Baba & Kleuter

Seuntjies is maar so!

-

Ek het in ’n dogtertjie­huis grootgewor­d: taamlik besadig, hoewel my sussie van vyf jaar jonger die “wilde” een van ons twee was. Dus ken ek nie seuntjies nie. Ek weet niks van hulle af nie. Nie hul gewoontes nie, nie hul manier van dink nie, nie hul manier van doen nie.

Op 2 Mei 2014 word ek en my man Petrie verras (ons wou nie die geslag vooraf weet nie) en geseën met ’n gesonde, stewige bulletjie van 4,16 kg. Christie Joubert Botha kom vul ons lewe met baie nuwe uitdagings, maar met soveel vreugde dat ek soms wonder hoe ons geleef het voor hy gebore is.

Vandag is hy ’n regte Karooplaas­seuntjie. Hy gaan slaap saam met die hoenders en staan ook saam met hulle op. Die oop ruimtes is deel van sy DNS. Hy laat my vinnig weet as hy te lank in die huis rondgesit en speel het, en dan moet ons uit.

Christie is baie woelig en van stil sit wil hy nie veel weet nie. Maar almal sê dis normaal: “Seuntjies is maar so.”

Wanneer hy aan my vat dan vat hy hard, maar almal sê: “Seuntjies is maar so.”

Hy hou van rof speel met sy pappa en hou minder van sy juffrou-mamma se lessies om hom kleure en vorms te leer. Maar almal sê: “Seuntjies is maar so.”

Soos julle kan agterkom is ek heel uit my gemaksone. Party dae weet ek nie of ek kom of gaan nie. Tussen al my tuisblymam­ma-takies en seuntjie grootmaak, vergeet ek soms van my eie behoeftes. Maar … Wanneer hy in my arms lê en stip na my kyk met sy donkerbrui­n ogies, is ek ín my gemaksone.

Wanneer hy roep: “ma-ma, ma-ma!”, is ek ín my gemaksone.

Wanneer ek langs hom op die bed lê en hy sy handjie op my borskas sit en so aan die slaap raak, is ek ín my gemaksone en hoor ek my eie hart eggo:

“Weet jy, Anneke, seuntjies is maar so!”

ANNEKE BOTHA

MIDDELBURG, OOS-KAAP

 ??  ?? Christie Botha (8 maande) is ’n regte plaasseunt­jie.
Christie Botha (8 maande) is ’n regte plaasseunt­jie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa