IS SY REG VIR GRAAD 1?
Wil jy jou kind in haar gr. R-jaar laat evalueer? Dís waar jy aanklop, verkieslik tussen nou en einde Julie.
Die gesaghebbenste persoon om skoolgereedheidtoetse te doen, is ‘n opvoedkundige sielkundige, meen die opvoedingskundige dr. Melodie de Jager.
“Hulle is opgelei om gestandaardiseerde skoolgereedheidstoetse af te neem wat spesifiek vir ons reënboognasie ontwikkel is,” sê sy. Dit is ook net ’n gekwalifiseerde en geregistreerde opvoedkundige sielkundige wat die nodige dokumentasie kan voorsien indien: ekstra steun van ’n skool verlang word, ’n kind in ’n leerondersteuningsklas geplaas moet word, of ’n kind eers die jaar waarin hy agt word, graad 1 toe sal gaan. “Ander terapeute soos fisioterapeute, arbeidsterapeute, spraakterapeute en maatskaplike werkers is opgelei om ondersteunende inligting en verslae saam te stel,” sê Melodie.
Hier volg ’n verwerkte uittreksel uit haar boek Leergereed,skoolgereed oor wat die skoolgereedheidstoetse behels. Hierdie toets is ’n gestandaardiseerde skoolgereedheidsinstrument wat in al 11 landstale beskikbaar is. Die toets mag volgens die toetshandleiding afgeneem word deur onderwysers wat in die afneem van die toets opgelei is, mits hulle streng by die voorskrifte hou en nie die toetsboekies fotostateer nie. Dus kan ’n juffrou wat opgelei is in die gebruik van die Aanlegtoets vir Skoolbeginners hierdie skoolgereedheidstoets self met groepe kinders afneem.
Dit maak die afneem van die toets bekostigbaar en Juffrou kan duidelik sien hoe funksioneer ’n voorskoolse kleuter in ’n groep in toetsomstandighede. Die nadeel is dat dit net ’n kognitiewe toets is en dus word fisieke, emosionele en sosiale ontwikkeling nie geëvalueer nie.
Daar is mense wat meen dat die ASB ’n ou toets en dus ’n ongeldige instrument is. Wanneer jy dit oorweeg, moet jy jou afvra of kleuters steeds die volgende vaardighede nodig het:
WAARNEMING
Met hierdie toets word beoog om visuele waarnemingsvermoë te bepaal. Klem word gelê op analitiese waarneming en die vermoë om ooreenkomste en verskille tussen prentjies raak te sien. Hierdie vermoë is noodsaaklik vir lees- en skryfvaardigheid.
RUIMTELIK
Dié toets meet die vermoë van ’n kind om ’n prentjie op ’n bepaalde manier in die verbeelding te roteer. Daar word algemeen aanvaar dat visualisering en ruimtelike oriëntasie noodsaaklike primêre vermoëns vir sukses op skool is.
REDENERING
Hierdie toets meet begripsvorming, logiese denke en die vermoë om te klassifiseer. Aangesien begrip en logiese denke belangrike aspekte van die leerproses is, behoort die toets sukses in die skool te kan voorspel.
NUMERIES
Die toets gee ’n aanduiding van telvermoë en hoeveelheids-, verhoudings- en getalbegrip. Verbale begrip, logiese denke en konsentrasievermoë speel ook ’n rol. Al hierdie eienskappe is belangrik vir suksesvolle vordering op skool, veral in wiskunde.
KOÖRDINASIE
Daar word met hierdie toets beoog om die motoriese vaardigheid van die kind te evalueer. Die toets gee ’n aanduiding van die kind se motoriese rypheid en vaardigheid met die hantering van potlood en papier, wat by skryfonderrig noodsaaklik is. Onvermoë om in die toets te presteer, kan moontlik op toekomstige skryfprobleme dui.
GESTALT
Gestalt verwys na fisieke strukture, fisiologiese en sielkundige funksies of simboliese eenhede. Die volgende verstandsprosesse word by die uitvoer van die toets betrek: die vermoë om eenvoudige figure korrek na te trek – en daarvoor is die kind se waarneming van ’n “gestalt” van groot belang – asook om die posisie van horisontale, vertikale, skuins en geboë lyne ten opsigte van die kolletjies te kan waarneem en natrek. Dit is belangrik met die oog op skryf- en leesonderrig. Oplettendheid, konsentrasie en die afwesigheid van voorgrond-agtergrondverwarring is ook noodsaaklik vir sukses in die toets. Motoriese vaardigheid speel ook ’n rol.
GEHEUE
Die nie-intensionele visuele geheue van die kind word getoets. In die beginjare van die kind se skoolloopbaan is hy vir suksesvolle vordering in ’n aansienlike mate ook op sy visuele geheue aangewys.
VERBALE BEGRIP
Hierdie toets meet die vermoë om dit wat gehoor word, te begryp; dit wil sê om die betekenis van ’n woord in sinsverband te verstaan. Die begryp of verstaan van gesproke woorde is ’n baie belangrike voorwaarde vir taalontwikkeling en ’n belangrike faktor wat die kind se potensiaal vir die hantering van akademiese take bepaal.