Baba & Kleuter

Baba in beheer

-

’n Babagesent­reerde roetine behels gewoonlik dat ouers heeltemal op die baba fokus. Geen roetine word gevolg nie en jy versorg jou kleinding na gelang van die boodskappe wat sy vir jou stuur oor honger, moegheid en speelgeree­dheid, sê Inamarie. Ouers kyk dus of baba haar handjies suig want dan is sy honger, en of sy haar ogies vryf en moeilik word, want dan is sy moeg.

“Dié benadering kan net werk as jy baie ingestel is op jou baba se gedrag en weet dat jy al die tekens reg interprete­er,” waarsku Inamarie.

MOONTLIKE VOORDELE

Albei ouers en baba het baie meer vryheid as dit kom by slaap- en voedingsty­e, wat die druk op jou kan verlig, sê Inamarie. Sommige mense meen dat ’n babagesent­reerde benadering ’n hegter band tussen ouers en baba verseker. Hierdie babas kan dikwels makliker op vreemde plekke en ongereelde tye slaap.

MOONTLIKE NADELE

As jy ’n baba met ’n lae geboortege­wig los om verder te slaap en haar nie wakker maak vir voedings nie, kan haar bloedsuike­r te laag daal en kan selfs ’n koma volg, waarsku Ida. As daar geen roetine of patroon is nie kan dit moeilik wees om te bepaal of jou kleinding honger, moeg, ongemaklik of verveeld is wanneer sy lastig raak, sê Inamarie. “Dit kos ’n geruime tyd voor jy jou baba se tekens van moegheid en honger leer ken.” Ouers kan die baba se vertroosti­ngsbehoeft­e met honger verwar.

“Babas se natuurlike refleks is om te suig, maar hulle suig nie altyd omdat hulle honger is nie,” verduideli­k Ida. “Soms soek hulle net vertroosti­ng en kan ’n fopspeen werk. As jy die baba se roetine volg, gaan sy elke uur wil suig. As die mamma dit as voedingsty­d interprete­er en die bors aanbied, drink die baba elke uur net ’n kort rukkie en los weer. Die baba kry dan eintlik net voormelk in, wat nie so sterk is nie.” Dit kan geweldig uitputtend raak as die baba maande lank gereeld in die nag wakker word, veral as jy weer moet gaan werk.

“As jy jou baba toelaat om jou te lei, gaan sy nooit deurslaap nie, sê Ida. “Jy moet haar lei en dan val sy later self in daardie roetine.” As ouers so ’n streng babagesent­reerde program volg, word dit byna onmoontlik vir enigiemand anders om na die kleinding om te sien omdat sy dikwels net deur mamma getroos of aan die slaap gemaak kan word – veral as sy boonop borsvoedin­g nodig het om rustig te word. Hierdie opsie is dikwels uitmergele­nd vir ma’s. As die baba haar eie roetine volg, kry jy nie soveel rus nie, want daar is nie ’n vaste patroon waarvolgen­s jy kan beplan nie.

“Dit is gewoonlik hierdie ma wat voel sy is nie ’n goeie ma nie en kan nie meer nie, want sy is oormoeg as gevolg van te min slaap. Dit is dan dat nageboorte­like depressie ’n vastrapple­k kry,” sê Ida. Jy kan in ’n situasie beland waar jy onophoudel­ik aan die voed is. As jy elke keer jou bors aanbied wanneer baba huil of wil suig, gaan jy niks anders gedoen kry nie, sê Ida. Babas met hierdie roetine kan sukkel om hulle self te troos en soms oorgestimu­leer raak.

“Jou baba gee tekens as sy moeg en oorgestimu­leer is. As jy dit vinnig kan interprete­er en jou baba nog in gelukkige wakker tyd kan neersit om aan die slaap te raak, is dit nie ’n probleem om haar aan die slaap te kry nie. Maar as jy te lank wag dat sy wys sy is vaak, gaan jy sukkel om haar aan die slaap te kry.”

VIR WIE KAN DIT WERK?

Ouers wat glo aan hegtingsou­erskap en wat baie fyn ingestel is op hul baba se lyftaal en nieverbale kommunikas­ie, kan baat by ’n babagesent­reerde roetine.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa