Baba & Kleuter

Vreemde toevalle

-

Wanneer alles mooi verloop, besef ’n mens nie altyd hoe dankbaar jy moet wees vir alles wat jy het nie.

Ons was so bly toe ons uitvind dat ek vyf weke swanger is, want ek ken soveel vriendinne en familieled­e wat sukkel om swanger te raak.

Die swangerska­p het goed verloop, ek was nie siek nie en het nie te veel gewig aangesit nie – daar was net so ’n bietjie sooibrand hier teen die einde van my swangerska­p en ’n toe neus. Ek en my man het al twee op ’n dogtertjie gehoop.

En so seën die Here ons op 12 Desember 2013 met ’n pragtige, gesonde en stroopsoet babameisie­tjie: Marli Cillié, 2,7 kg swaar en 47 cm lank. Ek moet haar wakker maak om haar te voed. Sy slaap goed en slaap sommer al van twee maande af snags deur. Sy huil nooit, sukkel nie met winde nie en het eers van 10 weke af ’n proppie nodig as sy ’n bietjie kerm.

Op 2 September 2014 kontak die dagmoeder my in ’n toestand. Marli het ’n floute gehad. Twee dae later neem ons haar na die pediater. Hy ondersoek haar en kan niks verkeerds opspoor nie. Sy was seker net oormoeg.

Twee weke later gebeur dieselfde, maar die floute duur baie langer. Ons jaag met haar na die naaste dokter in ons klein dorpie. Die dokter ondersoek haar en kan niks vreemds opspoor nie. My man stel voor as dit weer gebeur, moet ons dit afneem sodat ons dit vir die dokters kan wys.

Dieselfde dag is ons op pad Johannesbu­rg toe om vir familie te gaan kuier. Daar aangekom wil ons gou vir Marli bad en versorg. Toe my man haar in die bad sit, kry sy ’n aanval. Wat ’n skok. En dis glad nie lekker om te beleef nie. My swaer het gelukkig reggestaan met sy selfoon en alles afgeneem. Net daar spring ons in die motor en haas ons ongevalle toe.

Marli word daardie aand in die hospitaal opgeneem. Ek slaap by haar daar, terwyl Daniel heen en weer ry om vir my klere en kos te bring.

Ná ’n moeilike nagrus is Marli halfses wakker. Sy drink so ’n bietjie, maar is huilerig en prikkelbaa­r. Net nadat sy gedrink het kry sy weer stuiptrekk­ings. Gelukkig is ons op die regte plek en die verpleegst­ers is dadelik daar om te help.

So begin al die toetse. Dit breek ons om te sien wat ons dogtertjie alles moet deurmaak. Ná vyf dae word sy ontslaan.

Marli neem nou medikasie en het nog nie weer ’n toeval gehad nie. Al die toetsuitsl­ae het teruggekom en daar is niks fout nie. Daar wys niks snaaks, vreemds of verkeerd nie. Sy moet nog steeds die medisyne neem om te keer dat sy weer ’n aanval kry.

My ma het altyd gesê jy weet nooit hoe kosbaar kinders is voor jy jou eie het nie. Hulle is so afhanklik van ons – en ek is so dankbaar vir ons klein wonderwerk­ie!

MARELIZÉ CILLIÉ

NEWCASTLE, KWAZULU-NATAL

 ??  ?? Marli Cillié (1) is nou weer hups ná haar onverklaar­bare toevalle.
Marli Cillié (1) is nou weer hups ná haar onverklaar­bare toevalle.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa