Baba & Kleuter

Die waarheid OOR JOK

Kinders is tog so onskuldig ... maar hoor nou net hoe jok jou rakker! Is dit normaal?

- DEUR NIA VISAGIE

Kluitjies bak is ’n normale deel van grootword. Tog moet jou kind leer dat eerlikheid belangrik is. Hoe gaan jy dus te werk om die boodskap tuis te bring dat liegstorie­s verkeerd is?

“Dis nie ek wat op die muur geskryf het nie; dit was sussie,” jok jou kind sonder om te blik of te bloos. Jý weet en sý weet dat dit nie sussie was nie, want sussie is ses maande oud, maar jou vyfjarige hou by haar storie. Jou redenasies help niks en jy voel skielik soos ’n mislukte ouer, want hoe kan jou kind so staan en lieg terwyl jy nog altyd beklemtoon het hoe belangrik eerlikheid is? Sê nou dit word ’n gewoonte?

Wees gerus, byna alle kinders jok die een of ander tyd vir hul ouers, maats of onderwyser­s. Die rede is meestal om hulself te beskerm of om straf vry te spring, veral as hul ouers nogal kwaai is. Kinders wat gereeld sien hoe die volwassene­s om hulle leuens vertel, sal ook meer geneig wees om self te lieg.

Wat sê ’n mens dus aan die klein muurkunste­naar wat alle aandadighe­id ontken? Wees baie versigtig om nie aggressief of beskuldige­nd te wees nie, want dit sal jou kind net die leuen verder laat aandik om haar saak te versterk. Om by ’n bekentenis uit te kom, gaan jy verby die leuen moet kom sodat julle kan praat oor wat aanleiding gegee het tot die leuen. Dit kan net gebeur as jy kalm bly.

As jy vir jou kind sê jy gaan haar straf weens die leuen, gaan sy dink sy word gestraf omdat sy uitgevang is. Volgende keer gaan sy net slimmer lieg om seker te maak sy word nie uitgevang nie.

Verduideli­k eerder hoe jy oor die leuen voel. Sê dat jy seergemaak voel daaroor, en dat dit jou omkrap dat sy haar sussie in die moeilikhei­d wil bring en haar dus ook seergemaak het. Wanneer jy klem lê op die uitwerking van die leuen op ander mense, help dit veel meer om die kind se morele waardes te vestig.

As jou kind gereeld leuens vertel, moet jy mooi let op jou eie taalgebrui­k. Moenie vrae vra wat haar die kans gee om te jok nie. Gestel jy sien die sjokolade is weg en daar is sjokolade op haar gesig. Moenie vra of sy dit geëet het nie (jy weet mos sy het), want sy gaan dan jok om uit die moeilikhei­d te kom. Sê eerder net “ek is teleurgest­eld dat jy die sjokolade geëet het sonder om daarvoor te vra”.

Moet ook nie hamer op die blaam nie, maar soek eerder ’n oplossing. “Wat ook al gebeur het, die lamp is nou stukkend. Wat gaan ons daaromtren­t doen?”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa