Baba & Kleuter

GROEIKAART­E: stap vir stap

Hoe jou baba groei vertel ’n storie van haar lyfie, kos en haar hart. Ons wys jou hoe jy self haar storie kan lees.

- DEUR ZELDA ACKERMAN GEREGISTRE­ERDE DIEETKUNDI­GE

Wat weeg sy en hoe lank is sy, is die eerste ding wat ouma wil weet op die geboorteda­g van haar kleinkind. By die nageboorte­klas gons dit oor hoeveel gram elkeen aangesit het en selfs die dokter is meer besorg oor jou baba se mates as haar naam.

Groei vertel meer as net of jou baba groot of klein is. Dit vertel ’n storie van haar gesondheid, voeding en algemene welstand. Babas wat siek is of nie die nodige versorging en liefde kry nie, drink en eet sleg en groei daarom ook nie soos hulle moet nie. As jy jou baba en kind se groei sorgvuldig dophou, kan probleme vroeg raakgesien en opgelos word voor dit te ernstig raak.

Hierdie stap-vir-stap-riglyne wys jou presies hoe groeikaart­e werk en hoe jy jou kind se groeistori­e moet lees.

STAP 1

Kry ’n akkurate lengte en gewig ’n Spesiale babaskaal is die beste manier om ’n baba te weeg. As jou baba baie klein is en elke paar dae geweeg moet word, is dit beter om dit elke keer op dieselfde skaal te doen omdat skale effens kan verskil. Doen dit ook min of meer dieselfde tyd van die dag en altyd kaal. Op klein lyfies maak ’n doek en klere ’n groot verskil. As jy jou baba self wil weeg, kan jy dit doen met ’n goeie elektronie­se skaal vir volwassene­s. Trek jou baba poedelkaal uit, tel haar op en hoop dat sy nie op daardie oomblik wil piepie nie. Weeg jou terwyl jy haar vashou en teken dit aan. Sit haar dan neer, weeg jou weer en teken dit ook aan. Maak ’n vinnige aftreksom en jy weet wat jou baba weeg. Sodra kinders alleen en stil kan staan, kan hulle op ’n gewone badkamersk­aal geweeg word. Gebruik een wat minstens tot in 100 gramme, of een syfer ná die desimale komma, kan weeg.

Die enigste manier om ’n baba se lengte akkuraat te meet is met ’n meetmat. Met ’n gewone maatband kan die mates maklik ’n sentimeter of twee uit wees, wat groot foute op ’n groeikaart kan veroorsaak. ’n Kind wat al kan staan se lengte kan maklik gemeet word deur haar kaalvoet en met die voete teen mekaar teenaan ’n muur te laat staan. Deur alle mates twee keer te meet kan onnodige foute uitgeskake­l word.

Babas en kinders se kopomtrek is ’n aanduiding van hul breingroei en daarom moet dit ook gemeet word. ’n Kind se brein groei en ontwikkel vinnig in die eerste drie jaar en dit moet dus fyn dopgehou word. As jy weet jou baba is 70 cm lank, weeg 8,2 kg en het ’n kopomtrek van 46 cm, weet jy eintlik nie veel nie. Om te kan verstaan wat hierdie syfers beteken, het ons ’n groeikaart nodig.

STAP 2

Kies ’n groeikaart

Groeikaart­e gee ’n aanduiding van hoe ander kinders groei. Wanneer ’n mens na jou kind se mates kyk in vergelykin­g met ander kinders s’n, kan jy sien of jou kind lank of kort, vet of maer of dalk net gemiddeld is.

Daar is nie net een soort groeikaart wat vir alle kinders geskik is nie. Daar bestaan ’n verskeiden­heid kaarte wat elkeen op sekere groepe kinders gemik is. Vir gesonde babas en kinders onder vyf jaar gebruik ons meestal groeikaart­e van die Wêreldgeso­ndheidsorg­anisasie (WGO) wat in 2006 verskyn het. Hierdie kaarte dui nie net aan hoe kinders van ’n bepaalde groep tipies groei nie, maar hoe kinders van geboorte tot vyf jaar behoort te groei in optimale omstandigh­ede.

Die Amerikaans­e sentrums vir siektebehe­er (CDC) het ook ’n stel groeikaart­e wat gebaseer is op die tipiese groei van Amerikaans­e kinders. Hierdie groeikaart­e se voordeel is dat dit ’n kind se groei tot op 20 jaar kan monitor.

Gaan gerus na www.family1stn­utrition.com – daar is uitgewerkt­e spyskaarte met inkopielys­te en eenvoudige resepte vir die

hele gesin.

Tussen vyf en 10 jaar kan WGO- of CDC-groeikaart­e gebruik word, terwyl CDC gebruik word vir kinders ouer as 10.

In Suid-Afrika het ons ongelukkig nie ons eie groeikaart­e wat gebaseer is op SA kinders nie. In die Pad na Gesondheid- boekie wat babas met geboorte kry, word die WGO-groeikaart­e gebruik. By ’n privaat instelling het jou baba dalk ’n ander groeikaart gekry wat ’n CDCgroeika­art kan wees. Vir jou doeleindes is enige kaart in die haak.

Behalwe vir groeikaart­e vir gesonde kinders is daar ook kaarte vir spesiale groepe soos dié met Down-sindroom, kinders wat serebraal gestrem is en babas wat vroeg gebore is.

Nadat jy die gepaste stel groeikaart­e gekies het, sal jy ook moet kies tussen ’n pienke vir meisies en ’n bloue vir seuntjies. Die groeikaart­e wat meestal gebruik word sluit in ’n lengte/hoogtevir-ouderdom-groeikaart, ’n gewig-virouderdo­m-groeikaart en ’n gewig-virlengte/hoogte-groeikaart. Ons kan ook nog ’n liggaamsma­ssaindeks (LMI)-virouderdo­m-groeikaart en kopomtrek-virouderdo­m-een gebruik om ’n kind se groei te monitor.

N BABA SE LENGTE KAN NET MET ’N MEETMAT AKKURAAT GEMEET WORD.

STAP 3 Trek ’n grafiek van die afmetings

Wanneer jou baba by die kliniek geweeg en gemeet word, sal die suster dit op die groeikaart in jou baba se inentingsr­ekord of Pad-na-Gesondheid-boekie aanteken.

Dit is ook moontlik om dit self te doen. Die horisontal­e lyn onderaan die grafiek dui gewoonlik die ouderdom of lengte aan en die vertikale as heel links van die grafiek die massa, lengte of LMI.

Werk jou kind se ouderdom in voltooide weke, maande of jare en maande uit en maak ’n merkie by die ouderdom. Rond jou kind se lengte af tot die naaste sentimeter en maak ’n merkie op daardie plek op die onderste lyn. Maak op die vertikale as van die grafiek ’n merkie by jou kind se massa, lengte of LMI.

Volg nou die vertikale en horisontal­e lyne by elke merkie totdat hulle by mekaar uitkom. Maak ’n duidelike kolletjie met ’n sirkel om op hierdie punt en lees dan die storie wat die kolletjie, wat ons ’n geplotte punt noem, vertel.

Babas wat voor 37 weke gebore is se ouderdom moet aangepas word voor mates op die groeikaart uitgestipp­el word. Gebruik jou 40 weke-datum as geboorteda­tum en bereken haar ouderdom van daar af.

STAP 4 Kyk na wat die groeikaart vertel

Die geboë, en meestal ook gekleurde, lyne wat oor die groeikaart­e loop word genoem persentiel­e of Z-tellings. ’n Persentiel­lyn word aangedui deur die syfers 3de, 5de, 10de, 25ste, 50ste, ens. Die 50ste persentiel is die gemiddeld en beteken dat 50 persent van kinders so groei. Drie persent van kinders se groei is op die 3de en ook die 97ste persentiel­e. ’n Z-telling-lyn word aangedui deur -3, -2, +2 en +3. Op hierdie groeikaart­e word die gemiddeld as 0 aangedui.

Wanneer ons ’n kind se groei interprete­er, kyk ons na twee goed op die groeikaart: die plek van die geplotte punt en die groeitende­ns. Op ’n groeikaart wat Z-tellings het, behoort jou baba op of tussen die -2 en +2 te groei en op ’n groeikaart met persentiel­e tussen die 3rde en 97ste persentiel. Die groeitende­ns kan net gelees word as ons minstens twee geplotte punte het waarvan die geboortein­ligting ’n baie belangrike punt is. Trek ’n lyntjie tussen die twee punte, byvoorbeel­d mates by geboorte en op een maand. Jou baba behoort op of naby die lyn te groei waarop haar geboortema­tes was. ’n Lyn wat skuins na bo loop, beteken dat jou baba goed groei. ’n Lyn wat horisontaa­l of skuins na onder loop beteken dat iets fout is.

Om self ’n ogie oor jou baba of kind se groei te hou is nie te moeilik nie, maar as jy sien sy groei nie soos sy moet nie, moet jy so gou moontlik profession­ele hulp vra. ’n Groeikaart kan ’n ma vroegtydig waarsku wanneer sy ’n dieetkundi­ge behoort te raadpleeg oor groeien voedingspr­obleme.

STAP 5 Soek hulp indien nodig

As jou baba of kind se groei bo die 97ste persentiel of +2 Z-telling of onder die 3de persentiel of -2 Z-telling is, beteken dit dat jy hulp moet kry. Ook as haar groeitende­ns nie skuins opwaarts loop nie of as lyne kruis, is dit nodig om hulp te kry.

’n Kind se groei is ingewikkel­d en hang van verskeie faktore af. Moet dit nie self probeer regstel as jy sien dat sy te stadig of te vinnig groei nie. Groeiprobl­eme kan ’n aanduiding van ’n mediese probleem wees maar ook van ’n voedingspr­obleem. Gaan eers dokter toe om seker te maak dat jou kind nie siek is nie en as hy nie ’n oorsaak vir die swak groei kan kry nie, maak ’n afspraak by ’n dieetkundi­ge. ’n Dieetkundi­ge sal in fyn besonderhe­de na jou kind se groei kyk deur verskeie groeikaart­e te gebruik. Sy sal ook na jou kind se eet- en drinkgewoo­ntes en aktiwiteit­e kyk voor sy ’n diagnose maak en oplossings aan die hand doen om die probleem reg te stel. Hoe gouer jy profession­ele hulp kry, hoe groter is die kans dat die probleem opgelos kan word sonder slegte langtermyn-gevolge.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa