ’n bietjie medisinale ontsmettin­gsmiddel met ’n oorstokkie aan. Raadpleeg liewer die klinieksus­ter as julle onseker is of die proses normaal verloop.

Die dokter sal bloed uit die naelstring trek om vas te stel of baba se bloedsuike­rvlak normaal is. Jou baba se bloedsuike­rvlak word drie keer ná die eerste toets weer getoets: drie uur ná geboorte, ses uur later en weer ses uur later. Babas met ’n te lae vlak wil nie goed suig nie, is slaperig en kan in ernstige gevalle selfs ophou asemhaal. Indien jou baba se bloedsuike­rvlak te laag is en sy nie wil drink nie, sal die personeel haar ’n klein byvoeding gee wat die vlak sal verhoog, gewoonlik met ’n spesiale lepeltjie of medisynedr­upper.

Eerste slukkies melk

In sommige kraaminrig­tings kan baba nog voor die naelstring geknip is of direk daarna al aan mamma se bors drink en kolostrum inkry, wat die eerste voedsame melk is voor borsmelk geprodusee­r word. Baba se suig- en reukreflek­s sal haar instinktie­f na jou tepel lei.

Die vroedvrou of kraamsuste­r sal jou baba met ’n handdoek toemaak sodat sy nie koud word nie en sowel ma as baba met ’n kombers bedek om te verseker dat baba se temperatuu­r konstant bly.

Baba se lyfie moet nou gewoond raak aan die temperatuu­r buite die warm en beskutte omgewing van die baarmoeder en sy moet haar eie temperatuu­r begin reguleer.

In sommige hospitale sal baba eers in die herstelkam­er (ná ’n keisersnee) of ná al die ander eerste toetse aan mamma drink.

Hoe lyk ’n nuwe mensie?

Jul baba sal waarskynli­k plek-plek nog bedek wees met ’n wit, vetterige stof wat haar velletjie in die nat omgewing van die baarmoeder beskerm het. Hierdie stof, wat die vernix caseosa genoem word, word afgeskei deur die oliekliere in die vel en bevat velskubbe en fyn haartjies. Dalk het sy nog fyn haartjies oor haar lyfie wat lanugo genoem word en haar ook in die baarmoeder beskerm. Dit is nie ’n teken dat julle baba harig gaan wees nie en gaan binne ’n paar weke verdwyn. Babas wat voor 40 weke gebore word, is geneig om meer lanugo te hê. Sommige babas se velletjies is droog, veral dié wat langer as 40 weke knus in die baarmoeder gelê het, en hul hande en voete kan in die eerste paar dae ver- vel. Dit is ’n normale aanpassing van die vogtige omgewing in die baarmoeder na die droër atmosfeer buite. Dit gaan ’n rukkie duur voor die porieë op jou baba se vel behoorlik werk en sweet- en oliekliere kan tydelik verstop, veral op haar neusie en die res van haar gesiggie. Dié wit “puisies” of milia sal self later verdwyn en moenie uitgedruk word nie. Sommige babas het perspienk vlekke op hul neus, ooglede, voorkop of agter hulle nek wat veral duidelik is wanneer hulle huil. Dis nie permanent nie, word ligter en verdwyn later. Ma se hormone het gedurende swangerska­p in baba se bloedstroo­m beland en dit is normaal dat seuntjies en meisies se borsies geswel voorkom. Die geswolle borsies (soms is daar selfs ’n melkerige afskeiding) sal plat word namate jou baba se liggaam die hormone uitskei. Geslagsdel­e vertoon proporsion­eel groot direk ná geboorte as gevolg van ma se hormone en dis ook normaal. Meisies kan selfs die eerste rukkie ’n vaginale afskeiding hê tot ma se hormone uitgewerk het. Babas se skedelnate is nog nie behoorlik geheg nie en daarom is daar bo-op en agter die koppie sagte plekkies wat mettertyd gaan toegroei. Die fontanel, soos dit genoem word, help baba om deur die geboorteka­naal te beweeg omdat die sagte skedelplat­e na mekaar toe kan skuif om die geboorte moontlik te maak. Sommige babas se kop is taamlik vervorm weens die drukking van die geboorteka­naal. Moenie bekommerd wees nie – die skedel sal vinnig normaal lyk. Dalk moes die dokter ’n suier, wat van silikoon en nie metaal gemaak is nie, gebruik het om jul nuwe baba die wêreld in te help. In so ’n geval sal daar dalk ’n perserige, verhewe kneusing agter die koppie wees. Dit is bloed wat tussen die kopvel en skedel vasgevang is en sal outomaties deur baba se lyf opgeneem word en verdwyn.

As ’n tang gebruik is, sal baba dalk merkies aan haar kop en gesig hê wat ook binne ’n paar dae nie meer sigbaar sal wees nie.

PUISIES, KNOPPE EN ’N VREEMDE KOPVORM WORD GOU NORMAAL.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa