Baba & Kleuter

Oeps, het ek dit regtig gedoen?

-

“Heel in gedagte het ek ’n slag vir die sekuriteit­swag by die werk ’n soen geblaas pleks daarvan om te waai soos ek altyd doen.” – Lauren Berrington, ma van Sophie

“Ek moes my motor by die paneelklop­per gaan haal. Terwyl ek daar rondloop en my motor (wat op ’n hyser was) ondersoek, kon ek voel dat almal na my staar. Toe ek gaan sit om vir my kar te wag, besef ek eers dat ek neonblou pantoffels met plas-tiekhartji­es dra.” – Cindy Gibson, ma van Chloe en swanger met baba nommer twee

“Met my eerste swangerska­p het ek twee verskillen­de skoene werk toe aangetrek en dit nie eens agtergekom tot ’n vriendin dit uitgewys het nie. Met my tweede swangerska­p het ek ongelukkig groot skade gehad toe ek agteruit in die lamppaal voor ons huis vasgery het!” – Liesel Schulze, ma van Ingrid en Gustav

“Ek het een dag ’n vergaderin­g by ’n klein winkelsent­rum bygewoon. Toe ek terugstap na my motor toe, wou die sleutel se afstandbeh­eerder nie die motor oopsluit nie. Ek druk en druk en niks gebeur nie. Nadat ek my man in ’n belangrike vergaderin­g – en so ampertjies die AA ook – gebel het, besluit ek om maar vinnig ’n draaitjie te loop terwyl ek wag dat iemand my kom red. Op pad terug van die badkamer af na my kar toe besef ek toe dat ek die hele tyd besig was om aan die verkeerde motor te torring, een wat net soos myne lyk. Ek het nie eens besef dat ek by die verkeerde motor staan nie. Die mense wat daar naby in die koffiewink­el gesit het, het seker lekker vir my giggel!” – Jolindie Smith, ma van Michaela

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa